TOER MET MABUA SE GOEIE, SLEGTE EN RITTELENDE PAAIE
Ons toer deur Namibië en Botswana in Oktober 2014 was ’n belewenis. Ons het die toer afgesluit deur die noordelike kampe van die Mabua-gebied te besoek. Lieflike teerpad tot by Hukuntsi. Ons het vroeg-vroeg al in die pad geval vir die 111 km lange roete vanaf Kang na Hukuntsi. Dis ’n lieflike teerpad en ook die laaste een wat jy vir ’n lang ruk teëkom. Vanaf Hukuntsi na Zutshwa is ’n kort stukkie geteer en daarna het jy ’n lekker breë grondpad gekry.
In Zutshwa het dit kopkrap gekos om die regte tweespoorpaadjie-afdraai te vind. Toe ons dit uiteindelik kry, het ons gesien dis duidelik gemerk. Die tweespoorpad van hier af was deur taamlike dik sand en het deur ’n konsessie-area geloop. Dit was ’n fees om te ry en ons het baie wild gesien.
Ritteltitrit. Vanaf die Kaa-hek tot by Sizatswe-pan het daar egter ’n rittelrit-rooiduinsandspoor op ons gewag. By Sizatswe is die T-aansluiting van die Kaa-sirkelroete. Ons het links gedraai om by die kampplek te kom. Dit is ’n tipiese Kalahari-kamp wat in ’n groot sirkel gebou is, met ’n boom in die middel en ronde sementblokkies met ’n 50 cm-deursnit om op te braai. Ons uitslaan vierpoot-braairooster se pote het nie eens daarop gepas nie.
Swaai-swaai tot by Swartpan. Die volgende dag het ons anti-kloksgewys gery op die sirkelroete na Swartpan, waar ons oornag het. Ek moes swaai en swenk vir ’n vale om die doringbosse te probeer vermy, maar my Toyota het deurgeloop! By Swartpan was daar ’n bietjie water vir die diere en hier het aasvoëls die middag ’n konferensie gehou. Ander diere was bitter skaars.
Die ander kampe op die roete het maar dieselfde gelyk as dié by Sizatswe en slegs by Swartpan was daar ’n duidelike pleknaambord.
Die lang pad terug. Om ons toer voort te sit na Polentswa moes ons weer die hele ritteltasie vanaf die Sizatswe-pan na die Kaa-hek aanpak om daarvandaan die regte afdraai na die Nossobvallei te neem. Terloops, by die Kaa-hek is die beste kampplek met lopende water en afskortings vir ’n stort en bostoilet.
Die hele 81 km na die Nossobvallei was weer ’n erge sinkplaat-tweespoorpad. Ons gemiddelde spoed was tussen 20-30 km/h. Dit het soos ’n ewigheid gevoel, veral omdat daar ook geen diere was nie. Ons kon egter uitsien na Polentswa, Bitterpan en Rooiputs.
Herinneringe. Ons het huis toe gekeer met bewyse van die toer aan ons voertuig, hande en voete en het ons vriende in detail vertel van ons lekker trippie. Ons is en bly Afrikaners wat lief is vir kamp, 4x4-ry in ons lugversorgde bakkies, vuurtjies aanslaan en om ’n tjoppie en wors te braai. Ek haal my hoed af vir ons voorsate wat oor berge en klowe geploeg het sonder die geriewe wat ons vandag ken.
En volgende keer los ek die “slim vrou” by die huis, want sy bly links neuk, al sê my gesonde verstand dit is anderkant toe!