Kooigoed
Helichrysumpetiolare of Helichrysumodoratissimum
Ander name Fragrant helichrysum, silver bush everlasting (Engels); imphepho, ubuhlungu (Xhosa en Zoeloe)
Die volksnaam “kooigoed” het ontstaan omdat die Khoi-khoi dié droogtebestande plant as “beddegoed” gebruik het en ook matrasse daarmee opgestop het. Die struike word 50 cm hoog en het besonder aromatiese grys blaartjies (wat met fyn, fluweelagtige haartjies bedek is) en geel blommetjies aan die punte van die takke. Tradisionele kultuurgroepe bind die takkies in bondels en brand dit as ’n soort wierook in rituele.
Medisinale gebruike Verskeie wetenskaplike studies het die antimikrobiese en anti-inflammatoriese uitwerking van Helichrysum- spesies bevestig. Dit word tradisioneel gebruik om verkoues, hoes, infeksies, asma, longprobleme en hoë bloeddruk te behandel. Die vlugtige olies wat vrygestel word as die blare gekneus of gebrand word, het ’n kalmerende uitwerking op die senuweestelsel en help om ’n goeie nagrus te verseker. Die plant word soms gekook en in akneesalf gebruik.
Ander gebruike Sothovroue gebruik dit as ’n parfuum, maar dit is net so ’n goeie insekweerder, veral vir vlieë en muskiete. Volgens ’n ou boereraat is ’n mengsel van kooigoed, aalwyn, heuning en asyn net die ding om insekbyte te kalmeer.
Kweek dit self Kooigoed verkies volson en grond wat goed dreineer, maar skrik glad nie vir arm grond nie. Dit is ’n puik grondbedekker wat vinnig uitsprei, maar oppas vir te veel water (of kleigrond) aangesien swamsiektes maklik toeslaan. Die meerjarige plante moet gereeld teruggesnoei word en jy sal dit waarskynlik elke derde jaar moet vervang (sny jou eie steggies). >