Weg! Ry & Sleep

’n Kgalagadi-avontuur van ’n ander kleur

-

Ek skryf na aanleiding van die “Kgalagadia­vontuur” in WegRy (#88). Vroeg in die artikel kry ’n mens reeds ’n aanduiding van watter soort avontuur hier gepraat word, wanneer jy lees die voertuie was “volgepak met biltong en bier”.

Ek glo nie dat al die lede van die “eienaardig­e mengelmoes manne” gelukkig kan wees dat daar in ’n nasionale tydskrif aan almal verkondig word dat hulle ’n reël oortree het (deur laat te kom in ’n oornagkamp) en dat dit dan op so ’n manier gestel word, dat dit neerkom dat die skurk in die verhaal die beampte is wat sy werk ordentlik gedoen het nie.

Die sin: “Manne, ek dink nie ons gaan Union’s End en terug voor donker haal nie,” dui daarop dat die manne presies geweet het dat hulle die horlosie moet dophou. Almal van ons wat uitry (selfs Union’s End toe) weet dat jy op die laaste moet omdraai wanneer jy die helfte van jou beskikbare tyd uitgery het.

Die sin “… soos stout tieners sluip ons ’n halfuur ná die park se aanklokreë­l by die kamp in en ek hoop dat niemand ons raak- gesien het nie” wek die indruk solank niemand my raaksien/ uitvang nie, kan ek maak wat ek wil.

Wanneer my oortreding wél raakgesien word, vra ek nie om verskoning en dra die gevolge daarvan nie, maar begin ek die beampte se persoon aftakel en slegsê. Hy is ’n “taamlik gesette man”; “hy dra kortbroek, plakkies en ’n gholfhemp wat sy bes prober om ’n fris maag in toom te hou”. Verder die afpraat: “‘Naand, manne,’ sê Kortbroek in ’n stem wat klink soos ’n skoolhoof…” Dan word daar probeer om die beampte ’n rat voor die oë te draai: “Gordon probeer selfs om die rol van die dom buitelands­e toeris te speel, maar die skoolhoof wil niks weet nie.” Die “skoolhoof” is seker nie onnosel nie.

Wanneer jy na jouself as stout tieners verwys, moet jy seker maar deur ’n skoolhoof uitgetrap word. Hoe verwag jy moet ’n enkeling, in die donker, ’n groep mans wat erken dat hulle ’n reël oortree het, aanspreek?

Die laaste paragrafie is weer veronderst­el om Sanparke te sus met: “Welgedaan, Sanparke...”

Hoe anders kon die storie nie gelees het as die oortreders om verskoning gevra het en die gevolge soos manne “gevat” het nie. ’n Mens sou glo dat die regte ding is om nou te doen, is om in dieselfde tydskrif ’n verskoning aan die beampte en die leserspubl­iek te rig. LUDWIG NELSON PER E-POS Dankie vir jou skrywe. Dis duidelik dat ’n paar dinge in die artikel jou ontstel het. Gun my dus die geleenthei­d om ’n paar van hulle te bespreek. Jy skryf: “Vroeg in die artikel kry ’n mens reeds ’n aanduiding van watter soort avontuur hier gepraat word, wanneer jy lees die voertuie was ‘volgepak met biltong en bier’.”

Die bier is egter slegs saans in die kamp gedrink, dus kan ek nie sien wat daarmee fout is om met bier en biltong te reis nie.

Hou in gedagte dat dit ’n uiteenlope­nde groep vreemdelin­ge van ’n paar lande was. Ja, dinge het skeefgeloo­p, soos dit in baie gevalle gaan. Dis nie altyd lekker of wenslik nie, maar dis mos maar hoe die lewe werk.

Ja, daar is spot gedryf met die situasie, maar Evan sluit immers die episode af met: “Welgedaan, Sanparke”, en beaam dat hy begrip het vir Sanparke se reëls.

Was dit ons doel om vir Sanparke, of enige van sy personeel te na te kom? Nee, natuurlik nie. En as iemand onder daardie indruk is, vra ons jammer vir die misverstan­d. Ons was hoogstens daaraan skuldig om ’n lekker humoristie­se staaltjie te publiseer oor ’n klomp ouens wat hulle met die tyd en afstand misgis het en derhalwe soos stout skoolkinde­rs oor die kole gehaal is.

Maar net om enige twyfel uit die weg te ruim, wil ek graag aanhaal uit ’n brief wat ons ontvang het van ’n Sanparkeko­mmunikasie­bestuurder, aan wie jy ook jou brief gestuur het. Sy skryf onder meer aan ons: “Persoonlik dink ek dis ’n baie oulike artikel en plek-plek het ek my amper dood gelag.” Ek stel voor ons almal oorweeg dieselfde pragmaties­e benadering. – Redakteur

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa