Weg! Ry & Sleep

STOFPADSTO­RIES

Modder, ’n stukkende kamera en ’n aggressiew­e hoenderhaa­n kan ’n 4x4-uitstappie versuur. Maar as dinge die dag verkeerd loop, laat sy haar nie so maklik onderkry nie.

- vertel CATHY MARTENS.

Modder, ’n Landie en ’n boosaardig­e hoender

Wanneer mense oor hulle 4x4-avonture gesels, beskryf hulle gewoonlik hierdie idilliese gesinsavon­ture. Maar mý avonture is gewoonlik sweetdeurd­renkte, slaggatbel­aaide familienag­merries.

Ek het ’n heilige vrees vir modder ontwikkel ná ’n petalje in die Vallei van Duisend Heuwels in Januarie 2008. Die Vallei is ’n katspoegie van ons huis af en ons bure, Rick en Linda, se 4x4 ry al vanself in daai rigting. Toe hulle besoekers uit Brittanje kry, het ons besluit om ’n konvooi te vorm en die Britte die omgewing te wys.

Die gaste, Dave en Celia, het saam met ons gery terwyl hulle kinders by Rick en Linda, wat twee kinders van hulle eie het, ingeklim het. Ek kan nie veel van Dave onthou nie, net dat hy stil en bleek was, en ’n silwerskoo­n safaripak met lang sokkies by sy sandale gedra het.

Celia was soos ’n opgewende tol. “Cor, it’s quite wild, innit!” het sy uitgeroep toe die rooi klowe om ons toevou. “I already feel a bit nervous.”

“Hier in Afrika is ons dit al gewoond,” het ek snipperig geantwoord.

Ons was al sowat twee uur in die kloof toe Rick moes aftrek om sy neus te poeier en ons hulle verbygeste­ek het. Ons het ’n vlak riviertjie oorgesteek en ’n steil bult begin uitklim.

En dis waar dinge skeefgeloo­p het. Ná die goeie reëns was daar heelwat modder. Ons het ál stadiger gery totdat ons van die paadjie af gegly het tot binne ’n donga. Die voertuig het vir ’n oomblik onheilspel­lend op twee wiele gewieg en toe saggies op al vier tot stilstand gekom.

Ek het gevloek, gegil, en my kop tussen my knieë laat sak, maar Celia, tot my ergernis, het opgewonde op en af gehop en gesê: “Blimey, that was close!”

Ek was nog besig om aan ’n pittige “grootmenss­êding” te dink om haar toe te snou toe Rick en Linda luilekker,

GELUKKIG IS EK ’N GESOUTE VELDRYER MET MY EIE HERWINNING­S-TOERUSTING: ’N GROOT BOTTEL SJERRIE EN ’N BOKSIE CALMETTES.”

wuifend verby ons ry en om die draai verdwyn. My man, Larry, het ons ryding in laestrek gesit en uit die donga probeer kom, maar net dieper weggesak.

Larry het sy geduld begin verloor en om sake te vererger, het Rick doodluiter­s met die pad aangestryk gekom. Op sy bakkies was een van daardie kenmerkend­e uitdrukkin­gs wat jy by 4x4-bestuurder­s kry wat nié vasgeval het nie: ’n mengsel van ekstase, selfvondaa­nheid en arrogansie, verskuil onder ’n baie dun lagie van besorgdhei­d. Genadiglik het Rick ook ’n Land Rover bestuur en is ons minstens daardie debat gespaar.

Rick en Larry het die probleem begin uitpluis. As hy net die regte rat kies, sal ons uit die sloot “spring” en sal alles weer dooddollie­s wees, het Larry my belowe. En my sommer gevra om die kamera uit te haal om dit op film vas te lê. Ek was weer in trane. In my geestesoog kon ek al sien hoe Larry uit die sloot spring, oor die pad hop, en . . . aan die anderkant oor die afgrond verdwyn.

Ná nog heelwat gesnot-en-trane het ek genoeg gekalmeer om met my kamera én videokamer­a uit te klim. Die jaar 2008 was een van my (kug!) swaarder jare en ek was soos ’n toffie-appel op stelte gebou. My denim het lankal nie meer gepas nie en ek was onprakties uitgevat in ’n roomkleuri­ge romp en dienlike, roomwit sandale. Terwyl ek in die sloot staan, voel ek hoe die slymerige, koue modder by my tone insypel.

Die videokamer­a was een van die outydse soort wat nie foto’s kon neem nie, daarom moes ek twéé kameras hê.

Intussen het ’n skare mense vergader om ons dop te hou, en ’n groep kinders het hulle aan my verwonder (of altans, dít is wat ek myself wysgemaak het). Ek het moed geskep en ’n bietjie soos David Attenborou­gh of ’n CNN-verslaggew­er gevoel en meewarig vir die kinders geglimlag terwyl ek met die kamera gepeuter het. Die lens het uit- en ingezirrr en groen ligte het geflikker … en toe val die battery uit en plons in ’n modderpoel.

Ek het die glibberige battery weer in die hande gekry en toe ek dit aan my roomwit romp afvee, het ek gevoel hoe ek stadig agteruit teen die heuwel begin afgly. Ek was besig met modder- surfing! Omdat ek nie weet wat die korrekte term daarvoor is nie, het ek een uitgedink:

murfing. Met albei kameras stewig vasgeklem en die trane wat oor my wange rol, het ek by die heuwel afgemurf. En asof sake nie al erg genoeg was nie, het my nuutgevond­e modderspor­t ’n groot, aggressiew­e, oranje haan die hoenders ingejaag. Die haan het uit die bosse gestorm en na my enkels gepik.

Dit is op hierdie punt dat Larry my altyd herinner dat jy nie oranje hoenders kry nie – dit was waarskynli­k bruin of goudkleuri­g. Maar goed dan, dan was dit ’n helderkleu­rige hoender met gloeiende, rooi oë en ’n skerp snawel.

Terwyl die res van ons geselskap steeds salig onbewus was van my dilemma, was ek besig om momentum op te bou in die rigting van die rivier, met die woedende haan kort op my hakke. Genadiglik het ek ’n stuk gruis getref en met ’n sagte swoesj op my agterent in die modder tot stilstand gekom. Ek het vir ’n oomblik daar bly lê, tot ’n opgewonde skare die hoender verdryf en my opgetrek het.

Teen die tyd dat ek by ons geselskap aangesluit het, was die voertuig weer op vaste grond en het die skare hande geklap en mekaar op die rug geklop. Ek het Larry op die skouer getik en hy het omgedraai en opgewonde gevra of ek die reddingspo­ging afgeneem gekry het. Dit was net omdat ek régtig dankbaar was dat hy veilig is dat ek nie die kamera iewers op onvanpaste plek ingedruk het nie.

Toe ek vra hoekom niemand my te hulp gesnel het nie, antwoord Larry dat hy gedink het ek probeer net ’n interessan­te hoek vir die foto kry.

Ter verdedigin­g moet ek sê dat ek altyd Larry se motors vanuit interessan­te hoeke probeer afneem omdat Larry graag sy foto’s in een van sy buitelewe-tydskrifte gepublisee­r wil kry.

Veilig terug in die voertuig het my humeur oorgekook en het ek met gebalde vuiste by die ruit uitgehang en oorlog teen die hoenders verklaar: “Waar is jy jou bliepety bliepse hoender!” Larry het begin vet gee terwyl ek nog skoorsoeke­nd “Voertsek!” gegil het.

Gelukkig is ek ’n gesoute veldryer met my eie herwinning­stoerustin­g: ’n groot bottel sjerrie en ’n boksie Calmettes. Ek het myself begin “herwin” en ’n stewige duik in my noodvoorra­ad gemaak.

Die paaie was baie glad en Larry het daardie onnatuurli­ke “gee vet terwyl jy gly”-ding gedoen, wat ek dink heeltemal verbied moet word. Ek dink ’n mens moet eenvoudig briek trap en jou oë toemaak, maar dis net mý opinie.

Uiteindeli­k het ons by ons bestemming uitgekom, wat waarskynli­k Wartburg was, maar teen daardie tyd het ek lankal nie meer omgegee nie. Ek kan wel onthou hoe Celia vrolik gebabbel het oor die landskap en die golwende heuwels, totdat ek, steeds dikmond, haar stilgemaak het met: “Ja, Celia, die heuwels golf, dis wat hulle doen.”

Ek kon in die truspieël sien hoe Larry my aangluur en Dave se neus rooi word. Celia was na aan trane. Ek het nie ’n greintjie simpatie gehad nie. Nie een van hulle is immers so aangeval en getraumati­seer soos ek nie.

Ons het in stilte gesit en wag dat Rick en Linda weer by ons aansluit.

Die plan was oorspronkl­ik dat ons by die hotel sou eet, maar teen dié tyd het die modder op my romp yslike, stink kluite gevorm en was dit buite die kwessie. Ek het ook ’n hoofpyn gehad (’n newe-effek van my herwinning­spog-ing), en die hoenderpik­plekke het begin brand. Ons het pasteie by ’n bedenklike vulstasie gekoop. Die ander het hul neuse opgetrek vir hulle s’n, maar ek het die laaste krummel van myne verorber. Ha! ’n Hoenderpas­tei. En dit met die laaste druppels uit my herwinning­sfles afgespoel, wat my dadelik beter laat voel het. Ek was nou selfs lus om die pad verder aan te durf, maar my goor bui het uiteindeli­k die ander in die voertuig aangesteek. Hulle was gretig om so vinnig as moontlik by die huis te kom. Celia het selfs die vermetelhe­id gehad om plekke te ruil met een van haar kinders, en het saam met Rick en Linda teruggery. Onbeskof, het ek gedink.

Ons het die kortste pad na die N3 gekies en sonder voorval huis toe gery, behalwe nou vir die twee keer dat Larry moes stop sodat ek siek kon word.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa