Weg! Platteland

Éclairskon­s met pomelosmee­r

-

Vir my is dié ligte deegdoppe heerlike ontbytkos – dis ligter as gewone skons en ’n goeie “voertuig” vir ’n lekker vulsel.

Genoeg vir 6 Bereidings­tyd 20 minute Baktyd 45 minute

JY BENODIG

VIR DIE SKONS • ¼ koppie (60 ml of 55 g) botter • ¾ koppie (180 ml) water • 1 koppie (250 ml of 120 g) meel, gesif • 3 eiers, geklits • styfgeklit­ste room om voor te sit (opsioneel)

VIR DIE POMELOSMEE­R • 4 eiergele • ²₃ ∕ koppie (160 ml) strooisuik­er • 100 ml pomelosap • 60 g botter, in blokkies gesny • 2 teelepels (20 ml) fyngeraspe­rde pomeloskil

SÓ MAAK JY

Maak die pomelosmee­r Klits die eiergele en strooisuik­er in ’n metaalbak tot dit goed gemeng is. Sit die bak oor ’n kastrol water wat liggies prut (die bak moenie aan die water raak nie) en voeg die pomelosap by. Roer dit tot die suiker opgelos het. Roer die blokkies botter een-een by tot dit smelt. Roer die skil by. Hou aan roer tot die smeer dik genoeg is om die agterkant van ’n lepel te bedek. Haal dit van die hitte af en skep dit in ’n gesterilis­eerde glasfles. Wag tot die smeer heeltemal afkoel voor jy dit in die yskas bêre om te stol.

Maak die skons Verhit die oond tot 220 ºc. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit. Gooi die water en botter in ’n kastrol en verhit dit tot kookpunt. Haal die kastrol van die plaat af, gooi al die meel op een slag by en klits dit tot die mengsel glad is. Sit die kastrol terug op die plaat en hou aan roer tot die deeg ’n gladde bol in die middel van die kastrol vorm.

Haal die kastrol weer van die plaat af en wag tot die deegbol genoeg afgekoel het sodat jy dit gemaklik met die hand kan hanteer – as die deeg en kastrol te warm is wanneer jy die eiers byklits, sal dit die eier gaarmaak – en dit moet beslis nié gebeur nie!

Klits nou die eiers by die deegbol tot dit baie goed gemeng is – jy kan dit in ’n staanmenge­r doen as jy wil.

Skep 2-3 eetlepels (30-45 ml) beslag per éclair op die bakplaat. Bak dit vir 5 minute in die oond, verlaag die temperatuu­r tot 180 ºc en bak dit vir nog 40 minute.

Haal een van die éclairs uit die oond en breek dit oop om seker te maak dit is droog en gaar aan die binnekant. Sit die oond af en haal die res van die éclairs uit. Sit dit dadelik warm voor met die pomelosmee­r en ’n lepel vol geklitste room.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa