Alle T3 Syncro’s
wat in Suid-Afrika gebou is (tussen 1991 en 1992) het ’n 2,1 liter-viersilinderpetrolenjin wat as die Was
serbokser bekendstaan. Hierdie waterverkoelde bokserenjin het 82 KW en 171 Nm ontwikkel.
Enjinombouings is baie algemeen met dié bokserenjin wat nie so gewild was nie. Gewilde ombouings sluit in ’n vergroting van die enjin na ’n 2,3 liter-petrolenjin en dan ook die vervanging van die enjin met Toyota-dieselenjins.
Die Syncro se vierwielaandrywing is effens anders as die stelsels wat in hierdie tyd gebruik is. Die Syncro word gewoonlik deur sy agterwiele aangedryf. In die voorste ewenaar is ’n viskeuse koppeling ( viscous coupling) wat outomaties ook wringkrag na die voorwiele stuur as die agterwiele vastrapplek verloor. Daar is geen knoppie om te druk nie, want dit gebeur outomaties wanneer daar ’n verskil van meer as 3% is tussen die vooren agterwiele se draaispoed.
Dan het die modelle wat in Suid-Afrika beskikbaar is, ook ’n ewenaarslot op die voorste en agterste ewenaars gehad. Omdat die Syncro redelik hoog staan, het hy ’n höe swaartepunt en die beperkte wielartikulasie van onafhanklike vering maak ewenaarslotte noodsaaklik vir onebgaanbare terrein.
Die Syncro het ook nie ’n laestrekratkas nie, maar eerder ’n ekstra lae rat wat die Duitsers “G” noem. Die “G” staan vir Gelände, wat rofweg vertaal kan word as “veld”. Dit is in die gewone viergang-handratkas ingebou en word met die gewone rathefboom geskakel.
Die Syncro was
in Suid-Afrika beskikbaar as ’n Caravelle of ’n Microbus: Die Caravelle het vierkantige hoofligte, terwyl die Microbus ronde hoofligte het. Die Caravelle het ook kragstuur en lugversorging as standaardtoerusting, terwyl die Microbus daardie toerusting slegs as opsionele ekstras het.
Verder het die Caravelle ook elektriese vensters en kantspieëltjies, asook ’n toereteller. Die Microbus het aanvanklik standaard met staalvellings uitgekom, terwyl die Caravelle allooivellings het. Later het die Microbus ook sulke allooivellings gekry.