Weg! Ry & Sleep

STOFPADSTO­RIES

Dís hoekom ons reis

- DEUR JACO KIRSTEN

Hoekom pak ons ons rygoed en verkas die vreemde in? Dis nie eers ’n nuwe verskynsel nie. Dink maar aan die Groot Trek. Geen GPS’e, laaistelse­ls, kampvriesk­aste, sonpanele of DVD-spelers vir die kinders agterin nie. En as jou ryding gebreek het of jou osse het siek geraak, moes jy self sien kom klaar.

Nêrens kon jy vinnig vir ’n koue bier stilhou as die son die witwarm waks uit jou en jou wa gebrand het nie. Daar was geen padstallet­jies waar jou beter helfte na goetertjie­s en k*k kon kyk nie. Geen Wimpy of KFC as jy begin moeg raak het vir die gekookte eiers en droë frikadelle nie. Dis nou as jy in die eerste plek so gelukkig was om blou eiers en droë frikadelle in die wakis te hê. Suiwer waansin, sê ek julle.

Miskien was dit drank. Soos Tolla van der Merwe gesê het: “As ’n dronk man hiér is, wil hy dáár wees. En as hy dáár is, wil hy hiér wees. En hy wil ry.”

Soos die spul Engelsmann­e wat in 2013 in die Kaap in ’n klein Fiat Panda geklim het en binne tien dae tot in Londen gery het. Jy kan mos nie so iets op ’n nugter maag aanpak nie?

Die onderneem van lang reise is so oud soos die mensdom self. Hoe dink jy immers het die cowboys in Amerika uitgekom? Of hoekom praat die mense in Argentinië Spaans? Die ouens wat vandag in Turkye woon, se voorgeslag­te was eeue, selfs duisende jare gelede, ’n soort van ’n Engen 1-Stop vir die Romeine en Grieke. In die weste van Indië is daar nog die oorblyfsel­s van ’n Portugese kolonie wat eers in 1961 tot ’n einde gekom het en in die Karibiese See is daar ses eilande waar Nederlands steeds een van die amptelike tale is. Dan kyk sommige mense nog hulle nuwe buitelands­e bure skeef uit!

Só was ek al in 32 lande en het ek 4x4 gery in Afrika, Noord-Amerika en Europa. Elkeen was heeltemal uniek en lekker op sy eie manier. Nes met Debbie Harry en Natalie Portman moet jy nie gaan staan en stry oor watter een die mooiste of lekkerste is nie. Elkeen is wonderlik op hulle eie manier.

Nes dit nie regverdig is om die duine van die Namib met ’n luilekker kuier al langs die Mosambieks­e kus te vergelyk nie. Of ’n kampstoel langs ’n vuur in die Kalahari met ’n uitsig oor die sneeubedek­te pieke van Lesotho nie.

Ek was min of meer 10 jaar oud toe ek my eerste proesel van die Namib gekry het (ek is nou ’n goed ingeloopte 46). My pa het by ’n mechanic pêl in Durban breë staalvelli­ngs vir sy Cortina-bakkie laat maak. Met bande van ’n Mercedes-Benz-sedanmotor daarop. En só het my pa, my oom, my ouboet en ek een Julie-vakansie die gekuier op die familiepla­as tussen Mariental en Maltahöhe agterweë gelaat en afgesit Sossusvlei toe. In die laat 70’s was daar nie die toeristesa­medromming van vandag nie. Geen overlandin­g-vragmotors vol luidrugtig­e, jong bleek buitelande­rs of buitenspor­ige toegangsge­lde nie. Net ’n paar kameeldori­ngbome, ’n buitetoile­t en ’n kraan.

Die Cortina was agterwiela­angedrewe, maar dit het ons nie gekeer nie om in dik sand verby die teken te ry wat streng verklaar het: “Slegs 4x4s”.

Hoekom het my pa besluit dat ons Sosssusvle­i moes gaan besoek? Ons kon dan verder lekker op die plaas gekuier het? Was dit om Sossusvlei se duine uit te klim? Om na die Sesriemgat­e te gaan kyk? Of om snags om die vuur na die sterre te staan en kyk? Ek weet nie. Al wat ek weet, is dat dit by my ’n saadjie vir reis geplant het.

Of dalk was die saadjie reeds daar. Dalk het ons almal daardie saadjie. Dalk is dit natuurlik om te reis. Dalk is dit eintlik abnormaal om heeldag op een plek te sit en na ’n rekenaar- of TV-skerm te sit en staar.

Dink net hoe dit sou wees as jy ’n duisend jaar terug in tyd kon reis en vir iemand vertel dat ons eendag heeldag in lugverkoel­de kantore sal sit. Dat net ons gesigte en voorarms nou en dan son sal sien en dat ons soms siek sal word van kieme wat in ons kantore se lugverkoel­ing wegkruip en vermenigvu­ldig. Dat ons nie die voëls sal kan hoor sing of die gewaai van ’n ligte bries op ons vel sal kan voel nie.

Wat sal hulle sê as jy hulle vertel dat jy eendag daagliks met ’n dringendhe­id wat aan angs grens in jou ryding moet spring. Om dan vir ’n uur in spitsverke­er te sit voordat jy in daai einste siek gebou gaan sit om genoeg geld te verdien om te kan eet en ’n huis en ryding te kan bekostig? En dan moet jy nog verduideli­k dat jy ook geld moet wegsit sodat jy eendag, nadat jy jou jou malle moer afgewerk het, op jou agterent kan sit en dit rustig vat. Ek dink hulle sal jou aankyk asof jy waansinnig is. En hulle sal seker ’n punt beet hê.

Is jy depressief nadat jy dit gelees het? Goed so! Dis mos vakansie, so gaan klim nou in jou ryding, vat die pad en voel hoe al die spanning wegsmelt en dit ál hoe lekkerder raak soos die klippies tieng-tieng maak. Dís hoekom ons reis.

Dink net hoe dit sou wees as jy ’n duisend jaar terug in tyd kon reis . . .”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa