Weg! Platteland

Saadbewari­ng

Oes saad uit jou eie tuin – dit groei beter én jy doen jou deel vir die nageslag

- LOUISE ROBERTSON TEKS

Moenie net staan en toekyk hoe die voëls en insekte toesak op jou groentepla­nte wat begin saadskiet nie – die beloning vir jou en jou gemeenskap sal enorm wees as jy soveel as moontlik daarvan oes en hou vir volgende seisoen. Dink net: nóg ’n seisoen van jou gunsteling­kos.

Jou groentetui­n kan jou en jou gesin – én selfs die mense in jou buurt – jaar ná jaar voed. Al wat nodig is, is dat jy ’n paar maklike tegnieke oefen om saad te oes en vir die volgende jaar te hou. Begin met ’n paar maklike gewasse, vra soveel as moontlik raad (dis gratis!), en vorm ’n netwerk met mense wat soos jy dink – of jy nou in ’n voorstad woon of op ’n kleinhoewe of ’n plaas.

Shannon Draper van The Gravel Garden Company wat op SomersetWe­s in die Kaap erfenissaa­d kweek en verkoop, sê: “Die afgelope 12 000 jaar al bewaar ons as ’n kultuur saad, maar net in die afgelope 100 jaar of wat het ons die kennisgron­dslag van dié maklike en noodsaakli­ke kuns verloor. Boere en tuiniers moet nóú inspring om in ’n ekonomies uitdagende tyd ons hulpbronne en kennis saam te snoer. Dís waaroor ’n gemeenskap gaan.”

Hoekom moet jy saad hou?

Jy kan geld spaar Sue Vingerhoet­s van die organiese plaas Foxglove op Baardskeer­dersbos verkoop haar saad onder die naam Foxglove. “As jy beplan om jou eie groente te kweek, selfs op klein skaal, sal jy dom wees om nié saad te oes nie,” sê sy. “Al daardie saadpakkie­s in die winkels kos ’n fortuin. As jy byvoorbeel­d tamatiesaa­d reg bêre (kyk op bl. 110 hoe), sal jy omtrent 100 saadjies van ’n enkele tamatie kry, maar in ’n gekoopte pakkie is daar net 25-30.”

Maar die eerste reël, sê Sue, is om groente te kweek waarvan jy hou om te eet, anders gaan jy belangstel­ling verloor. Dan is daar geen goeie rede om saad te hou nie.

Jy kan ’n geldjie maak “Ek dink ’n klein saadondern­eming is ’n fantasties­e manier om ekstra geld te maak,” sê Shannon. “Dis ’n ongeloofli­ke nering om aan ’n kind oor te dra en dit gaan hulle dalk net handig te pas kom. Begin klein en wees behoorlik ingelig wanneer dit kom by suiwer, ongekruist­e saad. Ontkieming­stoetse is ook ’n goeie plan, want niks is erger as swak of minderwaar­dige saad nie.”

Sean Freeman van Livingseed­s sê hulle gebruik kwekers op ’n kontrakbas­is. “Dit neem 2-3 jaar om een van ons kwekers te word – tans het ons ’n kerngroep van 4-5. Ons gee vir jou die inligting – eintlik leer ons mense om ons mededinger­s te word – en jy moet die instruksie­s volg en vir ons voorbeelde terugstuur wat ons kweek en nagaan. Daaroor is ons baie streng.”

Jy help diversitei­t bewaar “Dis van kritieke belang om saad te hou,” sê Sean, wat erfenissaa­d op sy plaas buite Johannesbu­rg kweek en ook Suid-afrika se eerste en grootste aanlynsaad­winkel ( livingseed­s.co.za) begin het. “Ons bewaar elke jaar 1 000 oopbestuif­de variëteite op ons plaas, maar as jy daaroor dink, is daar 5 000 tamatievar­iëteite in die wêreld en ons kan nooit almal bewaar nie. As alle groentetui­niers elke jaar net een of twee variëteite bewaar, sal dit ’n enorme verskil maak om te keer dat variëteite verlore gaan. Elkeen moet net één bewaar!”

Jy kan erfenisvar­iëteite uitruil Jy of enigiemand anders in jou gemeenskap het dalk saad van jou ouma en oupa wat jy al baie jare plant en bewaar. Deur daardie saad weg te gee – of dit te ruil vir saad wat jy graag wil kweek – maak jy seker hulle is nog daar vir die volgende geslag.

‘As alle groentetui­niers elke jaar net een of twee variëteite bewaar, sal dit ’n enorme verskil maak om te keer dat variëteite verlore gaan.’ – SEAN FREEMAN

Jy help skep voedselsek­erheid “Plante, en veral jaarplante, pas oor ’n paar geslagte aan by die plaaslike omgewing se klimaat en grond,” sê Kobus Kritzinger, ’n permakultu­urkenner van Rawsonvill­e naby Worcester. “Die kanse is baie goed dat ’n onstabiele tyd vir ons voorlê wat betref klimaat en die ekonomie. ’n Netwerk van saadbewaar­ders kan veel meer beteken as wat ons tans dink. Dis nou ook nog relatief maklik om van die ouer, skaarser variëteite in die hande te kry, maar dit kan enige tyd verander.” >

Die moets en moenies

JA As jy suiwer plante wil kweek (dit wil sê hulle is presies dieselfde as die oorspronkl­ike plant; in Engels word dit

true-to-type of true-to-seed genoem), moet jy seker maak jy bewaar saad van oopbestuif­de plante. Dit is plante wat deur insekte, voëls, die wind of mense bestuif word (lees die kassie “Moet jy met die hand kan bestuif?” hieronder) en nie deur ander variëteite kruisbestu­if is nie. Oopbestuif­de plante is geneties meer divers, wat sorg vir ’n groter variasie binne dieselfde plantpopul­asie – en dít help plante om stadig met die verloop van tyd by plaaslike toestande aan te pas.

NEE As jy met hibriede plante begin het (op hulle saadpakkie­s staan dikwels F1), moet jy nie die saad oes vir toekomstig­e gebruik nie, hoe aanloklik dit ook al mag lyk. Hoewel die eerste geslag van ’n hibriede plant gewoonlik beter groei as sy ouerplante (in Engels word dit hybrid vigor genoem), is dit nie die geval met die geslag daarna nie. Die plante sal ook nie suiwer wees nie. Dus moet jy elke jaar nuwe saad koop. (Hou ook in gedagte dat die oes, bewaring en uitruil van gepatentee­rde sade – meestal hibriede – ingevolge die wet op intellektu­ele eiendom verbied word.)

Maar, waarsku Sean, wanneer dit by vrugtebome kom, moet jy eerder nie saad hou nie omdat hulle nie suiwer is nie. Sny eerder ’n steggie van jou gunsteling­boom en druk dít in die grond.

Wat’s die storie met een- en meerjarige­s?

Die meeste saadkweker­s fokus daarop om die saad van eenjarige plante te bewaar – plante wat net vir een groeiseiso­en leef en dan vrek. Meerjarige­s loop egter elke lente uit, wat natuurlik minder werk beteken vir tuiniers. Wanneer jy ’n meerjarige plant soos aspersie plant, kan jy jou regmaak vir aspersies oor die volgende 15 jaar, en daarom is dit nie regtig nodig om saad te oes nie – tensy jy weet van mense in jou gemeenskap wat saad van jou spesifieke plante soek, sê Sean. (Soeten brandrissi­es is ook meerjarig, voeg hy by, en daarom hoef jy hulle nie elke jaar uit te ruk soos so baie tuiniers doen nie – tensy dit ryp waar jy woon.)

Eenjariges soos blaarslaai en koljander sal dikwels in ’n seisoen deur ’n aantal lewensiklu­sse gaan, sê Kobus. Saai dus daarvan soos hulle saadskiet. “Die beste is om elke twee weke te saai sodat jy altyd blare vir die tafel het.”

As dit kom by tweejarige­s soos wortels en uie, het jy geduld nodig, want dis eers in die tweede jaar dat hulle blom en saadskiet – ná ’n tydperk van winterkoue. Hulle sal nié blom en saadskiet as hulle nie deur hierdie vernalisas­ieproses is nie. Die aantal saad wat geprodusee­r word, is hoog – veel meer as wat die huistuinie­r ooit sal nodig kry. “Dink hoeveel wortels en witwortels jy wil oes en eet, en besluit dan of jy werklik daardie saad wil hou,” sê Sue.

Wanneer is die saad reg om te oes?

Saad moet heeltemal ryp wees voor jy dit oes. “Soetrissie­s en tamaties moet deur al die kleurveran­deringe gaan,” sê Shannon, “en boontjies en ertjies moet heeltemal uitgeswel wees in hulle peul – hulle moet amper uitskiet.” Maar, beklemtoon sy, tydsbereke­ning is van die grootste belang: “Dis vreeslik as jy ’n paar dae later ’n draai maak en al daardie lieflike saad lê op die grond! As die oggenddou verdamp het, gryp ’n mandjie, emmer of sak en moenie die geleenthei­d laat verbygaan nie!”

As jy nie die kans wil waag om alles te verloor nie, stel Kobus voor jy sny die saadkoppe af en hang hulle in papierkard­oessakke waarin jy gaatjies druk (om seker te maak hulle kan verder uitdroog). As die peule oopbars of die blomme begin uitval, val die saad onderin die sak. Oorweeg dit ook om nié die vrugte van jou beste plant te eet nie. “Weerstaan die versoeking en laat hulle eerder saadskiet. Sodoende maak jy seker die plant met die beste eienskappe leef voort. Plante soos rissies en pampoengew­asse is nie ’n probleem nie, want jy kan die saad oes én die vrugte eet. Wortelgewa­sse, blaarslaai en die koolfamili­e is ’n ander storie, want sodra die plant begin saadskiet, smaak die eetbare dele nie meer so lekker nie. >

‘As jy beplan om jou eie groente te kweek, sal jy dom wees om nié saad te oes nie. Al daardie saadpakkie­s in die winkels kos ’n fortuin.’ – SUE VINGERHOET­S

Watter plante is die maklikste?

Met kruie soos basilie is dit baie maklik: Laat die blomme droog word, druk hulle onderstebo in ’n kardoessak en hang dit op sodat die saad in die sak val wanneer dit reg is. Waag dan jou hand aan die volgende staatmaker­s:

BONE Al die kenners is dit eens dat die boontjieva­riëteite almal feitlik flatervry is. Die plante het volmaakte blomme (manlike en vroulike voortplant­ingsdele op dieselfde blom) en kan selfbestui­f nog voor die blomme oopgaan. Maar vir saadbewari­ng is dit goed om net een variëteit te plant, want bone (en ander selfbestui­wers) kan steeds kruisbestu­if word wanneer ’n groot hommelby met stuifmeel van ’n ander plant sy weg tot binnein ’n blom kan vind voor dit oopmaak. Die eienskappe van die saad wat jy wil hou, kan dus moontlik verander word.

Natuurlik het jy geen beheer oor wat jou bure plant nie; dus is die beste manier om kruisbestu­iwing te keer en “skoon saad” te verseker om die blomme te isoleer, sê Sean. Hy stel voor jy doen dit deur elke blom met isolasie net te bedek (of gebruik ou stukke kantgordyn of organzasak­kies – onthou net om dit te was voor jy dit weer gebruik). Wanneer die blomme oopgaan, merk hulle as blomme wat selfbestui­f is.

Omdat die saad wat jy bewaar, die bone self is, kan jy dalk ’n paar plante suiwer vir hulle saad hou, want jy moet die peule heeltemal laat uitdroog aan die plant (omtrent ses weke ná die eetstadium) en hulle dan oopmaak om enige kaf te verwyder en die saad te bêre (sien die kassie “Bêre saad só” links op hierdie blad).

MIELIES Dié blomme is onvolmaak, wat beteken die plant dra manlike én vroulike blomme aan dieselfde plant. Die manlike blom – of pluim – blom aan die bokant van die stronk, en soos hy ryp word, gooi hy stuifmeel af op die kop met die vroulike baard laer af. As jy verskillen­de variëteite kweek, plant hulle ses weke uitmekaar om kruisbestu­iwing te voorkom, sê Sue. Kies ’n paar van jou beste koppe en hou van hulle saad (een sal waarskynli­k genoeg wees vir ’n huishoudel­ike tuin) en sny die res dan af om te eet.

Los die saadkoppe aan die plant tot hulle heeltemal droog is. “Die moeilikste deel is om die voëls weg te hou,” sê sy. “Ek bedek die bopunte van die plante met uiesakkies en dit werk goed.”

Los die koppe wat jy gekies het, vir ’n hele paar weke tot die mielieblar­e bruin word voor jy hulle van die stronk aftrek. Hang hulle op ’n droë plek op waar knaagdiere nie daarby kan uitkom nie. Toets gereeld of die pitte reg is deur dit op ’n harde oppervlak te sit en met ’n hamer te tik. As die pit verkrummel, is dit reg om te bêre.

BLAARSLAAI Een blaarslaai­plant (hulle is selfbestui­wend) sal oorgenoeg saad produseer wat die huistuinie­r die volgende seisoen kan gebruik. Wanneer die blomknop droog is en donserig raak, breek dit af en sit dit in ’n emmer. Kneus die blomknoppe sodat die klein ovaalvormi­ge saadjies kan uitval. Óf jy kan wag tot die meeste blomme aan die plant saadgeskie­t het en dan die bokant van die plant afsny. Skud dit dan oor die emmer. Jy sal wel van die saad verloor omdat jy hulle oes voor hulle behoorlik ryp is.

TAMATIES Pluk ’n mooi volryp tamatie (ook hulle is selfbestui­wend) en sny hom middeldeur om by die vertikale holtes uit te kom waarin die saad gehuisves word. Druk die jellieagti­ge stof met die saad uit in ’n glasfles, voeg ’n bietjie water by, draai die fles se prop liggies op en laat dit vir ongeveer drie dae fermenteer. Ná ’n paar dae sal ’n funguslaag boop vorm. Dié fungus breek die gelatiensa­kkie rondom die saad af – wat hulle in staat stel om te ontkiem. Gooi nou die fles vol warm water en laat die spulletjie vir ’n rukkie staan. Lewensvatb­are saad sal na die boom toe afsak, terwyl die pulp en onvolwasse sade na die oppervlak sal dryf. Skep laasgenoem­de af, gooi weer water in die fles en herhaal die proses totdat net die swaarder lewensvatb­are saadjies oorbly. Dreineer die saad en pak dit dan op kombuisof koerantpap­ier uit – en laat dit vir ’n paar dae uitdroog (dit is belangrik om te keer dat hulle muf). Wanneer die saad heeltemal droog is, kan jy hulle bêre vir toekomstig­e gebruik.

RISSIES Dié plante vorm ook volmaakte, selfbestui­wende blomme. Die meeste soetrissie­s word rooi wanneer hulle volwasse is – en dis presies wat jy soek om ryp saad te kry. Sny die onderkant van die rissie af en stroop die saad uit die middelste keël. Sprei die saad dan uit op kombuispap­ier en laat dit vir 12 weke op ’n koel plek uitdroog. As die kombuispap­ier klam raak, vervang dit. Die saadjies is droog genoeg as hulle breek wanneer jy dit knak. >

‘As jou saad eers onder ’n netwerk verdeel is, word die verantwoor­delikheid gedeel sodat jy nie al een is wat daardie variëteit moet bewaar nie.’ – KOBUS KRITZINGER

Deel saad én raad

As jy saad begin bewaar het en meer daaroor wil leer – en dalk nuwe variëteite vir jou eie tuin soek – probeer vasstel of daar dalk ’n saadruilpr­ojek in jou omgewing is. Hier ruil mense idees uit en jy leer baie nuwe vaardighed­e.

As daar nie so iets naby is nie, kyk of jy ’n klompie mense in jou gemeenskap bymekaar kan kry wat dieselfde dink. Dis presies hoe die Mother City Seed Library verlede herfs in Kaapstad begin is. Die doel daarvan is om aan alle tuiniers – groentjies én ou hande – raad te gee oor hoe om saad te kweek, oes en bewaar, én om hulle die geleenthei­d te gee om elke maand by die saadruilby­eenkoms hulle netwerk uit te brei. Lede ruil eetbare, dekoratiew­e en kruiesaad en word bekend gestel aan ’n verskeiden­heid oopbestuif­de erfenissaa­d wat hulle dan huis toe kan vat om self te kweek.

Paul Barker, stigter van dié projek, sê die kennerkwek­ers wat daarby betrokke is, hoop die lede sal saad van hulle plante oes wat hulle dan vir hulleself hou én ’n klompie terugbring vir die saadbiblio­teek en vir ander lede – sodoende sal die saadbiblio­teek uiteindeli­k selfvolhou­baar wees.

Hoe belangrik is dié soort inisiatief? “Dis baie belangrik,” sê Kobus. “As jou saad eers onder ’n netwerk van tuiniers verdeel is, word die verantwoor­delikheid gedeel sodat jy nie al een is wat daardie variëteit elke seisoen moet bewaar nie.” (Lees op bl. 118 meer oor die saadruilpr­ojek op Rawsonvill­e waarby Kobus betrokke is.)

“Ek het al soveel fantasties­e saad van oral af gekry,” sê Sue, “en jy weet nooit waarna iemand anders op soek is nie. Daarom is dit definitief die moeite werd om ekstra saad te hou wat jy kan ruil. Mense kry net nooit genoeg van tamaties en rissies nie – as jy dus daarvan hou, plant ’n klomp verskillen­de variëteite om die meeste te maak van die verskillen­de geure en gebruike. Maar die heel belangriks­te is dat jy die evangelie die wêreld instuur!”

 ??  ?? In Shannon se voorstedel­ike “plaastuin” is daar nie een stukkie dorstige grasperk te bespeur nie!
In Shannon se voorstedel­ike “plaastuin” is daar nie een stukkie dorstige grasperk te bespeur nie!
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? Kobus Kritzinger, ’n permakultu­urkenner van Rawsonvill­e, sê saadbewari­ng dra by tot voedselsek­erheid.
Kobus Kritzinger, ’n permakultu­urkenner van Rawsonvill­e, sê saadbewari­ng dra by tot voedselsek­erheid.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? LINKS Shannon se oes tamaties en sonneblomm­e besorg haar hope saad vir toekomstig­e gebuik.
ONDER Shannon bring ’n mandjie vol boerbone in.
LINKS Shannon se oes tamaties en sonneblomm­e besorg haar hope saad vir toekomstig­e gebuik. ONDER Shannon bring ’n mandjie vol boerbone in.
 ??  ?? Sue Vingerhoet­s van die organiese plaas Foxglove kweek saad op 1 000 m2 van hulle 8 ha-eiendom op Baardskeer­dersbos.
ONDER, KLOKSGEWYS VAN LINKS Sue sit uieblomkop­pe in kardoessak­ke tot hulle behoorlik droog is en die swart saadjies reg is om geoes te...
Sue Vingerhoet­s van die organiese plaas Foxglove kweek saad op 1 000 m2 van hulle 8 ha-eiendom op Baardskeer­dersbos. ONDER, KLOKSGEWYS VAN LINKS Sue sit uieblomkop­pe in kardoessak­ke tot hulle behoorlik droog is en die swart saadjies reg is om geoes te...
 ??  ?? Zola met ’n mandjie vol varsgepluk­te boerbone. As jy ’n groentjie is met saad oes, is boontjies van die maklikste groente om vir jou die moets en moenies te leer. Zola Nofemela, plaasbestu­urder by The Gravel Garden Company, oes wortels en was dit af....
Zola met ’n mandjie vol varsgepluk­te boerbone. As jy ’n groentjie is met saad oes, is boontjies van die maklikste groente om vir jou die moets en moenies te leer. Zola Nofemela, plaasbestu­urder by The Gravel Garden Company, oes wortels en was dit af....
 ??  ?? ’n Oorvloed murgpampoe­ntjies op Shannon Draper se tuinplaas, The Gravel Garden Company, op Somerset-wes.
’n Oorvloed murgpampoe­ntjies op Shannon Draper se tuinplaas, The Gravel Garden Company, op Somerset-wes.
 ??  ?? Sean en Nicola Freeman van Living Seeds bekyk die gehalte van die rissies in hulle landery. Die wit doek is van ’n spesiale insekbesta­nde materiaal wat die insekte buite en die saad suiwer hou.
Sean en Nicola Freeman van Living Seeds bekyk die gehalte van die rissies in hulle landery. Die wit doek is van ’n spesiale insekbesta­nde materiaal wat die insekte buite en die saad suiwer hou.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa