Entrepreneurs II
Ontmoet die drie broers wat kosmos en kakiebos in jenewer verewig
Drie vrydenkende Vrystaatse broers. Drie jenewers gestook van Vrystaatse sorghum en wat met dié provinsie se kakiebos en kosmos gegeur word. Een vodka, een rum... en einde 2020 ook ’n whisky. Ontmoet die Du Plooys van Soetjenewersvlei.
“Kosmos en kakiebos” soos Gerrit du Plooy dit sê, laat dit klink of hy praat van ’n guitige radiovervolgverhaal of ’n soort boerse hygroman. Maar vanoggend hier in die ou melkskuur op Oppermanshoogte, sy skoonma se mielieplaas tussen Oranjeville en Deneysville digby die Vaaldam, hef hy eintlik ’n loflied aan oor twee van die meer onkonvensionele botaniese bestanddele in die “eg Vrystaatse” jenewer wat hy en sy twee jonger broers onder hulle De Vry-handelsmerk stook en verkoop.
Al het dié onkruidsoorte, oorspronklik van die Amerikas, destyds die land saam met veevoer uit Argentinië binnegekom, is dit vandag so deel van die kulturele landskap van die Vrystaat dat die Du Plooy-broers dit eenvoudig móés gebruik. Hulle droom was immers om spiritualieë te distilleer uit graan wat hulle – of boere in die omgewing – self kweek sodat die eindproduk dié omgewing weerspieël.
Die De Vry-storie begin só: Gerrit, die oudste broer, wat op Oppermanskraal boer met beeste en “’n bietjie skaap, mielies en sorghum vir die snaaksig- heid” (maar wat deesdae grootliks op sy slagpale fokus), gaan kuier vir sy middelste broer, Pasch, wat aan die stuur staan van die restaurant Dutch East op Franschhoek. “Kyk, ons is al drie lief vir kosmaak en
genuine goed, gehaltegoed: goeie vleis, goeie rooiwyn, goeie gin, goeie vis, goeie brandewyn, goeie rum, goeie koffie. Op daai vakansie is dus báie geëet en diep in allerhande bottels gekyk – net mooi in die tyd toe jenewerkoors behoorlik vlamgevat het, veral in die Kaap,” sê Pasch, wat in daardie stadium reeds “speel-speel” in sy garage met ’n stookketel geëksperimenteer het. Hy het ’n idee gehad om ’n unieke, trots SuidAfrikaanse distilleerdery te begin, maar het nie mooi geweet hoe om die bal aan die rol te sit nie.
Ná hulle vakansiepraatjies, op pad terug Vrystaat toe, het ’n gedagte die praktiese Gerrit te binne geskiet. Hy het vir Pasch gebel, en in Februarie 2016 het hulle begin om die ou melkskuur in ’n professionele stokery te verander. Albert, die jongste met sy agtergrond in verkope en bemarking, is betrek om die bemarking en versendings uit Pretoria te behartig.
“Vir ons het dit reg van die begin af oor gehalte gegaan en om iets te maak wat uniek is aan die Vrystaat. Die gróót droom was om eendag ’n enkelgraanwhisky en -rum te maak, maar in daardie stadium was die groot ding jenewer, waarvoor ons toevallig self lief is. Jy kan ons seker boerseuns noem, as jy wil, maar ons het grootgeword met
gin & tonic & bitters – ironies genoeg omdat ons ouma, wat nie die Engelse >
kon verduur nie, dit graag gedrink het,” lag Gerrit.
“Ons het gedink om dalk te begin met ’n kersiejenewer – kersies is immers nóg ’n Vrystaatse uitvoerproduk – maar soos ons meer navorsing gedoen en amper elke moontlike boek en webwerf oor die proses gelees het, het ons besef jy moet natuurlik eers ’n behoorlike jenewer maak voordat jy dit met kersies kan geur. Ons was erg gefassineer deur al die botaniese stowwe en die verskillende style wat vir jenewer gebruik word, en het só uitgekom by die kosmos en kakiebos wat hier op die plaas groei,” sê Pasch.
“Ons het besluit: Kom wat wil, ons gaan ons éie ding doen en op ons eie probeer, want Pasch het ’n goeie aanvoeling vir smake... hy het daai groot neus van hom om net een rede gekry:
om beter te kan rúík as ons,” sê Gerrit.
“Right,” sê Albert, die jongste broer wat ’n vulstasie in Pretoria besit en deur sy broers as “Boere” aangespreek word, “en só het julle die blerrie slegste
gin in die geskiedenis gemaak – basies ’n massive gin slush puppy – én dit in Oktober 2016 by my troue voorgesit!”
Die ander twee lyk diep skuldig, maar keer dadelik: De laaste een van De Vry se resepte is sedertdien vervolmaak om presies te smaak soos húlle wil hê dit moet smaak. Vodka, byvoorbeeld, was nooit deel van hulle plan nie, maar hulle het dit nodig gehad as basis vir die whisky wat hulle wou maak.
Tussendeur die eksperimente het die trio se pad gekruis met Whitespace Creative Direction, ’n Kaapse kreatiewe agentskap wat hulle gehelp het om uit hulle wilde idee ’n handelsmerk te bou.
“Ons moes so ’n vorm invul, en ons enigste versoek was dat ons glad nie enige Afrikaans soek nie. Niks met die taal te doen nie, maar ons wou onder geen omstandighede omstrede wees nie... dit was net mooi die tyd toe die ‘Fees must fall’-storie op sy ergste was, en hier kom drie Afrikaanse boertjies van die Vrystaat wat nou gin en rum en vodka gaan maak...”
Só is De Vry gebore, en daarmee saam hulle motto (“Passion Freedom Country”), die amusante, geskiedkundige (en jou wrintiewaar Afrikaanse) name vir hulle produkte asook die stylvol gestroopte verpakkings wat by 2017 se Loerie-toekennings ’n silwer toekenning gewen het.
Die drie broers kyk trots na die bergie opgestapelde vaatjies waaraan hulle in 2016 begin bou het. Hier lê sowat 2 500 ℓ alkohol wat stadigaan hulle kinderskoene ontgroei, “so 300 ℓ whisky wat ons waarskynlik einde 2020 se kant sal vrystel, so 300 ℓ vatverouderde jenewer waarvan hulle hoogstens 400 bottels per jaar sal vrystel, en die res is alles rum”.
O ja, sê Gerrit, julle weet van die beesmis, nè? Beesmis? “Kyk, die Skotte gebruik mos peat vir hulle whisky, en peat is mos maar kompos. Plantmateriaal. Presies wat beesmis ook is. So... nou wil ons probeer om ons whisky met beesmis te rook. Beesmis ruik mos wonderlik. Nes die Vrystaat, kan jy maar sê.”