Wildedagga
Leonotisleonurus
Ander name Duiwelstabak (Afrikaans); wild dagga, lion’s ear, Cape hemp (Engels); imvovo, utywala-bengcungcu, umfincafincane, umunyamunya (Xhosa); umfincafincane, umcwili, imunyane, utshwalabezinyoni (Zoeloe)
Wildedagga is ’n lieflike geharde, droogtebestande, waterslim struik met skouspelagtige oranje buisblomme wat suikerbekkies nie kan weerstaan nie. Die struik is nie verwant aan die daggaplant ( Cannabis sativa) nie – die volksnaam het waarskynlik ontstaan omdat San-, Khoi- en Namastamme die blare gerook en koekies van die verpoeierde blare gebak het spesifiek vir die kalmerende uitwerking daarvan.
Medisinale gebruike Wetenskaplikes ondersoek nog die medisinale eienskappe van die plant, maar het reeds aktiewe bestanddele geïdentifiseer wat suksesvol gebruik word om asma en chroniese hoes te verlig. Tradisionele genesers span dit al eeue lank in vir hoofpyn, hoes, hardlywigheid, koors, asma, diarree, aambeie, jeukerige veltoestande, slangbyte, lintwurms, artritis, spierkrampe, vetsug en diabetes, terwyl ander glo dit is ’n gesonder plaasvervanger vir tabak of dagga. Dekoksies of infusies (sien die “Hoesê?”-kassie op bl. 81) van die blare word ekstern gebruik vir insekbyte en veltoestande.
Ander gebruike Wildedagga lok voëls, bye, skoenlappers en ander insekte. Inheemse stamme glo ook die plant is ’n gelukbringer wat slange weghou.
Kweek dit self Wildedagga groei vinnig en sonder veel fiemies indien dit geplant is in grond wat goed dreineer en met ’n bietjie kompos verryk is. Strooi ’n deklaag. Omdat die struike verbasend hoog kan word, werk hulle goed teen grensdrade of geboue. As jy dié plant eers een keer geplant het, sal jy dit waarskynlik nooit weer hoef te koop nie omdat die plante hulleself saai. Hulle skrik ook nie vir ryp nie.