Weg! Ry & Sleep

’n Wye draai deur Botswana

- FOTO’S: EVAN NAUDÉ

Vat twee dele ongerepte Botswana, voeg een deel Namibië en ’n skeut Zimbabwe by en jy’t ’n lekker Afrika-avontuur op hande. Evan Naudé het die pot in ons buurlande gaan roer.

Ek werk deur die kanale op die TV teen die muur in die restaurant Granny’s Kitchen, langs die Tapiwa Shellvulst­asie in Letlhakane. Daar is honderde kanale, maar die enigste een wat werk is ’n opvoedkund­ige program waar ’n onderwyser met ’n biologiele­s doenig is. Toe gaan sit ek maar en leer meer van ensieme. Ten minste is daar lugversorg­ing hier, want buite kom lê Botswana se hitte op jou soos ’n dik wolkombers.

Dis een van daai minder opwindende oomblikke vir ’n reisiger, soos om by ’n lughawe of grenspos te wag. ’n Soort reislimbo. Gelukkig weet ek dit sal nie lank aanhou nie, want dis hier waar ek die res van my toergroep vir Bhejane 4x4 Adventures se Trans-Botswana-toer ontmoet. Een ná die ander sluit hulle by ons aan.

Terwyl ons toerleier, Petri Cronje, my medereisig­ers verwelkom, stap ’n netjies geklede man nader. “Is jy die man van die tydskrif?” vra hy en stel homself as Tipson Mahube voor. Sy visitekaar­tjie lees Chairman. Lyk my dis sý plek die. “Sê vir die mense ons het 50 ppm-diesel hier, die enigste in die dorp,” sê hy. Tipson wys my watter van die voertuigmo­delle in die parkeergeb­ied hy al gery het, veral op reise deur Suid-Afrika. Nou help hy ander reisigers, veral dié op pad Kubu-eiland toe, met bly- en eetplek langs die vulstasie by Granny’s. Ek groet vir Tipson, want my groep is reg om te vertrek en ek is gretig om die mensdom agter te laat.

’n Eiland in die stof

Van Letlhakane ry ons 35 km noord op ’n teerpad wat anderkant Kubu-eiland se kantore in ’n grondpad en mettertyd ’n tweespoor verander. Ons volg hierdie spoor vir ’n verdere 45 km noordwaart­s deur grasvelde, oor ’n deel van die Ntwetwe-pan en uiteindeli­k tot by Kubu-eiland op die Sowa-pan.

Kubu-eiland is ’n eienaardig­e, byna mistieke plek. Die woord beteken “seekoei” in Tswana, maar dit maak min sin wanneer jy in die droë seisoen hier teen ’n dorre rotskoppie stilhou, omsingel deur nimmereind­igende soutpanne. Dis nou tot jy in ag neem dat die panne vol water word in die reënseisoe­n en dié klippe en reuse kremetartb­ome die enigste ding is wat, soos ’n seekoei, kop bo water hou.

Die gebrek aan water is iets wat jy in ag moet neem as jy hier kom slaap – jy moet genoeg saambring om mee te kook, te drink én te was. Hier is ook net ’n handjievol puttoilett­e, wat ek sal aanbeveel jy besoek voor die son hoog in die lug sit.

Die eenvoudigh­eid van die kampgeriew­e dra egter by tot Kubu-eiland se bekoring, want dit gee jou ’n insig in die ongenaakba­arheid van die omgewing. Op ’n plek soos dié moet jy jou tone in die stof druk, voel hoe die son jou vel wil kou en saans kyk hoe die kolossale kremetarte hulle takvingers na die Melkweg uitsteek. Wat jy nié moet doen nie, is om musiek kliphard uit jou voertuig te speel in die kampterrei­n. Soos ons bure daardie aand gedoen het. Moenie daai ou wees nie.

Van dorre panne na nat vloedvlakt­es

Van Kubu-eiland af mik die konvooi vir sowat 100 km in ’n noordweste­like rigting oor die Makgadikga­di-panne na Gweta, vanwaar ons met die A3-teerpad verder weswaarts na Maun kan reis. Dis ’n stadige en warm 100 km in sanderige tweespore deur goudgeel grasvelde en oor die spierwit soutpanne.

Hier en daar wyk twee strepe van die hoofroete af en kerf ’n bruin sirkel deur die soutkors. “Dis ouens wat donuts kom gooi,” sê Petri kopskudden­d. Buiten die feit dat dit, ter wille van die omgewing, nie toegelaat word om die hoofroete te verlaat nie, is dit ook ’n dobbelspel met ’n swaar toervoertu­ig. “Hierdie panne lyk dalk hard, maar dis net die hoofroete wat gekompakte­er is,” verduideli­k Petri. “Jy dink nog jy ry, dan sit jy tot op jou asse in die modder vas.”

Ons stoot aan tot in Gweta en vorder vinnig op die teerpad na Maun. Ons volgende bestemming is op die oewer van die Botetirivi­er sowat 30 km voor die dorp. Die groen gras, skadu en swembad by die Drifters Maun Lodge is ’n welkome lafenis ná die stowwerige droogte van Kubu. Dit is altyd vir my eienaardig om in ’n swembad reg langs ’n pragtige rivier te swem, maar soos met byna elke oord op ’n rivieroewe­r in Botswana is dit die blyplek van krokodille en seekoeie.

Die volgende oggend ry vyf uit ons toergroep na Maun-lughawe om ’n draai oor die Okavangode­lta in ’n Cessna te gaan vlieg. Ek het al ’n redelike aantal lugmyle onder die belt, maar hierdie klein vliegtuigi­e is ’n eerste vir my. “Dit is bietjie stamperig,” vertel Petri, “en ’n mens kan dalk naar word. Een van ons vorige gaste het ’n rekord van vier sakkies volgemaak!” Nou maar dankie hoor, dink ek, dit stel my glad nie gerus nie!

Ek klim voor in die beknopte vliegtuig en sit byna skouer aan skouer langs George Teessen, die vlieënier en eienaar van Air Shakawe. Met die vier ander passasiers agter ons is die hele vliegtuig vol. Ná ’n paar stampies met die opstyg verdwyn my bedugtheid egter en ons verkyk ons aan die landskap sowat 150 m onder ons. Dis kompleet soos ’n toneel uit ’n National Geographic-fliek met groot troppe diere wat salig onbewus van ons teenwoordi­gheid op die vloedvlakt­e wei. ’n Uur vlieg verby (verskoon die woordspeli­ng) en ons land weer stampstamp in Maun.

George vertel my hy is oorspronkl­ik van Bapsfontei­n af, maar werk al die afgelope agt jaar in Botswana. “Die mense noem ons deesdae bushpilots, en ek sê jou die naam pas goed op ’n warm dag. Jy sweet so in daai vliegtuig dat jy ruik asof jy uit die bos kom,” sê hy laggend.

Ek vra hom uit oor die lewe van ’n vlieënier in hierdie geweste. “Ons beste dae is wanneer jy vier van die groot vyf op een dag uit die lug sien,” vertel hy. “Dis net luiperds waarmee jy sukkel.” Maar daar is ook minder lekker dae, al is jy hoe ervare, vertel hy. “As ons slegte weer het, raak dit rof. In erge turbulensi­e skud jy so erg dat ek al ’n paar harde stampe teen die kop gekry het. En as iemand siek raak wat kos met ’n sterk geur geëet het, raak daai vliegtuig éérs klein.”

Op soek na tiere

Ons sluit weer by die res van die toergroep aan, maak ons voertuie vol en doen ’n paar inkopies voor ons Maun vaarwel roep. Ons skiet suidwes op die A3 vir net onder 100 km tot in Sehithwa, waar ons noord draai op die A35-teerpad. Sowat 270 km verder hou ons by die Shakawe River Lodge stil, ons blyplek vir die volgende twee aande.

Met ’n lang dag se ry agter die rug is die kampeerter­rein op die oewer van die Okavangori­vier ’n welkome uitspanple­k vir die res van die dag. Buitendien is daar ’n paar manne in ons groep wat moet uitrus vir ’n visvanguit­stappie vroeg die volgende oggend.

“Hierdie is ’n spinner,” wys Theo O’Neil, een van ons groep se ywerige vissermann­e, my douvoordag die volgende oggend. “Maar vir die tiervisse gaan ek ’n Rapala probeer,” sê hy en grawe ’n kleurvolle stukkie aas uit ’n blikkie.

Ons is net betyds om die stertkant van die jaarlikse baberloop te vang – die ideale omstandigh­ede vir tiervis uittrek.

Die babers is agter kleiner visspesies soos kurpers aan wat hierdie tyd van die jaar uitbroei. Hulle swem teen die stroom en klap hulle sterte op die water tussen die papirusse om die kleiner visse uit te dryf. Die opportunis­tiese tiervisse is nooit ver agter hulle nie, daarom bly ons kyk vir ’n gewoel in die rivier of groepe spierwit egrette wat oor die water saamdrom.

Dit neem ons langer as twee uur om die eerste byt aan ’n lyn te kry en dis boonop amper per ongeluk. “Hei!” skree Connie Gibson skielik. Terwyl die res van die groep druk besig gooi en inkatrol, het sy ’n verrassing gekry terwyl sy ’n blaaskans gevat het en haar lyn net in die water laat hang het.

“Ek sit nog so lekker en gesels, toe voel ek hier pluk iets!” lag sy met die eerste vis van die dag aan haar lyn. Dit

As die trekpleist­ers rondom Ngepi nie opwindend genoeg is nie, kan jy gaan afkoel in die krokodil- en seekoeihok, ’n drywende traliehok in die Okavangori­vier.”

 ??  ??
 ??  ?? WAAR SOUT GROEI. In die droë seisoen is die Makgadikga­di-panne ’n byna eindelose soutvlakte, maar wees versigtig as jy hier ry – onder die kors skuil sagte modder.
WAAR SOUT GROEI. In die droë seisoen is die Makgadikga­di-panne ’n byna eindelose soutvlakte, maar wees versigtig as jy hier ry – onder die kors skuil sagte modder.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa