Gemeenskapstuine
Plant groente vir ’n goeie doel... maar onthou: Dis ’n besigheid
Om vir die wêreld se groeiende bevolking kos te gee sal voedselproduksie teen 2050 met 70% moet toeneem, en Afrika, die vasteland waar die helfte van die wêreld se bevolkingsgroei sal plaasvind, gaan die swaarste kry.
Kenners is dit eens gemeenskapstuine – waar ’n ongebruikte stedelike ruimte in ’n produktiewe voedselbron omskep word – sal deel moet wees van die oplossing. Maar soos Platteland gehoor het toe ons met verskeie tuiniers reg oor die land – arm én ryk – gesels het, is dit moeilik om die goedvoelstories in Amerika en Europa waarvan ’n mens op die internet lees hier in die verwonde Suidafrika na te boots.
’n Groeiende besigheid
’n Mens kan nie oor gemeenskapstuine in Suidafrika gesels sonder om die naam Sheryl Ozinsky te noem nie. Sy het ’n ongebruikte rolbalbaan in Kaapstad omskep in die Oranjezicht City Farm (OZCF), ’n organisasie sonder winsbejag, wat nie net ’n florerende groentetuin op die been gebring het nie, maar ook ’n gewilde Saterdagmark – ’n viering van plaaslike kos, kultuur en gemeenskap. En dié mark dra jaarliks meer as R30 miljoen by tot die WesKaapse ekonomie!
Sheryl is oortuig daar’s nie naastenby genoeg gemeenskapstuine in SuidAfrika nie. Sy beskou dit as ’n manier om werkloosheid te verminder; maatskaplike, fisieke en geestelike probleme op te los; en gemeenskappe te bou. “Elke hospitaal, skool en gevangenis behoort ’n groentetuin te hê. Natuurlik is water ’n probleem, maar waar daar ’n wil is, is daar ’n weg. >
“Ons probeer bloot ’n verskil maak in die gebroke voedselstelsel,” sê Sheryl en verduidelik dat een uit elke vyf Suid-afrikaner s voedsel onsekerheid beleef. “Mense eet, ja, maar hulle eet nie reg nie. Kinders kan nie hulle volle potensiaal bereik as hulle gemors moet eet nie. Dit kos nie méér om op hierdie manier te eet nie; dit verg net moeite.”
Om suksesvol te wees, sê Sheryl, moet ’n gemeenskapstuin soos ’n besigheid bedryf word. Hoewel sy die OZCF se primêre rol as opvoedkundig beskou (hulle leer byvoorbeeld elke jaar 1 500 leerlinge), glo sy dit moet selfvolhoubaar wees. Juis daarom het sy ’n klein mark begin om van die kostes te dek. Vandag het daardie einste mark vars produkte van 28 kleinskaalse boere en lok elke Saterdag gemiddeld 5 000 klante.
“Sommige mense is engele, maar jy kan nie ’n tuin aan die gang hou met net vrywilligers nie. Elke keer as hulle iets doen, moet jy hulle bedank, en jy kan hulle nooit aanjaag of druk om harder te werk nie. Hulle is ’n bonus, ja, maar jy kan nie op hulle staatmaak nie.
“Stedelike en gemeenskapstuine is ’n besigheid net soos enige ander besigheid,” sê Sheryl en verduidelik dat sy inkomstebelasting en BTW betaal én oudits moet ondergaan. “Ons het ’n model gekry wat vir ons werk. Jy sal nooit soveel geld maak soos ’n bankier of prokureur nie, maar jy kan ’n bestaan maak én terselfdertyd die breër gemeenskap dien. As jy ’n bevoorregte Suid-afrikaner is en nie bereid is om iets terug te ploeg nie, kan jy net sowel emigreer...”
’n Opdraande stryd
Nadat ons gesels het met ’n hele paar gemeenskap s tuiniers regoor di eland wat almal ’n manier probeer vind om hulle projek te laat slaag, blyk dit daar is ’n paar algemene uitdagings aan sulke tuine. Hoe tuiniers daarop reageer, het baie te doen met hulle uiteindelike sukses of mislukking.
MAATSKAPLIK Op papier lyk kommunisme dalk na die perfekte regeringsvorm, maar dis net as jy nie die menslike natuur in ag neem nie. Enige suksesvolle tuin het ’n leier.
Om ’n gemeenskapstuin te begin sal jy altyd kapitaal nodig hê, maar as dinge eers aan die gang is, behoort die tuin vir homself te betaal. ’n Tuin van 500 m² kan ’n wins van R3 000 per maand genereer én die tuinier voed.
Kennis van ’n besigheid is net so belangrik as kennis oor groente.
GROND Verbasend genoeg lyk dit of dié een van die kleinste uitdagings is. Die meeste dorpe het baie braak grond, en as jy mooi vra, is dit gewoonlik moontlik om ’n ooreenkoms aan te gaan met die eienaar – of dit privaat of die staat is. Onthou net om dit op skrif te kry!
WATER Dit kan ’n groot probleem wees. Die Kaapse waterkrisis het byvoorbeeld die OZCF gedwing om fonteinwater uit Distrik 6 aan te ry, én hulle plant nou net op die helfte van die grond.
BELASTING- EN REGSAKE Maak seker jou sake is van die begin af agtermekaar. As jy die groente wil verkoop, maak dit sin om die tuin as ’n nieregeringsorganisasie te registreer en die verkoopsarm as ’n maatskappy – dan hoef jy nie belasting te betaal op skenkings nie.
ARBEID Net ryk mense sal verniet vir jou werk – en op hulle kan jy nie elke dag staatmaak nie. Harde werk moet vergoed word, en hoewel arm mense gratis groente sal waardeer, is dit kontant in die sak wat hulle nodig het.
PESTE Elke tuinier moet weet hoe om met peste af te reken – of dit nou voëls, insekte, slakke of mense is. >