STOFPADSTORIES
In ’n Toyota Corona deur die ou Suidwes
Dit was Julie 1973. Ek het pas begin skoolhou toe ’n kollega my vra om saam met hom deur die ou Suidwes-Afrika (Namibië) te gaan toer. Sy pa was ’n afgetrede geoloog van die O’Kiep Copper Company en sou vir ons ’n goeie toerplan help uitwerk.
Só vertrek ons vroeg in Julie uit Potchefstroom. Ons toerusting het bestaan uit ’n tweemantent, ’n gasstofie en ’n houer blikkieskos, alles in ’n Toyota Corona 1700 Mk 2 gelaai. Toe ons die blikkieskos gaan koop, het Johan seker gemaak dat daar ’n bottel mayonnaise en ’n groot bottel OBS (dié met die oortjie) by is. Waarvoor het ek nie geweet nie.
Met blaaskanse in Upington en Nababeep stop ons ’n paar dae later in Port Nolloth, waar Johan se ouers ’n strandhuisie gehad het.
Laatmiddag sleep Johan ’n roeibootjie na die water en ons kap mossels van die rotse af. So honderd meter van die strand laat sak ons die nette met die mossels en maak beurte om die lekkende bootjie met ’n blik leeg te skep.
Net toe ek begin wonder waarmee ons nou eintlik besig is (ek dog dan ons gaan Suidwes toe), begin Johan die nette optel. En hier klou die krewe by die dosyne. Johan gooi die kleintjies terug en ons roei huis toe met ’n dosyn of wat groot menere.
Toe die halwe 44 gelling-drom met seewater begin kook, verstaan ek wat aangaan: As die krewe klaar gekook en afgekoel het, breek jy die stert af, dop hom af, druk die hele stert in die bottel mayonnaise en eet totdat jy trane in jou oë kry van die lekkerte. Dan sluk jy dit dan af met ’n bietjie OBS (dis immers Julie aan die Weskus). Die volgende dag ry ons deur Vioolsdrif/Noordoewer na Ai-Ais met koue kreefsterte vir brunch. Ná die gebruiklike rit na die uitkykpunte op die Visrivier-canyon – en twee pap wiele verder – ry ons noord deur Grünau tot by Hardapdam. Só toer ons met die Corona en die tentjie op lekker grondpaaie na die kokerboomwoud, die regte Mukarob (Vingerklip), deur Windhoek, op pad na Etosha. Ons slaap by Namutoni in ’n permanente tent met beddens en lanterns vir R1,75 per nag en neem die pragtigste wildfoto’s (net om ná ons terugkoms vas te stel dat die film vasgehaak het!).
En toe begin die sports met die Corona.
Die pad deur Outjo en Welwitchia (nou Khorixas) was goed. Dit was boonop nog vroeg en die padkaart het heel onskuldig gelyk. Maar ná Twyfelfontein verander die goeie grondpad na ’n tweespoorpaadjie sonder aanwysings of alternatiewe. Ons ry aan, want volgens die padkaart is dit ’n normale sekondêre grondpad na Uis, maar die pad word nie beter nie. Naderhand ry ons meestal in eerste of tweede rat en sit kort-kort in droë sandlope vas.
Laatmiddag, toe die son al goed skuins sit (en die petrolmeter ook), kom ons uiteindelik af op ’n Damara-man met ’n troppie bokke en ’n blink kam in sy hare. Die kommunikasie was Babels, maar ons kon uiteindelik vasstel dat dit inderdaad die enigste pad na Uis was. As ons op hom aanhou, sou ons by ’n plaas met die naam “Houmoed” uitkom. Hoe ironies.
Ons stoot die Corona deur die laaste paar sandbeddings en net mooi teen sononder kom ons by ’n plaashek met die woorde “HOUMOED. No entrance, trespassers will be prosecuted” op ’n stuk sinkplaat geverf. Maar daar is tye in die lewe wanneer jy selfs “prosecution” sal trotseer. Ons maak die hek oop – met die een oog op die kwynende son en die ander op die brandstofnaald wat nou solied op “E” lê.
Twee kilometer verder kry ons ’n man – wat ons nie vervolg nie, maar met ’n handpomp vir ons brandstof ingooi en ons beduie hoe om by die “Wit Vrou” by Brandberg te kom.
Daar aangekom was daar net een groepie Duitse toeriste in die kampplek. Ons was so bly om mense te sien dat ons ons héle Matriek-Duitswoordeskat opgebruik het om hulle te oortuig presies hoe bly ons was, en dat ons saam met hulle uitsien na die volgende oggend se “ontmoeting” met die Wit Vrou.
Ek onthou hierdie avontuur uit ’n tyd lank voor GPS en Google. Daar was geen selfone nie, geen “Ontvangs” om te skakel en te sê ons gaan laat wees nie. Nou is Damaraland (en die res) gewilde bestemmings. Nou kan jy lodges op die internet evalueer voor jy seker maak jou 4x4 se jerrykanne is vol, die noodwiele is styf en die jongste weergawe van Tracks4Africa is gelaai.
Ja, die nuwe tegnologie, toerusting en geriewe is wonderlik (en in sommige gevalle onontbeerlik). Maar tog verlang ek terug na die avontuur van ’n bleekgroen Corona deur ’n droë sandbedding stoot en alleen in ’n onbekende omgewing koers te hou op ’n slegte tweespoorpaadjie.
En om ná ’n dag soos dít jou tentjie tussen die klippe en skerpioene staan te maak, en aan die slaap te raak op jou dun matrassie met die vooruitsig van ’n nuwe dag met nuwe ervarings op ’n pad wat jy nog nooit gery het nie.