Dis nie altyd die skokbrekers
Ek wil reageer op die brief “Wanneer moet jy jou skokbrekers vervang?” ( WegRy #91), en Mic van Zyl se antwoord hierop. Die jare stap al aan vir my, en ek het al talle voertuie gery: dié met baie krag, en dié met super baie krag.
Ek het ook al ’n bietjie teëspoed gehad en agterna navorsing gedoen oor wat skeefgeloop het. Wat skokbrekers betref, is Mic in die kol as hy sê jy sal nie weet of jou skokbrekers aan die einde van hulle leeftyd is nie. Die meeste sentrums het nie die toerusting om dit op jou motor te toets nie. Dis nogals moeite om ’n McPhersonstut uit te haal en terug te sit, en die werk daaraan verbonde, is nie die moeite werd nie. Die meeste sentrums sal die werkskoste aanlas by dié van die nuwe skokbrekers.
Ek het bakkies gehad waar die skok- brekers jare gehou het (my Mazda-bakkie weeg 2 000 kg of meer en dit voel glad nie vreemd as ek ’n sleepwa sleep nie). Aan die ander kant het al nuwe voertuie (van so 2 of 3 jaar oud) gesien waar die wiele rondhop – beslis ’n teken van skokbrekerprobleme.
Maar dis nie altyd die slytasie van die skokbreker wat ongelukke veroorsaak wanneer bestuurders moet uitswaai nie. Die remmerke is dikwels ’n bewys dat die bestuurders nie in ’n noodgeval korrek uitgeswaai het. In so ’n geval sal die skokbreker nie juis help nie.
Onlangs het ’n toeris ook ’n voertuig in die Krugerwildtuin gerol. Hoe gebeur dit as jy by die spoedperk van 50 km/h hou? Wat die toestand van jou skokbreker betref, moet jy soms ook maar jou logika gebruik (hoewel dít deesdae ook skaarser word).