Plant jou eie inheemse apteek*
(* Maar moenie self apteker speel nie)
Jou tuin is ’n werk-, speel-, kuier- en asemskepplek – en met dié 10 inheemse medisinale plante kan dit ook ’n apteek vol lewende boererate wees. Los tog net die medisynevoorskrifte vir die kenners...
Het jy geweet nagenoeg 60% van die wêreldbevolking maak steeds staat op outydse “boererate” en medisinale plante om enigiets van alledaagse kwinte en kwale tot ernstige siektes te verlig of genees? Dié syfer (wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie uitgereik is) tesame met die verbysterende vooruitgang van nywerhede en die landboubedryf is die hoofredes waarom die natuurlike habitat van medisinale plante wêreldwyd onder druk is en waarom dit van kardinale belang is om hierdie plante volhoubaar te verbou en gebruik.
’n Spesiale medisinale afdeling in jou tuin is ’n goeie begin, maar ongelukkig – of is dit gelukkig? – laat Moeder Natuur haar nie altyd voorskryf wanneer dit by die aanplant van medisinale plante kom nie. Nietemin sal kennis oor die verskillende faktore wat ’n rol kan speel in die sterkte van die aktiewe bestanddele (en hoe en watter dele van die plante gebruik moet word) jou hopelik inspireer om met meer insig in die grond te woel.
Van ‘kwaksalwery’ tot nou
Plantmedisyne is die oudste genesingstelsel waarvan rekords bestaan, en sowat 50 000 plante wat al eeue lank vir dié doel gebruik word, is vandag nog net so in aanvraag. Heelwat moderne medisyne berus op die aktiewe bestanddele wat natuurlik in sekere plante voorkom: Aspirien is byvoorbeeld oorspronklik van wilgerbas gemaak en die waarde van (dodelik giftige) vingerhoedjies ( Digitalis, in Engels bekend as foxgloves), is “ontdek” deur sieketroosters en monnike wat dit donkiejare terug al gebruik het om mense met hartkwale te help.
Van die eerste vrae wat opduik wanneer ’n mens aan die medisinale gebruik van plante dink, is hoe en hoekom dit werk. Hoe het ons voorouers en ander inheemse stamme en volke reg oor die wêreld honderde of selfs duisende jare gelede geweet watter blaar, bossie, bas, blom of wortel is veilig en doeltreffend om te gebruik – die een deel van ’n plant kan immers skadeloos wees en ’n ander deel uiters giftig? En wanneer – en hoekom – het moderne mense dan hierdie “intuïtiewe” kennis verloor?
Omdat boererate gegrond is op oorlewering, waarneming, ondervinding, mites, godsdiens en selfs toorkuns, is ’n volgende logiese vraag hoeveel van dié ou rate sommer kwaksalwery is...
Eerstens is dit belangrik om te onthou dat kennis oor die tradisionele gebruike van plante oor geslagte heen deur stories en prentjies oorgedra is aangesien ’n beperkte aantal mense geletterd was. Assosiasies was ’n logiese manier om die gebruike van spesifieke plante te verstaan en onthou.
Vroue het meestal die beste kennis en ervaring van medisinale plante gehad omdat hulle meer tyd in die veld deurgebring het, maar omdat dit ongehoord was vir die vroulike geslag om te lees en skryf, het die mans aangeteken wat die vroue vertel het – dit is een van die redes waarom kruiedokters deur die eeue heen meestal manlik was! >
Nog ’n interessante waarneming is die sogenaamde “Doctrine of Signatures” wat beweer die voorkoms van die plant herinner aan die siekte of orgaan waarvoor dit potensieel doeltreffend kan wees. Dié omstrede konsep is eerste beskryf deur die Engelse botanis William Coles in sy boek Adam in Eden, wat reeds in 1657 gepubliseer is.
Hoewel die gedagte deur wetenskaplikes verwerp is as toordery en bygeloof, is sekere van Coles se idees tog besig om die toets van tyd te deurstaan. Een voorbeeld is die okkerneut ( Juglans regia, in Engels bekend as walnut): Volgens Coles se teorie herinner die harde dop van dié neut aan die skedel, terwyl die oppervlak van die neut self ’n duidelike patroon het soortgelyk aan dié van die brein. Okkerneute bevat inderdaad ’n baie hoë konsentrasie essensiële vetsure, wat noodsaaklik is vir die optimale funksionering van die brein! Om uit ’n plant se struktuur, kleur, reuk, vorm en tekstuur intuïtiewe afleidings te maak oor die moontlike gebruike daarvan is in werklikheid reeds deur Plato en Aristoteles gebruik, en Goethe én Rudolf Steiner het dit in die 1900’s verder ondersoek en daaroor geskryf.
Aanvullend tot die wetenskap
Coles en Kie. se omstrede idees beteken geensins dat “filosofiese wensdenkery” of tradisionele medisyne wat so sterk in die verlede gewortel is die moderne wetenskap moet vervang nie, maar al hoe meer kenners meen dié twee “teenpole” kan mekaar komplementeer wanneer dit sinergisties gebruik word.
Die vooruitgang in navorsing en tegnologie help in werklikheid om wetenskaplik te verklaar wat ons voorouers oor geslagte heen instinktief geweet het: Elke plant het ’n unieke samestelling van aktiewe chemiese komponente en verbindings in ’n baie spesifieke verhouding wat mekaar komplementeer. Die konsentrasie van aktiewe bestanddele in die plant word deur verskeie faktore bepaal, soos die klimaat, hoogte bo seespieël, wanneer die plante geoes word, en omgewingsbesoedeling. Habitat, kleur, vorm, tekstuur, reuk en smaak speel ook ’n rol én sommige plante ontwikkel sekondêre komponente om dit teen indringers te beskerm en te help om in ongunstige toestande – soos droogtes – te oorleef.
Soet, suur en bitter smake speel ’n rol in die terapeutiese waarde van plante, én het verskillende uitwerkings op die liggaam... dit is een van die redes waarom kruiemedisyne nog nooit bekend was vir ’n heerlike smaak nie. Dit wil voorkom of heelwat kruiemedikasie minder doeltreffend is wanneer dit in netjiese tablet- of kapsulevorm verwerk word omdat ’n mens dan die uitwerking van die belangrike smaakkomponent verloor.
Jou eie apteek (of nie)?
Die mensdom was nog altyd gefassineer deur plante – hetsy as voedsel, medisyne of vir blote estetiese plesier. In die bekwame hande van iemand met groen vingers kan ’n tuin inderdaad in ’n buitelugapteek omgeskep word, maar wanneer jy eers die geskiedenis van elke plant bestudeer, besef jy gou daar is baie meer opgesluit as wat jy met die blote oog kan sien.
Dis belangrik om te onthou veranderinge in die omgewing kan die biochemie van plante beïnvloed. Dit is van kardinale belang vir tuiniers omdat dit bepaal hoe ’n tuin uitgelê word: Plante wat baie sonlig nodig het maar in skaduwee geplant word, kan byvoorbeeld lang wortellopers of langer blare
ontwikkel in ’n poging om by meer hitte of sonlig uit te kom. Dit het weer ’n regstreekse invloed op die konsentrasie van aktiewe bestanddele wat in die plant gevorm word. Die gebruik van chemiese kunsmis en spuitstowwe is ontoelaatbaar wanneer jy plante vir medisinale doeleindes kweek en slegs natuurlike, organiese voeding is aanvaarbaar.
Wees gewaarsku
Al kom plante “natuurlik” voor, is dit nié altyd veilig vir menslike en medisinale gebruik nie. Party kan giftig wees, en die uitwerking van die aktiewe bestanddele moet nooit onderskat word nie.
Wanneer jy plante spesifiek vir medisinale gebruik koop, moet jy 100% seker maak dit is die regte spesie. Onthou, dit is haas onmoontlik om ’n plant korrek te identifiseer volgens ’n volksnaam of ’n skets in ’n boek. Dit is noodsaaklik om botaniese name te gebruik wanneer jy medisinale plante aankoop.
Verder is dit belangrik om te onthou dat daar interaksies kan wees tussen verskillende kruie en tussen kruie en konvensionele Westerse medisyne. Die gebruik van soethoutwortel saam met medikasie vir hoë bloeddruk word byvoorbeeld ten sterkste afgeraai, en die verkeerde gebruik van kruiemedisyne kan dodelik wees vir swanger vroue of mense wie se immuunstelsel onder druk is. Moet dus nooit net wild en wakker jou eie kruiekonkoksies meng en, erger nog, dit saam met voorskrifmedisyne gebruik nie. Gesels altyd met ’n geregistreerde gesondheidspraktisyn, kruiekundige, botanis en/of fitoterapeut voor jy links en regs voorskrifte uitskryf net omdat jy jou eie apteek geplant het!