Versteekte geheim
Geluksburg kruip diep in die Drakensberg weg
In die noordelike Drakensberg in KwazuluNatal, digby die Vrystaatse grens, skuil Geluksburg. En in die Verlore Vallei net buite dié gehuggie het vyf gesinne wat in die 1830’s van Piet Retief se trekgroep weggebreek het, 115 jaar lank ’n bestaan gevoer, salig onbewus van twee Boere- én twee Wêreldoorloë...
Toe Stanford se kostoornaar Mariana Esterhuizen en haar man, Peter, in die vroeë jare tagtig die Wes-kaapse platteland deurkruis het op soek na ’n heilsame holte vir hulle hart en voet, het een vraag boaan hulle lys van kriteria gepryk: “Hoe voel ons oor dié plek op ’n Sondagmiddag sesuur as die wind waai?”
Wel, as jy die Kwazulu-natalse dwergdorp Geluksburg op ’n dor, droefgeestige sabbat diep in September binnery, voel dit warempel of die geluksgodin en haar trawante vergeet het van dié kuddetjie huise aan die voet van die Ntintwaberg tussen die Oliviershoek- en Van Reenenspas. Jy is maar 30 km van die N3, 27 km van Bergville en 47 km van Ladysmith af, maar dit voel kompleet of jy na ’n ander sonnestelsel verplaas is, een waar die 171 inwoners (volgens die 2011-sensus) oënskynlik die vorige nag weggeraap is. In ’n paar agterplase, byvoorbeeld, kreun die lemoenbome onder die oranje sonnebolle, maar damme vrugte lê onder op die grond en vrot.
Namate ’n mens deur die stofstrate kruie, effe neerslagtig oor die gewoonlik geilgroen landskap en majestueuse berge wat nou oraloor stofbruin en grougeel en dorstig op die eerste somerreëns wag, bemerk jy mettertyd tog tekens van lewe: Op ’n straathoek lek ’n rooktong uit ’n smeulende konka aan die verbleikte blou hemelruim. ’n Paar vlieë en brommers draai om hopies beesmis. Êrens kraai ’n haan en mê ’n skaap en tortel ’n duif, en doer oorkant lê en herkou drie koeie langtand aan hulle middagete. En hier kom sowaar nou ook ’n brandmaer brak aangedraf! Met ’n kudde stowwerige beeste op sy hakke! Gevolg deur ’n fiets – met twee jong meisies op wat die wegraping vrygespring het! >