Foto-essay
Wat is die storie met bouvalle langs die pad?
Waar’s die dae...
Dié verlate huis langs die pad buite Riviersonderend is in 1884 gebou en in 1916 vergroot – en vandag is dit vir baie mense ’n baken. Kyk net die oordadige pleisterkrulversierings bo die daklys en die spitsvondige gietwerk rondom die vensters. Die plek is duidelik gebou deur iemand wat sy storie ken, wat trots was daarop om die versierings aan te bring. Vandag staar die huis troosteloos oor die goudgeel Van Gogh-landskap terwyl ’n leërskare gevleuelde wesens – van vlermuise tot duiwe en uile –dit hulle tuiste gemaak het. Ek is doodseker onder die vrot balke wat al ingeval het, skuil daar ’n geelslang of drie. >
Die geknars van ou glasskerwe onder my voete, die geritsel van duiwe wat verskrik opvlieg van hulle slaapplek iewers op ’n ou vrot balk, die muwwe reuk van mure wat stadigaan verkrummel, en die uitsig oor ’n koringland deur ’n vensterraam sonder ruite. Dís wat my verbeelding op loop sit.
Ek was nog altyd gefassineer deur bouvalle. Ek skat dis die misterie daarvan wat my aantrek. Wie het daar gewoon? Hoekom het hulle padgegee? Was dit dalk ’n gesinstragedie, iets soos die dood van ’n kind of ma tydens geboorte, of ’n plaas waarop agteruit geboer is en die inwoners noodgedwonge moes oppak? Daar’s ook die intense stilte wat in hierdie raserige eeu vol alarms, toeters en stadsgewoel werklik terapeuties is.
Sedert my tienerjare al probeer ek soveel as moontlik bouvalle dokumenteer, vóórdat hulle in die grond wegsmelt of deur moderne ontwikkeling ingesluk word. Een groot fotografieinvloed is Arthur Elliot, ’n Amerikaanse amateurfotograaf wat in 1900 as ’n vlugteling Kaap toe gekom en toe reeds die insig gehad het om ou geboue met sy kosbare kwartplaatkamera af te neem, vóórdat hulle tot stof sou terugkeer. Hy sou ure – selfs dae – lank wag tot hy presies die regte lig het, en soms sou hy mense vra om te poseer vir ’n ekstra tikkie drama of misterie.
Gewoonlik het ek nie soveel tyd soos hy nie; my foto’s van bouvalle neem ek gewoonlik terwyl ek iewers heen op pad is, wanneer my arme reisgenoot langs die snelweg of plaaspad moet sit en wag terwyl ek die een of ander toneel van verval afneem – en ander motoriste dan verbyflits en my kwaai aankyk omdat ek die pad versper... >
Tog sien ek nie verval nie. Soos daardie liedjie van Imogen Heap sê: “There’s beauty in the breakdown.” Terwyl die pleister afskilfer, kan ek my verkyk aan die klipmure onder dit wat soveel vaardigheid geverg het (soms het slawe die bouwerk gedoen), of klippe wat op ’n primitiewe manier gepak is, of koffieklip met strand- of spoelklippies tussenin. My fyn oog sien stukkies erdewerk en porselein wat neffens ’n ou bouval in die sonlig lê en glinster – soms lê dit nog op presies dieselfde plek waar dit dekades of selfs eeue gelede weggegooi is. ’n Kosbare bord met ’n wilgermotief daarop wat ’n moeisame ossewatrek oorleef het, maar in een onbewaakte oomblik laat val is, of ’n wynbottel wat in die veld gegooi is nadat die voggies met groot smaak uitgedrink is – elke brokstuk vertel ’n storie.
Maar hier’s die knoop: Al voel ek hartstogtelik oor bewaring, moet ek erken ek is soms effens hartseer as ’n bouvallige huis gerestoureer word. Al word die gebou vir die volgende geslag bewaar, gaan ’n bietjie van die misterie en betowering verlore.
Daar’s een plek wat ek nog nié afgeneem het nie, een wat volgens my die heilige graal van bouvalle is: die verlate Duitse delwersdorp Kolmanskop naby Lüderitz in Namibië. Die pragtige ou huise wat halfpad onder die sandduine begrawe lê, het my nog altyd gefassineer, en ek moet gou daar uitkom – dis baie beslis op my emmerskoplys. Voel enigiemand dalk lus om saam met my in die pad te val?