Wildeknoffel
Tulbaghiaviolacea
Ander name Perswildeknoffel (Afrikaans); wild garlic, purple wild garlic (Engels); isihaqa (Zoeloe)
Wildeknoffel is ’n ou staatmaker in die tuin: Hulle is droogtebestand en groei maklik en vinnig in die grootste deel van Suid-afrika – tot so ver noord as Zimbabwe. Tuiniers is nie net gaande oor die elegante lang, dun blare en die oorvloedige pers blommetjies in die somer en herfs nie – die sterk knoffelreuk van die plant help ook om insekte af te skrik.
Medisinale gebruike Mense was meer as ’n eeu gelede al bewus van die antiseptiese eienskappe van wildeknoffel en het dit gebruik vir die voorkoming en behandeling van infeksies en virale toestande. Hoewel daar nog nie genoeg navorsing gedoen is nie, het wildeknoffel waarskynlik soortgelyke antibakteriese en swamwerende eienskappe as die knoffel wat ons ken vir gebruik in kos. Die gekneusde blare word dikwels vir sinushoofpyne en slukdermkanker gebruik, terwyl die vars bolle in water gekook en dié dekoksie dan mondelings geneem word om verkoues en ’n gehoes op te klaar. Die bolle word ook gebruik om pulmonêre tuberkulose te behandel en ingewandswurms te vernietig.
Ander gebruike Die bolle, blare en blomme is eetbaar en verrig wondere in slaaie en bredies. In die tuin help die sterk reuk om molle, vlooie en bosluise weg te hou en as jy die blare op jou vel vryf, sal muskiete ( Én die res van die mensdom! – Reds.) jou uitlos. Die Zoeloes plant dit om hulle huis omdat hulle glo dit hou slange weg.
Kweek dit self Tulbaghia violacea floreer in grond wat goed dreineer en met kompos verryk is, maar dit sal in die meeste grondsoorte en in volson of halfskaduwee groei. Dié bolplant is ’n goeie keuse vir warm kolle in die tuin omdat dit glad nie skrik vir droogte nie, hoewel gereelde water altyd welkom is.
Die plante kan van saad gekweek word, maar dit is veel makliker om hulle te verdeel. Al loop insekte ’n wye draai om die plante, knibbel slakke en naakslakke wel aan die blare. >