RYGOED NUUT
Dink jy die Mazda BT-50 is lelik? Kyk weer
Toe die eerste weergawe van die huidige Mazda BT-50 so vyf jaar gelede in SuidAfrika bekend gestel is, het 'n hele paar van ons motorskrywers onderlangs na mekaar gekyk en gedink: “Wat de hel …?” Want die stilering was, wel, uniek. Veral die neus voor en die blink agterlig-eenheid het negatiewe kommentaar uitgelok. Dit was soos geen ander bakkie nie. Maar meganies was hy identies aan die nuwe Ford Ranger. Met ander woorde, hy sou redelik oraait verkoop het, nie waar nie? Toe nie.
Want stilering is ongelukkig een van daai dinge waaroor niemand louwarm is nie. Neem byvoorbeeld Chris Bangle, die indertydse ontwerphoof van BMW. Hy was verantwoordelik vir van die grootste ontwerpspronge by 'n motorvervaardiger in die geskiedenis. Ongelukkig was die mark nie reg daarvoor nie en is sy E65 7-Reeks wyd gekritiseer. Sy ontwerpfilosofie genaamd Flame Surfacing het ook gestalte in die daaropvolgende Z4 gekry – wat opinies ewe veel verdeel het. Mense was verward, geskok en het verwys na sy ontwerpe (waarvan baie eintlik deur sy ondergeskikte, Adrian van Hooydonk, neergepen is) as “Bangle bungles.” Oordeelsfoute, opslip, die bal aanslaan met 'n oop doellyn voor jou – daai soort verwysings.
Tyd is 'n snaakse ding Maar hier is die vangplek: Bangle was toe al die tyd reg. In 'n tyd toe die kore van verontwaardiging 'n crescendo bereik het, het hierdie bebaarde, brildraende Kaliforniër sy kop geskud en gesê: “Nee, motorontwerp het in 'n doodloopstraat beland. Daar moet vernuwing kom en dis die rigting waarheen ek glo dit moet ontwikkel.”
As jy vandag na Bangle se bekendste ontwerpe kyk, word twee dinge duidelik: Een, dit was toe nie so skokkend soos ons destyds geglo het nie. En tweedens het dit uiteindelik tog die hele motorbedryf beïnvloed.
Kyk na die kurwes en hoeke van die nuwe Mercedes-Benz C-Klas. Kyk na Ford se Kinetic Design-ontwerptaal vir die Kuga en Fiesta, Peter Schreyer se Hyundai- en Kia-ontwerpe. Nissan se X-Trail en selfs dele van die nuwe Navara. Die lys is lank.
Nóg 'n vervaardiger wat besluit het om wild te gaan met die ontwerp was Mazda. Waar Bangle van Flame Surfacing gepraat het, het Mazda, in tipies Japannese styl, gepraat van “kodo”, oftewel “die gees van beweging”. In die BT-50 was die resultaat egter nie so suksesvol nie. Maar hoekom dit in die eeste plek probeer het?
Om hierdie waagstuk te verstaan, moet jy Mazda as maatskappy verstaan. Dis geleë aan die buitewyke van die stad Hirosjima. Ja, daai Hirosjima. Mazda se mense sal jou vertel dat toe die Amerikaanse kernbom die stad op 6 Augustus 1945 getref het, die elektrisiteit na die fabrieke in die nywerheidsgebied binne twee uur herstel is! Hulle is dus mense wat nie hou van stilstaan nie. Hulle beweeg aan, altyd vorentoe. Die ander een is dat hulle, nes Honda, bekend is vir hulle hiper-gevorderde enjins. Waar Toyota jou pap-en-vleis-variëteite bou, bou hierdie twee verfynde enjins wat óf baie gevorderd is, óf oorloop van werkverrigting – of 'n kombinasie van al twee. Hulle Wankel- of rotaryenjins is die beste voorbeeld hiervan. Aan die beweeg, altyd vorentoe. Daarom die poging met kodo vir 'n bakkie.
Bakkies was nog altyd 'n sekondêre ding vir Mazda. Hoewel Ford se Courier-en Ranger-bakkies in nie-Amerikaanse markte ironies genoeg Mazda B-Reekse met Fordwapens op was. En hier is ons nou En toe kom die jongste geslag bakkie met Mazda- en Fordwapens. Waar Ford 'n meer hoekige, Amerikaanse ontwerp gekies het, het Mazda, in lyn met sy filosofie vir passasiersmotors, op die kodoontwerpfilosofie besluit. Die reaksies van kopers was voor die hand liggend: Vir bakkies hou ons nie van “die siel van beweging” nie, ons verkies eerder “pap-en-vleis”.
Tydens 'n gesprek met David Hughes, die uitgaande hoof van Mazda Suid-Afrika, het dit geblyk dat selfs Mazdahandelaars 'n paar jaar gelede besef het dat die mark nie erg oor die BT-50 se voorkoms was nie. Nouja, dit was vyf jaar gelede en hier is ons nou.
Die ironie van die nuwe ontwerp van die BT-50, wat basies subtiele veranderinge aan die omstrede neus en stertligte behels, is dat dit konserwatiewer as sy voorganger is. En indien die twee modelle omgeruil is, sou die nuwe model vyf jaar gelede beslis meer aanklank gevind het – en sou 2012 se BT-50 se ontwerp vandag, nes met Bangle se baanbrekende ontwerpe, nie eers die wenkbroue laat lig het nie. Want kyk eerlik na die nuwe Hilux se neus en sê dat dit pragtig is. Enigiemand?
Onder die vel Ja, dis 'n Ford Ranger, met dieselfde 3,2 liter-turbodiesel wat 147 kW en 470 Nm ontwikkel. Dis dieselfde transmissie
en onderstel. Mazda beklemtoon egter die feit dat die nuwe BT-50 in sy geheel uit Thailand ingevoer word (anders as die Ranger wat plaaslik gebou word) en dat die nuwe model se vering aangepas is om 'n beter rit te verskaf. In die afwesigheid van 'n ou model op dieselfde dag op dieselfde pad is dit moeilik om te bevestig.
Die 2,2 liter-enjin is dieselfde as die een in die Ranger – met 'n klein verskil. Toe Ford twee jaar gelede die Ranger opgekikker het, is die 2,2 se kraglewering van 110 kW en 375 Nm opgestoot tot 118 kW en 385 Nm. Dis egter nie die geval met die Mazda nie, wat steeds die ou syfers lewer.
Vir baie van ons lesers is dit egter van akademiese belang, want die 2,2 liter-modelle is net beskikbaar as 4x2's. So, as jy 'n BT-50 met vierwielaandrywing soek, is die 3,2 liter jou voorland, hetsy in 6-ganghandrat of 6-gang-outomaties. My keuse bly die outomaties, danksy die moeitelose gerief waarmee jy haas enige ter- rein kan baasraak terwyl jy dink aan belangriker dinge. Dinge soos Allister Coetzee se wedstrydplan of die volgende vuisgeveg in die parlement. Ja, hy skakel dalk nie heeltemal so blitsig oor soos die nuwe Hilux se outomatiese ratkas nie, maar dis ook nie asof hy jou in die skande sal steek nie.
Die res is Ranger: van die klasleidende 800 mm-dompeldiepte en 'n gawe 237 mm se grondvryhoogte. Dan is daar ook 'n hele lot elektroniese hulpmiddels wat nou min of meer verpligtend is in hierdie klas. Dit sluit in sleepwa-stabiliteitsbeheer, rolbeheer, opdraandewegtrekhulp en afdraanderemming (net vir die 4x4-modelle).
Die binneruim is luuks en modern, hoewel die inligtingen vermaakstelsel relatief min vooruitgang gemaak het teenoor sy Ford Ranger-mededinger wat nou al die maatskappy se jongste Synch3-tegnologie inspan. Die ergonomie is identies aan dié van 'n Ranger – met ander woorde baie goed – nes die gerief van die
agterste insittendes.
Dan is daar die waarborg vir 3 jaar, onbeperkte kilometers, 'n diensplan en padbystandhulp, met die waarborg wat tot 5 jaar verleng kan word.
Gevolgtrekking Hierdie bly 'n gawe bakkie, nes sy onderskatte voorganger. Of jy van sy voorkoms hou, is 'n subjektiewe ding. Maar sy prys tel vir hom. Teen net oor die R555 700 vir die topmodel 3,2 4x4 outomatiese dubbelkajuit SLE, vergelyk hy goed met die ooreenstemmende Hilux se R573 500 en Ranger se R588 900. Die R33 000 verskil tussen hom en die meganies identiese Ranger is iets wat vir 'n stel bande en ander vering kan help betaal. Om maar een
voorbeeld te noem. Nes met die nuwe Hilux, wat eerlikwaar 'n lelike neus het, sal die BT-50 ook by 'n staalbuffer voor kan baat. Gooi 'n stel A/T-bande, 'n paar rock sliders en 'n snorkel op en ek glo hy gaan regtig mooi lyk. Want oor sy veldryvermoëns is daar geen twyfel nie. Laat ek dit só stel: As ek in die mark vir 'n dubbelkajuit was (my ge-pimpte Navara moet helaas nog 'n jaar of drie hou), sou ek ook die BT-50 vir 'n toetsrit geneem het.
En amper vergeet ek. Mazda en Ford se paaie het formeel geskei. So ook Isuzu en General Motors s'n. Intussen het Mazda en Isuzu 'n ooreenkoms aangegaan dat hulle volgende bakkie saam ontwikkel gaan word. Wie sien saam met my uit na die resultaat van hierdie projek?