My dorp
Ontmoet die regte én naweekboere van Tonteldoos
Tonteldoos is nie van hierdie wêreld nie. Mense noem dit ’n dorp, maar eintlik is dit glad nie ’n dorp nie, al is daar diegene wat van ’n sakekern praat. Dis eerder ’n plek, hoewel jy nie mooi weet waar dit begin en eindig nie. Daar is ’n hoofstraat – een lang stofstraat – met ’n vyf stuks huise en net soveel besighede wat ver uit mekaar se pad uit lê en sluimer. Die plek het nie erwe of straatligte nie, selfs nie eens ’n NG kerk nie, maar daar is wel ’n Rooms-katolieke kerk ’n klipgooi buite die kern en inwoners woon op “persele” wat ná die onstuimige tye van die Mapochsoorloë en die Anglo-boereoorlog rondom stroompies uitgemeet is. Hier was eens op ’n tyd ’n skool, maar dié moes teen die einde van die vorige millennium noodgedwonge sy deure sluit nadat hy die twyfelagtige eer gehad het om ’n 100%-druipsyfer te kry.
In die winkel of drankwinkel of koffiewinkel – óf op ’n Woensdagaand in die High-side Tavern waar die inwoners bymekaarkom vir ’n burger en ’n bier en lekker gesels – sal iemand jou vertel daar bly “so 38 mense” in dié hoekie van Limpopo, maar tussen die groen heuwels en rooi klippe en goudgeel aronskelke is ook ’n paar honderd siele wat ’n klein bestaan in statte voer. ’n Bestaan met donkies en beeste en vuurmaakhout en die veld... en bloedweinig geld.
Selfs die naam is nie van hier nie. Kyk maar na die verdwaasde, dikwels geamuseerde uitdrukking op die meeste mense se gesig as jy dit sou waag om te sê: “Kom ons gaan kyk ’n bietjie wat gaan aan op Tonteldoos.”
Tonteldoos voel inderdaad soos ’n ander planeet. Maar Tonteldosers verkies dit om presies so ver van die radar af te wees. Dié dat iedereen effens geïrriteerd die oë rol as besoekers so steen en been kla – as hulle hier aankom, maar ook op sosiale media en webwerwe soos Tripadvisor – oor die haglike toestand van die pad tussen hulle en die naaste “regte” dorp, Dullstroom, skaars 22 km weg, anderkant die grens in Mpumalanga. >
Die statige ou huis met die uitbundige tuin is sekerlik Tonteldoos se bekendste baken. Voorop is ’n bord wat aankondig “The Cheese Shop”, maar op die gras buite sê ’n ander bordjie “More than just cheese”.
Dié huis, wat in 1899 gebou is, het inderdaad al vele hoede gedra: woonhuis, Indiërwinkel, kaaswinkel en vandag die tuiste van Totally Tonteldoos, die besigheid wat Tanja Camacho in 2013 begin het. Sy maak ’n rits handgemaakte ware soos ingemaakte groente en vrugte, konfyte, droë kruie en viltprodukte, én die rakke staan vol mooi snuisterye. Tans is die plek in die mark, reg vir die volgende hoofstuk.
Binne lê daar ’n hond op elke leunstoel uitgestrek, en ’n bordjie maak duidelik wat Tanja se basiese reëls is: “Religion, politics and the state of the road not to be discussed.”
By een van die tafels steek ’n groot man met vriendelike blou oë en ’n breë glimlag sy hand uit: “Ben Struwig, aangename kennis.”
Ben is een van die handjie vol stoere boere wat nog hier in die vallei tussen die Steenkamps- en Mapochsberg ’n bestaan uit die aarde maak.
“Ons is nou al ses geslagte op dieselfde plaas. Ek is die vyfde – die derde geslag Struwig – op Klipbankspruit. Vandag is ons hoofsaaklik beesboere wat ook ’n bietjie mielies plant, en dan tef waarmee ons ronde bale van 1,2 m in deursnee maak.” Ben knik sy kop stadig terwyl hy die verte in staar. “Ja, die laaste 10-12 jaar maak ek eintlik maar bale vir ’n lewe.”
Ben vertel Tonteldoos was vroeër jare bekend vir sy perskes en appelkose, maar weens arbeidsprobleme en baie hael is hierdie nie regtig vrugtewêreld nie. “Ons kan nie pak om vrugte op die mark te verkoop nie, maar dis darem 100% om konfyt te kook en in te maak en mampoer te stook. My vriendin kook konfyt op taamlike groot skaal – sy is hoeka met 2 000 botteltjies konfyt weg na die Magalieskruin-kersmark.”
Ben is nugter soos net ’n boer kan wees oor die verandering wat hy die afgelope 15-20 jaar op Tonteldoos bespeur. “Dis ongelooflik hoe dit van ’n ou landboudorpie verander het in ’n plek met naweekboere, meestal Engelse mense met geld wat ’n naweekplek aanskaf. Maar...” Hy leun vorentoe en sê nadruklik: “Jy kan enige stuk grond vat in Tonteldoos, hulle hou selde meer as vier jaar hier uit. Jy moet kom met ’n sak vol geld, want ’n boerdery op so ’n stukkie grond is eenvoudig nie lewensvatbaar nie.
“Dullstroom is gevestig as ’n bestemming, maar mense wat Tonteldoos toe ry, ry nie volgende naweek weer hiernatoe nie. En in die gemeenskap is hier seker omtrent R1 000 wat bestee kan word, en dís al wat daar is. Jy kan maar met enige idee kom, ek het hulle al almal gesien die afgelope 30 jaar.
“Maar natuurlik dink al hierdie mense jy is negatief as jy vir hulle sê iets gaan nie werk nie – en daarmee bedoel ek jy gaan nié geld maak en aan die lewe bly as jy nie óf baie geld óf ’n ander inkomste het nie. Intussen sien hulle almal hoe mense op Dullstroom ’n gastehuis begin of kliphuisies bou, en nou doen almal dit hier. Dieselfde met die foreldamme. Die meeste
damme hier is sommer paddadammetjies, maar daar is natuurlik ’n mark daarvoor, want dis nie naastenby so duur soos op Dullstroom nie. Jy moet net die slegte pad ry, jou eie drank en vleis bring, en jy kan ’n baie goedkoper naweek hê.
“Kyk, een ding is ’n feit: Tonteldoos met sy ongerepte natuur en veld en klippe is minstens tien keer mooier as Dullstroom, maar hier ís net nie geld nie. En hier sal nooit ontwikkeling kom nie. Baie ouens se probleem is dat hulle ’n verband op hulle grond het en dan totaal oorkapitaliseer – en dan word dit Standard Bank se grond. Een ou score iets, dan begin die siklus van voor af.”
Naweekboere dié het hy al gesien kom en gaan. “Vandag is daar nog so 45 mense oor wat aktief boer, wat elektrisiteit moet betaal en aan die einde van elke maand hulle werkers. Die res is almal naweekboere wat nie afhanklik is van die grond vir hulle inkomste nie en nie afhanklik is van reën nie. Jy sien hierdie dinge en jy probeer raad gee, maar ’n mens is mos ’n snaakse ding: Hy wil mos altyd vir ’n ander een wys hy sal die wiel herontdek, selfs al maak jy nie wins nie.”
Die pad, sê hy, is die ander ding. “Dis die ene gate en sinkplaat, wobble all the way.”
Tanja lag: “Ag wat, as jy terugkom van Dullstroom af, voel dit of jy by die chiropraktisyn was!”
BEN, WAT 11 JAAR GELEDE met Guillainbarrésindroom gediagnoseer is en vandag nog sukkel met die nagevolge daarvan – hy moet vanjaar ’n hartoperasie ondergaan om are te herstel, “ek is altyd van balans af en deesdae is trappe my baas... en ek was nie altyd so groot nie, hoor!” – kén die geskiedenis van Tonteldoos.
“Dis ’n geskiedkundige plek wat op Mapochsgronde ontwikkel het. Hier praat ons nie van erwe nie, maar persele – plase wat destyds met perde afgemeet is. Dit was ná die twee Mapochsoorloë en die Angloboereoorlog toe mense moes begin werk, so al langs die stroompies. Die persele was 16 morg elk, en so het elkeen maar sy huisie gekry, sy dam, sy vrugteboord. Die persele het vreeslike snaakse grense en hoeke sodat elkeen toegang het tot water – dis hoekom die Engelse wat nou inkom, wonder hoekom hulle stukkie grond 12 hoeke het!”
Oor die storie waar Tonteldoos se naam vandaan kom, draai Ben nie doekies om nie. “Man, daai storie van >
die landmeter wat kastig sy tonteldoos hier verloor het, is sommer ’n k—storie. ’n Landmeter is iemand wat net na ’n plek toe kom wat klaar ’n naam het. My ma-hulle het vertel hoe die Boere met hulle perde en osse getrek het, en toe hulle daar by Jas Venter se plaas kom waar die Tonteldooslopie en die Maraislopie bymekaar kom, kom daar toe ná ’n stortreën ’n klomp water af en die Boere slaan laer op. Toe kom daai massa water deur die tente en ossewaens en álles is nat. Hulle kon nie vir die kinders kosmaak nie omdat die tonteldose nat is... en die kinders gaan aan die huil. Toe noem hulle die plek Tonteldoos.”
Hy staaf sy punt: “Kyk maar na die name van ander persele hier: Bloukrans, Muisvlakte, Konijnvlei, Swartvlei, Blomvlei, Witvlei, Draailand, Swartspruit, Lemoenkloof, Diepgezet, Blomplaas, Lelievlei. Dis almal Boerename wat gekoppel is aan iets wat daar voorkom of gebeur het of hoe dit lyk. Waarom sou hulle Tonteldoos na ’n lándmeter noem?
“Ons moenie skaam wees vir ons geskiedenis nie. Ons was en is arm mense, en dis vandag nog ’n groot kuns om jou grond te behou. Soos een ou eendag vir my gesê het nadat hy al sy geld uitgedrink het: ‘Dis goedkoper om te suip, want ek het nie geld om te boer nie.’ ” Hy skud weer sy kop. “Nou gee die regering plase vir mense wat nie eens ’n kar het nie. Hoe moet sulke mense boer?”
Wat is dit wat vir Ben Struwig hier hou? “Ek is hier gebore en ek het hier grootgeword. En ek is ’n baie sentimentele mens. My grootste begeerte is om net hier te bly, al gaan dit soms >
broekskeur en al het die omstandighede ’n bietjie verander met rassehaat wat die laaste twee, drie jaar opgevlam het. Ons het ’n paar lelike plaasaanvalle gehad – nie deur plaaslike mense nie; dis nonsens van buite.
“Maar kyk, daar is steeds ’n hegte band tussen mense hierso. In tye van nood en siekte staan mense bymekaar, hulle soengroet mekaar nog. Daar gaan nie ’n naweek verby dat hier nié iemand stop wat ’n soort geskiedenis met die dorp het nie, selfs al is dit net om ná 40 jaar iemand se as onder die peerboom te kom strooi.”
Hy lag: “Ek sê altyd, in die week is dit net Tontel hier, maar naweke gaan dit heelwat beter...”
FRANCOIS MALHERBE is duidelik ’n man wat vir Ben Struwig geluister het. “Moenie Tonteldoos toe kom as jy wil geldmaak nie! Jy moet leef met wat jy het óf baie spaarsaam te werk gaan. Op ’n manier is dit goedkoper om op die platteland te woon, maar jou uitgawes is nie eintlik minder nie, veral as jy probeer voorgee jy’s ’n selfvolhoubare boer.”
Francois en sy vrou, Helen, het jare lank in Springs gewoon waar sy ’n fyngebakonderneming en hy ’n klein ingenieursfirma besit het. “Ons het hard gewerk en begin rondkyk vir ’n naweekplek binne 2½ uur van Springs af. Ons wou basies ’n plek hê waarheen ons naweke kon vlug, maar wou nie tyddeel koop nie – ek wil darem ’n plek hê waar ek my eie bottel whisky kan los. Ek het ’n ou van Tonteldoos ontmoet – in ’n kroeg, waar anders – en toe nog nooit van die plek gehoor nie. Uiteindelik het ons in 1997 hierdie 70 ha gekoop.”
Aanvanklik het hulle net naweke gekom en by hulle naaste buurman, Johan Kunneke, oorgeslaap. Maar terwyl hulle met bouwerk aan die kothuis begin het, het Francois se besigheid vlerke gekry, en die bouwerk het het gaan stilstaan. Teen 2006 het >
hulle besluit tot hiertoe en nie verder nie... maar toe slaan die noodlot toe.
“In 2006 draai ek by die dood om me tor g a no fosfaat vergiftiging nadat ek by ’n vriend ’n hoofpynpil wou neem terwyl die flessie toe al die tyd vol Two-step was. Toe, in 2009 is ek weer amper langboompies toe weens serebrale malaria... en in 2011 diagnoseer hulle my met fase 4-kolonkanker. Hulle het my ses weke gegee om te leef; met behandeling ses maande.”
Wonder bo wonder, en nadat al die kanker uitgesny is, het Francois ook oor dié hekkie gekom.
Helen lag: “Dis hoe ons uiteindelik by 9 slaapkamers uitgekom het – elke keer as Francois iets oorleef het, het hy verwoed aan die bou gegaan! G’n wonder die huis lyk soos ’n meisieskoshuis nie!”
Intussen het Helen haar besigheid verkoop en by Francois s’n ’n belangrike skakel geword aan die geldkant. “Helen het gejeuk om te trek, maar ons moes eers vir haar ’n goeie plaasvervanger kry. Uiteindelik het ons die regte mens gekry, die besigheid verkoop, aandele verhandel – en in Desember 2015 opgepak.” Hy lyk ingedagte, knik sy kop. “Dit was ’n baie goeie besigheid daardie...”
“Ek het nie geweet wat ek hier gaan kom doen nie,” erken Helen, “want ek was nog altyd betrokke in besigheid. >
Toe begin ek werksessies – fotografie, charcuterie, sulke dinge – reël.” (Die 2018-werksessies word op bl. 15 gelys.)
Intussen het Francois naweekboer geword. “Maar ek het nie Tonteldoos toe gekom om geld te maak nie. Kyk, dis fantasties om jou eie beesvleis, skaapvleis en eiers te hê, maar dis eintlik goedkoper om net eiers te gaan koop.
“My raad aan mense wat hierdie lewe wil probeer? As jy dit kan bekostig om boer-boer te speel, gaan gesels met iemand soos Ben Struwig – dis mense wat basies op 5-jarige ouderdom begin boer het. Wat ek hier doen, is eintlik ’n mors van geld. Ek is g’n niks ’n boer nie – kyk maar rondom jou na al die foute wat ek gemaak het. Maar ten minste is hulle mý foute.”
Francois skud van die lag wanneer hy vertel waarom hy so aangebou, ’n wingerd aangeplant, ’n wynkelder gebou, sy eie Stonehenge gepak, “kilometers” heinings opgerig en ’n 4 km lange pypleiding van die O’gradys af aangelê het om water op die plaas te kry (én nog tyd kry om vir Helen met die werksessies te help): “As ’n mens so lank hard so gewerk het, dan moet jy iets doen met al jou energie!”
AAN DIE ANDER KANT van Tonteldoos, op die plaas Jorubundu, glinster Joe en Ruth Holmes se oë wanneer hulle gesels oor hulle skuif sewe jaar gelede na dié wêreld.
“My ouers was boere by Klerksdorp, en ek het altyd ’n begeerte gehad om terug te gaan plaas toe,” vertel Ruth met ’n boklammer in haar arms.
“Op skool al het ek gesê ek gaan eendag met ’n boer trou – wel, ek is amper daar...”
Joe, oorspronklik van Zimbabwe, en Ruth is gaande oor hulle Kameroense dwergbokke – “hulle is fantastiese grassnyers” – hulle troppie skape, 18 koeie, 11 honde en 3 katte.
Hulle het in Edenvale gewoon, 26 jaar lank die verkeer getrotseer en toe, sewe jaar gelede, hierdie plaas gekoop. >
Maar hulle het baie spesifieke vereistes gehad: “Eerstens moes dit dadelik soos ons plek voel; dit moes water hê; dit moes skilderagtig wees; en daar moes koppies wees,” onthou Joe. “Jy weet, ons het 40 jaar gewerk om hierdie plaas te koop. Ons het wyd gesoek: hier, in die Wes-kaap, die Oos-kaap, maar die meeste plekke was te duur vir ons. En dis net vreemd hoe ons telkens weer op Tonteldoos beland het.
“Uiteindelik kom ons toe op hierdie plaas aan – daar was nie eintlik ’n pad om van te praat nie en dit was toe onder die swartwattels, maar ons het geweet ons móés net hier wees; daar’s íéts hier...”
Nadat hulle by die 4 t wattels uitgehaal het, het hulle op twee ou grafte afgekom, die een van ’n kind en die ander van ’n ouer man, ’n Kidson – die nooiensvan van Ruth se ma. Uiteindelik het hulle vasgestel dis haar oupa se neef wat hier begrawe is.
Mense, besef jy, pak om verskeie redes die tog na hierdie verre planeet aan: Daar’s diegene wat rustigheid soek, ander wil na die sonsondergange staar, sommige verkneukel hulle in die donkies en donderstorms van dié wêreld. Sommige siele is hier geplant, ander het toevallig hier beland... en dan is daar diegene vir wie dit in die sterre geskrywe staan dat hulle hier hoort. >