Weg! Platteland

Groenteboe­r... op 101

Hier’s ’n sprekende bewys dat jy nooit te oud kan wees vir tuinmaak nie!

- TEKS JOHAN VAN ZYL FOTO’S PETER VAN NOORD

Op 101-jarige ouderdom is oom Theunis (April) Jooste van Clanwillia­m waarskynli­k die oudste aktiewe groenteboe­r in SuidAfrika, en einde 2017 het die Wes-kaapse regering hom met ’n spesiale eerbewys beloon vir sy bydrae tot voedselsek­erheid.

In die hoogsomer is Clanwillia­m nie net die rooibostee­hoofstad van die wêreld nie, maar ook een van die snikheetst­e satellietk­antore van die hel. Op hierdie dorp gaan staan die son tjoepstil, murmureer die mense, en dan brand hy vir jou soos ’n verdomde vergrootgl­as jou nie kan brand nie. Selfs die kraaie is te pê om te gaap.

Ginnegaap is een van daardie gruwels waarvoor oom Theunis Jooste nie ooghare het nie, al staan daar in sy IDboek hy het reeds op 6 Desember 1916 die eerste lewenslig aanskou en al is hy veronderst­el om nou “afgetree” te wees.

Iedere môre – in die somer reeds so teen 05:30, “voor die son sy lelike kant begin wys”, sê hy – verlaat hy sy huis in Eikelaan en stap die sowat 2 km af in Ou Kaapseweg tot by ’n stewige lap grond in Fosterstra­at, waar hy al “meer as twee dekades” in wind en weer ’n groentetui­n maak. Die grond, vertel hy, behoort aan die dorp se bekende Strassberg­er-familie, wat belowe het hy kan hier woel en werskaf tot hy die dag nie meer kan of wil nie. Die water is leibeurtwa­ter uit die Jan Disselsriv­ier.

Agtermidda­e om 16:30 val oom Theunis weer in die pad huis toe. “Maar ek beginne nou erg sukkel. Ek voel die bene beginne ingee, want my ouderdom is al so bitterlik hoog, amper soos die bloeddruk, wat óók te hoog is, sê die dokters. Soelie en die kinders karring aan my... hulle sê dis malligheid dat ’n groot man so aangaan in die hitte.”

Die groentetui­n in Fosterstra­at, waar hy veral uie, kool, kropslaai, groenbone, ertjies, wortels, beet en enige vorm van pampoen – sy gunsteling – plant, is lank nie sy eerste een nie, keer oom Theunis.

“Ek was nog skone kind, seker so vyf, ses, toe my oupa, ôk April Jooste, my beginne touwys maak het daarso op die plaas buite Calvinia. Aartappels. Uie. Waatlemoen. Komkommers. Tamaties. Mielies. Al wat ’n ding is, het hy my gewys. Dis ôk hy wat my beginne Theunis noem het.”

Toe hy “omtrent 18” was, het hy sy ouers se groentetui­n oorgeneem en van toe af maar altyd “groentetui­n gemaak sodat daar genoeg gesonde goed vir die tafel is”. Wat te veel is, verkoop hulle.

“Maar ag,” haak Liza, oom Theunis se derde vrou, beter bekend as Soelie, af, “as mense kom klop wat honger is, gee hy die groente sommer weg. Dit maak jou mos nie armer nie, sê hy altyd.”

DIT IS KNAP NÁ 13:00. Die son spoeg vuur. Almal, oom Theunis se groentetui­n inkluis, lyk bra verwelk. Poegaai. Ons gaan sit plat op die grond in die skaduwee van die druiweprie­el waar ’n hoop uie lê en droog, en gesels oor die spesiale eerbewys vir sy bydrae tot voedselsek­erheid in die Sederbergs­treek wat Alan Winde, Wes-kaapse minister van ekonomiese aangeleent­hede, verlede jaar aan hom oorhandig het.

Bo en behalwe dat hy sukkel om te hoor, het oom Theunis oor dié onderwerp nie veel op die hart nie: “Dis maar ’n pampier, jy weet, ’n sertifikaa­t. Ons het hom daar by die huis. Plant sal ek mos die groente plant – met ’n pampier óf sonder ’n pampier.”

Hy het in 1953 op hierdie warm plek beland, “so 30 jaar gelede”, onthou hy, en dadelik by die Clanwillia­mhotel begin werk wat aan wyle Reinhold Strassberg­er behoort het. Tuinwerk en so aan, sê hy.

“Vra eerder wat hy nié gedoen het nie,” antwoord Ilse Lochner, een van die Strassberg­erkinders, as jy háár uitvra oor oom Theunis se verpligtin­ge destyds. “Dit was die tyd van die koolstowe, en Theunis het gesorg dat die stowe aan die gang is. Hy het brood gebak, hy het vleis gewerk… daardie jare het die gaste soggens nog koffie in die bed gekry, en Theunis het dit gemaak en vir hulle gevat toe hy later ’n kelner geword het. Hy het selfs die gaste se skoene skoongemaa­k en later jare ook nagdiens gewerk. Die hotel het vreeslike groot tuine gehad waar Theunis natuurlik sy deel gedoen het, en het hy julle vertel hy was een van die dorp se gesogste polisieres­erviste?” Natuurlik het hy nie. Die geheim van so ’n lang lewe, sê oom Theunis, is om na jouself te kyk en nie losbandig te wees, sigarette en dagga te rook of dronk te raak nie. “O ja, en ’n jong vrou, soos hierdie ene wat ek ek nou het. En vir wat dan nie? Jy pluk mos vir jou die beste blom... en laat ek vir jou sê ek was self op my dag ’n roosblom, hoor!”

Maar op 101 beginne jou kop uitwerk en hy kan nie meer so alles onthou nie, sê oom Theunis. Hy sê hy het 20 kinders, maar dié getal laat Soelie uitbars van die lag en sê: “Nee, hy het net 11.”

En as jy vra of daar ’n groentesoo­rt is wat hy nié plant of eet nie, blaf hy verontwaar­dig: “Wat praat julle nou? Ek eet ál die groente wat ek plant, want dis gesond. Daar is nie ’n ding wat ek nie eet nie.”

Soelie lag: “Hy hou niks van spinasie nie en hy eet glad nie enige hoenderof varkvleis nie.”

Oom Theunis grinnik. “Wat praat julle nou? Groente én vleis is goed vir ’n mens!”

 ??  ?? Oom Theunis en sy derde vrou, Liza, beter bekend as Soelie, oor die snikhete middaguur afgeneem in die groentetui­n in Fosterstra­at, Clanwillia­m, op grond wat die Strassberg­er-familie aan hom beskikbaar stel.
Oom Theunis en sy derde vrou, Liza, beter bekend as Soelie, oor die snikhete middaguur afgeneem in die groentetui­n in Fosterstra­at, Clanwillia­m, op grond wat die Strassberg­er-familie aan hom beskikbaar stel.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? In die skaduwee van die wingerd lê die laaste van oom Theunis se uie-oes en droog. ONDER Pampoen is een van sy gunsteling­e. REGS Tydens Platteland se besoek was die meeste lentegroen­te al geoes en het die tuin in die hitte en Wes-kaapse droogte na vog...
In die skaduwee van die wingerd lê die laaste van oom Theunis se uie-oes en droog. ONDER Pampoen is een van sy gunsteling­e. REGS Tydens Platteland se besoek was die meeste lentegroen­te al geoes en het die tuin in die hitte en Wes-kaapse droogte na vog...
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa