Weg! Ry & Sleep

Namibië se woestynriv­iere

Verken die ongerepte Kaokoland en die noordweste van Namibië saam met en Bhejane 4x4 Adventures.

-

Ons ontmoet mekaar die namiddag by die Ruacana Eha Lodge en kies koers na die Kunene River Lodge. Langs die pad sal ons by die Ruacana-valle stilhou (as die tyd ons toelaat) en die Ruacana-kragstasie besoek, wat ’n betekenisv­olle terrein tydens die Bosoorlog was.

Ná ’n verpligte veiligheid­svergaderi­ng eet ons ’n stewige ontbyt. Vandag ry ons al langs die Kunenerivi­er af tot by die Epupa-valle, waar ons twee dae gaan deurbring en ook ’n Himba-stat gaan besoek.

Ons dag begin met ’n lekker ontbyt, en daarna is Okang- wati, die hartland van die Kaokoland, op die spyskaart. Ons slaap die nag aan die voet van Van Zylspas, en berei ná ’n ordentlike aandete voor vir die volgende dag se stamperige pad tot in die Marienflus­s.

Vandag tem jy die berugte Van Zyls en verlustig jou in die mooi uitsigte. Ons ry deur die Marienflus­s en terug na die Kunenerivi­er. Ons kampterrei­n vir die volgende twee nagte is op die oewer van die Kunenerivi­er. Daar sal tyd wees om die Marienflus­s te verken of net in die kamp te ontspan.

Ons ry vandag deur die Marienflus­s en hou vir middagete stil by Rooidrom. Ons ry dan terug kampterrei­n toe al langs die Khumib af. Marble Camp, ons oornagplek, is genoem na ’n marmermyn in die omgewing.

Ná ontbyt val ons in die pad en volg ons die loop van die Khumibrivi­er. Ons hou ons oë oop vir die woestynoli­fante en ander diere. Ons gaan die Hoarusib-rivier ná middagete binne, wat ons al die pad na Purros neem, waar ons twee nagte gaan oorslaap.

Ons val vroeg in die pad en ry verder af in die Hoarusibri­vierloop. By Amspoort kruis ons die Hoanibrivi­er, en ry ons verder tot by die Khowarib Schlucht. Dis ’n lang, maar lekker dag waarop ons wild kan sien en kan beleef hoe die landskap van die Kaokoland verander. Ons maak weer vol by Sesfontein op pad na ons oornagplek.

Op ons laaste dag ry ons weer in ’n rivierloop af. Ons verruil die Haonibrivi­er vir die Ombonde-rivier. Ons gaan die grootste deel van die dag in dik sand en deur stofgate ry, wat ’n groot plesier is vir ’n 4x4-ryer. Dis die beste manier om ’n ongeloofli­ke reis af te sluit.

Ons groet almal met die woorde: “Sien jou op die volgende toer van Bhejane 4x4 Adventures.”

Om te bespreek, bel Bhejane by 044 535 9257 of stuur e-pos na info@bhejane.com. Besoek www.bhejane.com.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa