FOTOGRAFIE-RUBRIEK
Panning is ’n tegniek waarmee jy ’n dier in die hardloop op so ’n manier afneem dat die dier in fokus is, maar die agtergrond strepe maak. Sodoende word die aksie nóg beter beklemtoon. Dit is een van die moeilikste tegnieke in wildfotografie, maar vir dié
Neem diere in die hardloop af
Villiers antwoord:
Baie amateurwildfotograwe is doodtevrede met die “gewone” portretfoto’s van diere. Maar dan is daar mense soos Marcelle wat ’n bietjie dapperder is en eksperimenteer met hulle kameraverstellings om kreatiewer foto’s by hulle versameling te voeg. Jy bemeester egter nie die panning- skoot oornag nie . . .
Wat’s die verskil?
Wildfotograwe gebruik gewoonlik ’n vinnige sluiterspoed om te verseker dat die agtergrond en die voorwerp in die voorgrond skerp in fokus is en dat niks dof lyk nie. Wanneer die dier(e) begin beweeg, versnel hulle die sluiterspoed om die beweging steeds skerp vas te vang.
Met ’n panning- foto probeer jy egter bewegende diere só afneem dat die agter- grond smeer ( blur) terwyl die dier heeltemal, of minstens gedeeltelik, in fokus is. Marcelle se foto is ’n puik voorbeeld – die sebras is 90% in fokus (dis net hulle hoewe wat nie skerp is nie) en die omgewing om hulle is heeltemal gesmeer.
Hoe kry ’n mens dit reg?
Die twee belangrikste elemente is die verstellings en die tegniek. Stel jou kamera op S of Tv en kies ’n stadige sluiterspoed – tussen 1/15 sekondes en 1/80 sekondes.
As die diere vinnig beweeg, soos in die geval van die sebras wat aan-aan speel, kies ’n vinniger waarde (nader aan 1/80). As hulle stadig beweeg, kies ’n stadiger spoed (nader aan 1/15). Dis belangrik om te onthou dat daar nie ’n “tower”-sluiterspoed-waarde is wat jy elke keer kan gebruik nie. Die kombinasie van beweging en ligom-standighede gaan altyd die eindresultaat beïnvloed. Speel rond met die sluiterspoed elke keer dat jy hierdie skoot beproef.
Panning- foto’s werk die beste wanneer die dier(e) van die een kant na die ander voor jou verbykom (regs na links of links na regs). Kies jou verstellings en volg nou die diere een vir een met jou kamera. Neem ’n foto elke keer as een van die diere verby jou beweeg en maak seker die kamera beweeg egalig van links na regs (of andersom) wanneer jy die knoppie druk, sonder enige rukbewegings. Sommige fotograwe monteer hul kamera op ’n driepoot, en laat die driepoot se kop eweredig swaai. Die kombinasie van ’n stadiger sluiterspoed en die bewegende kamera laat die agtergrond smeer, maar omdat die dier en die kamera “saam” beweeg, is sekere dele in fokus.
Vir my lyk dit die mooiste wanneer die dier se lyf in fokus is en die bene beweeg (foto onder), soos by hierdie gemsbok in die Kgalagadi. Dit beklemtoon die aksie. Moenie tou opgooi as jy aanvanklik sukkel nie. Hou aan probeer soos Marcelle. Een of ander tyd gaan jy die vrugte van jou oefening pluk.