Welkom in die ysterdriehoek
In ’n klein driehoek in die noordooste van die Noord-kaap word die meeste van Suid-afrika se ystererts en mangaan uitgegrawe. As ’n mens dus op Kathu, Kuruman en Hotazel gaan kuier, kry jy ’n heel nuwe beeld van die ou Kalahari.
As ’n mens van die Kalahari praat, dink mense dadelik aan gemsbokke op rooi duine en groot stiltes terwyl die son skouspelagtig ondergaan. Maar op dié sanderige stuk Suid-afrika is die land se snelgroeiendste dorp, een van die wêreld se grootste oopgroef-ysterertsmyne en een van die langste en swaarste produksietreine op die planeet te vinde. Hier kry jy ook die grootste van slegs twee kameeldoringboom woude ter wêreld en die grootste varswaterfontein in die Suidelike Halfrond.
Kathu Die myn-konyn
Kathu word beskou as die ystererts hoofstad van Suid- afrika, want net suid van die dorp lê die yslike Sishenmyn. Maar Sishen is lankal nie meer die enigste myn hier rond nie; Kathu word omring deur tientalle kleiner ysterertsmyne. Dis moeilik om te glo, maar ’n paar jaar gelede het dinge in dié wêreld baie anders gelyk. Iemand wat dit baie goed onthou, is Forward Olifant, want hy het “saam met alles grootgeraak”.
“Yskor het in 1953 begin myn,” vertel Forward. “Dit was op ’n stuk van die plaas Dingle. Nou, die myndorpie was daai tyd daar by die myn en dié se naam was Sishen. Die hoofdorp was slegs vir blankes. Dan was daar die kampong met die naam White City, en daar het swart mense gebly. Hulle het dit White City genoem, want al die huisies was wit. Schoutenkamp was langs die treinspoor en die ou Kurumanpad, en dit is waar die Kleurlingmense gebly het.”
Die myn het só uitgebrei dat daar tussen 1972 en 1977 baie nuwe huise gebou moes word – iets wat gelei het tot die ontstaan van Kathu, sowat 15 km noord van Sishen.
“Maar van ’77 af het die wêreldwye sanksies teen Suid-afrika ook die mynbou hier erg geraak en baie mense het hulle werk verloor. Dit het veroorsaak dat Sishen en Kathu albei net halfvol inwoners was. Toe verkoop die myn Sishen, die dorpie, aan die staat en dit word toe, soos hulle dit daai jare genoem het, nieblanke-behuising. En die myn gee R1 miljoen sodat Kathu sy eie munisipaliteit kan begin.”
In 1980 het Kathu munisipale status gekry. En in 1992 is Sishen na Dingleton hernoem sodat mense nie deurmekaar raak tussen die myn en die dorpie nie. Maar op die oomblik is Dingleton se bestaan in die gedrang omdat dit op ryk ysterneerslae sit en die myn graag daarby wil uitkom. Nuwe behuising is reeds vir die inwoners gegee, maar ’n paar mense skop nog vas en eis groot bedrae voor hulle sal skuif.
“Ja, hierso word mense se wel en wee nog al die jare maar grotendeels deur die myn bepaal,” sê Forward.
‘ Toe ek hier aankom, het Kathu net een winkel gehad. Eers later jare het ’n petrolpomp, polisiestasie en Checkers bygekom.’
Pieter en Carla Rudolph kan dit bevestig. Pieter het in 1980 op Kathu aangekom en werk al 22 jaar by die myn. “Toe ek hier aankom, het Kathu net een winkel gehad wat alles aangehou het. Dit is I-stores genoem en het aan die myn behoort. Eers later jare het ’n petrolpomp, polisiestasie en Checkers bygekom. As jy by groot winkels wou uitkom en KFC wou eet, moes jy Kuruman toe ry,” sê Pieter.
Tussen 2007 en 2010 het Kathu ontsettend vinnig uitgebrei, sê hy. “Die ertsprys was toe besonders goed. Die myn het uitgebrei en behuising het skaars en dúúr geraak. Winkelsentrums en huise is teen ’n spoed gebou. Skielik was Kathu nie meer ’n klein dorpie nie en ander dorpe se inwoners het hierheen gekom vir inkopies.”
’n Wêreldresessie en China (die wêreld se grootste staalaankoper) wat ’n oorvloed staal gehad het, was die hoofredes vir die dramatiese val in 2015 van die ertsprys, sê Pieter. Die myn is deur ’n herstruktureringsproses: Sowat 2 600 permanente werkers het ’n pakket geneem en 1 300 kontrakteurs is geraak. >
“Dit was ’n baie taai tyd en die hele dorp is daardeur beïnvloed. Huispryse het geval, besighede het toegemaak, geboue het leeg gestaan. Die ertsprys het sedertdien herstel, maar nie almal het dit deur dié slegte tyd gemaak nie.”
Vir ’n ekstra inkomste en om ná sy aftrede iets te hê om te doen het Pieter ’n werkswinkel by sy huis begin waar hy slegs aan Toyota- en Mercedes-benzvoertuie werk.
“Dit is iets wat ek al jare doen – in ’n stadium het ek selfs voltyds ’n hersteldiens bedryf. Maar nou doen ek dit net saans ná werk en oor naweke.”
Carla, wat al 27 jaar ’n onderwyser is, het van 2011 tot 2016 ’n leessentrum by die huis gehad wat in ’n groot mate deur van die myne geborg is. “Maar die borge het te wisselvallig geraak en ek het laasjaar met ’n tuisskool begin. En smiddae help ek kinders met hulle huiswerk en ry hulle na hulle buitemuurse aktiwiteite toe aan.”
Die Rudolphs het drie jaar gelede ook twee gastekamers gebou toe hulle sien daar is altyd ’n vraag na verblyf op Kathu. “Die gastekamers doen goed, want hier is baie kontrakteurs wat vir ’n paar dae oorbly om by die myn te kom werk. Ons kry egter baie selde toeriste wat oorbly,” vertel Carla.
DIT IS IRONIES dat die Laerskool Kathu in die vet jare blykbaar in ’n treurige toestand was. Dit het ’n nuwe skoolhoof geverg om die skool ordentlik reg te ruk. Hammies van Niekerk onthou die dag in 2006 toe hy by die skool aankom: Daar was 600 kinders en verder “boggherol”.
“Hierdie was ’n braak land. Die skool was R300 000 in die skuld, baie leerlinge se skoolgeld was uitstaande, en die een of twee sportspannetjies wat hier was, het nie regtig afrigters gehad nie. Die skool is gedwing om met die personeel te werk wat op Kathu beskikbaar was, want daar was nie behuising vir nuwe onderwysers nie en huurpryse was ontsettend hoog.”
Hammies het die mynbaas gaan spreek. “Ek het vir hom gesê hy wil tog topingenieurs hê wat by die myn werk, en sulke ingenieurs soek topskole vir hulle kinders. Toe sê ek vir hom as ons toponderwysers wil kry, moet hy help met behuising. Die myn het toe 10 huise aan die skool beskikbaar gestel.”
Dit was een van die skoolbeheerliggaam se lede, Chris Minnie, wat Hammies verder gehelp het om “’n doelwitgedrewe benadering” vir die skool saam te stel.
“Ons het storieborde laat maak waarop ons ons hele plan uiteensit, en dit teen die skool se mure opgesit sodat almal kon sien waarheen ons op pad is.”
Vandag het die skool 1 700 leerlinge, 65 onderwysers en alle klasse word in Afrikaans én Engels aangebied.
“Ons het nou basies in elke sportsoort ses spanne (vir elke ouderdomsgroep), en ons rugbyspan het Grey Kollege verlede jaar twee keer geklop. Maar ons gee aan almal ewe veel aandag – daarom doen ons drama fantasties en ons spreekkoor tel onder die bestes in die land. Hier is soveel geleenthede. En dít hier op Kathu.”
Maar dit, sê Hammies, is net die beginfase van wat die skool nog alles moet bereik. “‘Kan nie’ bestaan nie. Jy moet altyd met ’n plan loop.”
Hammies het op Nababeep in Namakwaland grootgeword en voorheen 7 jaar op Calvinia gewoon. En voor sy skuif na Kathu het hy 16 jaar op Hartswater skoolgehou – 12 van daardie jare was hy ook ’n boukontrakteur.
“Ek en my vrou is eintlik plaasmense en dit het ’n ruk geneem om op Kathu aan te pas. Alles hier draai om die myn. Dit is ’n heel ander bedryf as waaraan ons gewoond was. Maar as yster teen yster skuur, veredel dit mos. Net so het ons en die mense mekaar ook veredel, voel ek. Ons bly en werk nou lekker hier.”
IN 2006 HET ’N MAENDOGTERSPAN ’n koerant op Kathu begin. Die Kathu
Gazette word deesdae selfs in Kimberley en Upington versprei.
“Toe ons begin het, het ons alles self gedoen. Dan is die koerant op CD gesit en na Bloemfontein gekoerier sodat dit daar gedruk kan word,” vertel Hester Nortje oor die beginjare. Vandag is daar ’n hele span mense wat aan die koerant werk, onder andere haar dogter, Judi Bolweg, die redakteur. Hester proeflees nog die koerant en help om adverteerders te werf.
“Ek kan nie ophou werk nie, want ek weet nie wat ek dan met myself sal aanvang nie. Kyk, Kathu is glad nie ’n dorp vir ou mense nie. Hier is nie eens ’n aftreeoord nie.”
Sy vertel die enkele ouer mense op die dorp noem hulleself die Goue Gerwe, en hulle samel deur die jaar geld in sodat hulle saam op toer kan gaan.
“Solank jy dus kan bybly en jouself kan vermaak, kan jy op Kathu woon, maar andersins moet jy skuif.” >
Hester sê hulle doen ongelukkig baie stories oor die munisipaliteit se korrupsie. “Hulle het ’n pragtige gebou en binne is alles so ghrênd, maar hier word geen dienste gelewer nie. Ons het al stories gedoen oor die riool wat in strate afloop en hulle rekeningstelsel wat op die koffie is, maar daaraan word min aandag gegee.”
Judi sê sy geniet die stories oor die mynbedrywighede die heel meeste. “Ek moet sê ek het op Kathu geleer hoe interessant die mynbou is. Dis fantasties om die topbestuur van die myne te ontmoet en met hulle te gesels. Dis fassinerend hoe hulle myne met soveel mense en soveel teikens bestuur. Ek dink nie almal besef watter groot invloed mynbou op ons land het nie.”
Judi sê die mynbou maak Kathu ’n dinamiese omgewing wat flink groei. “Dit is asof dit oornag hier begin wemel het. Die afgelope 10 jaar het hierdie dorpie ontplof, en deesdae is dit vol mense van ander stede en selfs ander lande. Maar Kathu is geensins ’n toeristedorp nie en daarom is hier regtig niks is om te doen nie. En as die myne ’n dip vat, dan vat die hele dorp ’n dip.”
AS ’N MENS MET DIE INWONERS gesels, word dit gou duidelik die gewildste uithangplek is die Kalaharibuiteklub. Buiten die pragtige gholfbaan is hier ook ’n gimnasium, rugby, sokkeren krieketveld, skietbaan, perdeklub en restaurant. Die bestuurder, Floris Kruger, sê die gholfbaan word gereken onder die 20 beste bane in die land en is deel van Kathu se kameeldoringwoud.
“Ernie Els het al hier gespeel. En ons het al ’n hele paar plaaslike ouens gehad wat professioneel gaan speel. Dit is uniek om sulke ongelooflike geriewe in so ’n plattelandse omgewing te hê.”
Hoewel die klub aan die Sishenmyn behoort, is hulle verantwoordelik vir hulle eie inkomste. ’n Groot deel van die geld word gemaak uit die landgoed met sy 121 huise.
Floris vertel hy wou eintlik graag predikant word, maar toe het hy vir ’n ingenieursdiploma aan die Kathukollege gaan studeer. “Ek wou nie op die myn werk nie, want ek hou nie daarvan om vuil te word nie.”
Toe gaan gee hy skool, verkoop besighede, en boer selfs ’n ruk lank voor hy in 2010 as bestuurder by die klub kom werk.
“Nou is ek weer lus vir ’n nuwe uitdaging. Ek sal graag ’n bietjie wil wegskuif, dalk Kaap se kant toe, hoewel ek mal is oor die Noordkaap se mense. Dit is unieke, vriendelike mense wat hou van partytjie en ’n kameeldoringboom kan uitbrand met ’n kuier.” >
Kuruman Waar’s die ou dae…
Kuruman, sowat 60 km noordwes van Kathu, is ook ’n dorp vol pragtige kameeldorings, maar is eintlik bekend vir sy enorme fontein. Die Oog van Kuruman is blykbaar die grootste fontein in die Suidelike Halfrond en hier borrel daagliks 20 miljoen liter kristalhelder water uit. Samuel Daniel het dit in 1801 “ontdek”, maar die fontein was lank voor dit aan die Tswanastamme bekend en hulle het dit “ga-segonyana” genoem, wat “klein kalbassie” beteken.
Die dorp is ook bekend vir die Moffatsendingstasie waar Robert en Mary Moffat tussen 1820 en 1870 hulle werk gedoen het. Die ontdekkingsreisiger sir David Livingstone het baie in die sendingstasie oorgebly en dan van daar af sy reise voortgesit. In die tuin van die sendingstasie het hy die Moffats se jongste dogter, Mary, gevra om te trou.
Vandag vergader mense steeds Sondae in die sendingkerk en die Oog verskaf nou nog al die dorp se water, maar oudinwoners sê Kuruman het rof en lelik geword.
“Ek is ’n gebore Kurumaniet,” sê Zandre Allandale, “en in my kinderdae was dit ’n veel netjieser en rustiger plek. Dit was nog altyd meer ’n boeredorp as ’n myndorp, maar het die afgelope tien jaar taamlik uitgebrei as gevolg van die myne in die omgewing. Snaaks genoeg het daar saam met die uitbreiding ook verval gekom. En saam met al die mense het misdaad gekom. Ek sal nie sê ons voel vreeslik onveilig nie, maar ons is definitief versigtig. Verlede week is ’n man en vrou op hulle plot aan die buitewyke van die dorp aangeval – en die man is vermoor. Dit was ’n skok vir die ganse gemeenskap.”
Zandre vertel ook hoe mense in haar kinderdae partytjie gehou het by die Oog. “Nou ja, dít kan ’n mens deesdae nie meer doen nie. Die plek het agteruitgegaan en is vandag heeltemal verwaarloos.”
Sy werk saam met Elretha van der Merwe by die eiendomagentskap Remax en hulle sê dit is nie altyd so maklik nie.
“Die pryse op Kuruman word geraak deur die doen en late van die myne. As die myne goed doen en meer mense kom hiernatoe, word woonhuise natuurlik skaars en duur. Maar die teenoorgestelde gebeur ook, en dít maak dit moeilik om te weet watter prys vir watter tyd reg is. En ja, Kuruman is nie noodwendig ’n dorp waardeur jy ry en dink, hel, ek wil hier kom bly nie. Daarom moet ons hard werk.” >
‘Kuruman was nog altyd meer ’n boeredorp as ’n myndorp, maar het die afgelope tien jaar taamlik uitgebrei as gevolg van die myne in die omgewing.’
TOE ELNA RADEMEYER baie jare gelede deur Kuruman ry, het sy gedink: “Ek wil nie eers hier begrawe word nie.” Nou bly sy en haar man, Louis, al 40 jaar hier.
“Daardie jare het dit baie mooier gelyk as nou. Kuruman het toe pryse gewen vir sy pragtige ingange. En ons het danse in die dorpsaal gehou waar die vroue in aandrokke was en die manne in pakke.”
Ja, sê Elna, baie het verander. En deesdae raak die verkeer só erg dat ’n verkeerslig vier, vyf keer rooi slaan voor ’n mens oor kom, maar tog wil sy nie negatiewe dinge sê oor die dorp waar hulle baie goeie jare deurgebring het nie.
“Ons het in 1978 ’n bakkery hier begin. Later het dit só groot geword dat ons Sasko se fabriek oorgeneem en 60 000 brode per dag gebak het.”
Hoewel hulle nou in hulle Plaaskombuis en Mini-bakkery op veel kleiner skaal werk, is dit steeds “’n moewiese storie”, sê Elna. En as ’n mens gaan inloer waar Louis al van twee-uur die oggend af aan die gang is, sien jy gou hier is nie tyd vir rondstaan nie. Hy gesels terwyl deeg gemeng, dosyne en dosyne broodrolletjies gebak en bestellings deurgegee word.
“My ouers het ’n bakkery op Upington begin. Ons was sewe seuns en twee dogters, en by die skool is ons Die Brode genoem. Saans het ons hulle gehelp – dit het vir my gevoel ek het permanent deeg onder my naels!”
Dit het hom duidelik nie afgeskrik nie, want sedertdien het hy nog amper altyd gebak – deesdae bak hy en sy span elke dag basies 12 uur lank.
Hotazel ‘Hot as hell’
Die storie word vertel dat Dirk Roos en J.W. Waldeck in die somer van 1917 60 km noordwes van Kuruman plase opgemeet het. Ná ’n baie warm dag teen die droë Gammagararivier het ou Dirk die aand die laaste plaas wat hulle opgemeet het, “Hot as hell” genoem. Baie jare later het die geoloog Leslie Boardman oor die plaas gestap toe sy magnetometer glo heeltemal bo sy skaal uitbeweeg het. Dit was ’n duidelike teken van die ryk mangaanneerslae in die omgewing. Mynbou is in 1958 begin... en dit was die ontstaan van Hotazel, die dorpie.
Tot vandag toe word rondom Hotazel gemyn, maar tog het die plekkie nooit vreeslik uitgebrei nie. Op die oomblik is daar ’n kleinerige OK Grocer, vulstasie, slaghuis, NG kerk en goeie skool, en alle geboue en huise behoort aan South 32, ’n Australiese mynmaatskappy.
“Ons het al so baie gehoop hier kan ’n bietjie meer gebeur op Hotazel. Darem nog winkels, jy weet, ten minste ’n Pep. Maar o vodde, niks wil gebeur nie,” bekla Annatjie Liebenberg haar lot in die Hotazel-slaghuis.
Sy het op ’n plaas hier naby grootgeword en bly nou weer 20 jaar op Hotazel, maar het ook al op baie ander plekke in die land gewoon. >
“Vier maande voor ons getroud is, het my man ’n boorkontrakteur geword. Ek was só kwaad, want toe weet ek ons swerftog gaan begin. Nou ja, ná baie draaie het ons teruggekom, en drie jaar daarna is my man dood. So asof hy geweet het sy einde is naby en hy my darem weer hier wou los waar hy my gekry het.”
Annatjie sê die myn gee aan elke besigheid op die dorp een huis. Sy bly in die slaghuis se huis. Die eienaar, Hoepel Mostert, huur ’n woonstel by die kerk.
“Die afgelope paar jaar is hier heelwat huise gebou, maar daar is steeds ’n skaarste. Mense kom settle nie hier nie. Dis vreemd, want al is dit so ’n klein plekkie, leer ken jy niemand regtig nie,” sê Annatjie.
Hoepel noem dit ’n kom-en-gaanbesigheid. “Dis letterlik net Annatjie en die dominee en nog so paar mense wat al lank hier is, en sover my kennis strek, gaan die dominee nou aftree en waai.”
Hoepel het self eers drie jaar gelede op Hotazel kom bly toe hy die slaghuis oorgeneem het. Hy is op Stellenbosch gebore en het in die Vrystaat grootgeword voor hy ’n konstruksiebedryf op Daniëlskuil, sowat 100 km suid van Hotazel, begin het.
“Die slaghuis was ’n nuwe en onbekende ding vir my, maar ek geniet dit nou baie. Omdat Kuruman nie meer ’n slagpale het nie, moet ons ons vleis op Upington gaan haal. Dit is moeite en ’n groot uitgawe, maar nou kry ons ook regtig baie goeie vleis.”
Dis nie net vleis wat van ver af kom nie, sê Hoepel. Die dorp se water kom ook met ’n ellelange pypleiding uit die Vaalrivier naby Delportshoop. En word dit regtig so warm hier? “Die hele wêreld hierlangs is mos van die mangaan en yster, en yster hou mos van hitte. So ja, dis asof ’n mens hier van bo af gebak en van onder af gebraai word,” sê Hoepel.