ETOSHA-JAGLUIPERD VS DIE SPRINGBOKKE
Ek en my vrou, Louise, het einde verlede jaar via die Kgalagadi na Windhoek in Namibië gery, op pad na die EtoshaNasionale Park.
Ons voertuig het egter teëspoed gekry net voor die Etosha Lodge, waar ons plek vir twee nagte bespreek het. Die lodge se vriendelike personeellede het gelukkig ons woonwa en motor tot by ons kampeerplek gesleep. My swaer Vincent Hole het toe ons voertuig Windhoek toe gesleep vir herstelwerk aan die hidrouliese pomp. Vincent was ook so vriendelik om vir ons sy Toyota Hilux te leen sodat ons verder kon toer.
Ons het die ongelooflikste landskappe en diere gesien, ’n geveg tussen ’n olifant en ’n renoster by die Halali-watergat aanskou én ’n jagluiperd-vangs beleef. Om die jagluiperd in aksie te sien was die hoogtepunt van ons vakansie.
Ons het vir die dag uitgery na Namutomi en op pad terug na ons kampeerplek het ons heelwat voertuie langs die pad sien staan. Ons het stilgehou en van die ander toeriste het vir ons vertel dat hulle pas ’n jagluiperd gesien het wat ’n bok probeer vang. Dit het begin laat raak en ons en al die ander toeriste het besluit om na ons kamp terug te keer. Ek het egter ’n gevoel gehad iets spesiaals gaan gebeur en het besluit om weer ’n draai te gooi by die plek waar die kat gesien is.
Net toe ons daar aankom, sien ons die jagluiperd rig sy visier op ’n troppie springbokke. Ek het my kamera opgestel en begin foto’s neem met die kamera op sy outomatiese verstelling. Die jagluiperd was vinnig uit die blokke. Hy’t blitsvinnig rondom ons bakkie gehardloop, maar kon nie ’n bok plattrek nie. Ons adrenalien het behoorlik gepomp, ons kon nie glo dat ons so iets beleef nie.
Die volgende oomblik loods die jagluiperd nóg ’n aanval en ons sien net stof trek. Ek het dadelik besef hy het ’n bok gevang. Ons het die jagluiperd dopgehou terwyl hy rustig aan sy vangs vreet.
Dié aand om die kampvuur was dit natuurlik al waaroor ons gepraat het.