Weg! Ry & Sleep

JACO GESELS

Moenie ’n vulstasie misry nie

-

Jy ken seker daai “O gaats, wat nou?”-gevoel wanneer iets iewers in ’n afgeleë plek skeefloop? Wel, indien nie, het jy nog nie genoeg gereis nie. Ek het op ’n slag anderkant Askham saam met ’n man in sy Hilux op pad Upington toe gery. Toe ons verby die afdraai na Askham ry, het ek vinnig na die brandstofn­aald geloer en gesien dat dit ongeveer by die halfpadmer­k gelê het. En dat die man lekker teen 130 km/h aangesuike­r het met ’n swaar sleepwa agter ons. Ek het ook geweet dat Upington nog minstens 180 km verder was.

Ek kon nie verstaan waarom hy verby Askham se brandstofp­ompe gery het nie, want tussen ons en Upington was daar níks.

In ’n stadium het ek half subtiel oor die brandstofk­wessie begin uitvra en geskimp dat ons dalk stadiger sal moet ry as ons Upington wou haal. Naderhand het die brandstofn­aald só vinnig begin daal dat ons 80 km/h moes ry. En toe 60 km/h. Toe ons uiteindeli­k stilhou en volmaak by ’n vulstasie in Upington, het ons meer as 77 liter se diesel ingegooi. Dis nou in ’n tenk met ’n grootte van 81 liter.

Ons begin toe gesels en ek vra die ou toe of hy al sonder brandstof gaan staan het. “Ja,” het hy geantwoord, “al twee keer. En jy?” “Nee,” het ek half skugter gesê, “nog nooit nie.”

In hierdie uitgawe het Charles nog ’n goed nagevorste artikel geskryf oor wat om te doen as jy jouself in ’n “O gaats”-oomblik in die boendoes bevind. Die belangriks­te reël is natuurlik om te sorg dat dit in die eerste plek nooit gebeur nie, maar soms is dinge buite jou beheer en dis hier waar daardie waardevoll­e raad handig te pas gaan kom.

Omdat ’n nuwe jaar uitgestrek voor ons lê, het ons dit ook goedgedink om met ’n lys van nie minder nie as 33 dinge vorendag te kom wat jy gerus in 2016 kan probeer. Dinge so uiteenlope­nd soos om jou wederhelf 4x4-opleiding te laat doen (probeer jou voertuig iewers met ’n gebreekte enkel uitry) of om bietjie meer uit te vind oor die sterrekons­tellasies in die nagruim saans bo die kampvuur.

Gerrie het ook met ’n paar 4x4-kenners gaan praat oor watter belangrike toerusting jy eerste op jou ryding moet aanbring. En nee, dis nie ’n Bulls-plakker op die agterbuffe­r nie.

Ek hoop julle almal gaan ’n wonderlike 2016 hê. Want as jy eers jou wa se neus in die rigting van die stil ooptes gedruk het en die grondpad maak “gggghhhh” onder jou wiele, is daar bittermin dinge wat ’n mens nog van stryk af kan bring. Maak net seker jy ry nie verby ’n vulstasie as die volgende dorp nog dóér ver lê nie.

Nouja toe, maak vas die gordels. Hier gaat ons.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa