MIC SE RUBRIEK
Só beïnvloed hoër vering brandstofverbruik
’n Verlangse familielid van my ry 4x4 en reis graag, dikwels in die veld. Sy veldvoertuig het ’n nuwe buffer en wenas gekry, en daar is ook ’n ekstra spaarwiel op sy nuwe agterbuffer, wat beteken dat hy ’n goeie kandidaat vir ’n opgeknapte veringstel is.
Maar hy weier hardkoppig, want hy sê daardie paar sentimeters sal sy brandstofverbruik die hoogte laat inskiet. Hoewel dit my hart breek om nié my maatskappy se vering op sy voertuig te sien nie, is daar tog sin in wat hy sê.
Syfers kan nie lieg nie
Ek het altyd noukeurig boekgehou van die brandstofverbruik van my Fortuner D-4D outo. The 3,0-dieselenjin het gemiddeld 10,81 liter/100 km oor sy eerste vier jaar gelewer, en dit was ’n kombinasie van stads- en langafstandritte. Die afgelope twee jaar doen die Fortuner diens as ma se taxi, met feitlik geen ritte op die langpad nie, wat die verbruik na 12,8 liter/100 km opgestoot het.
Ek het die Fortuner nuut gekoop en dit vier maande lank in sy standaardvorm bestuur. In daardie tyd was die verbruik gemiddeld 10,78 liter/100 km.
Nadat ek ’n snorkel laat opsit het, het die brandstofverbruik verbeter na 10,33 liter/100 km, en toe ek die suspensie met 5 cm laat lig en die voorbuffer met ’n bosbreker en wenas vervang, het die verbruik gestabiliseer op gemiddeld 10,91 liter/100 km. Die brandstofverbruik het dus effens versleg.
Ek het ’n dakrak laat opsit, maar dit ná vyf maande weens die windgeraas laat afhaal. Die verbruik op die oop pad, met die dakrak op, was 11,12 liter/100 km. Ek het ook ’n verrigtingskyfie laat installeer. Op die snelweg, teen ’n konstante spoed, was die verbruik dieselfde, maar in die stad het dit na 12,02 liter/100 km opgeskiet. Die rede hiervoor was die versoeking van die ekstra krag en ’n swaar voet.
Die FJ Cruiser wat ek nou het is doodeenvoudig swaar op brandstof. Die veringstel wat ek laat installeer het, het geen verskil aan die verbruik gemaak nie, maar die dakrak het die verbruik met 12% opgestoot.
Voor die wind
Terwyl ek die Fortuner bestuur het, moes ek dikwels tussen Johannesburg en Bloemfontein pendel. Ek het toe agtergekom dat die windrigting ook ’n rol in brandstofverbruik speel. As ek teen 120 km/h sowat 400 km teen die wind afgelê het, was my brandstofverbruik tot 12,68 liter/100 km. As ek op dieselfde dag teen dieselfde spoed teruggery het, met die wind van agter, was my brandstofverbruik 9,73 liter/100 km.
Dit is ’n feit dat ’n groter ryhoogte die voorste area van die motor groter maak. Dit verhoog windweerstand, wat weer tot hoër brandstofverbruik lei. Maar die wind het ’n baie groter invloed op die brandstofverbruik as die nuwe vering gehad.
My ervaring is dat ’n geligte vering, vergeleke met ander faktore soos ’n dakrak en windrigting, nie ’n groot invloed op brandstofverbruik het nie.