MAGOEBASKLOOF
Ervaar die kampe, kroeë, agterpaaie en ’n reënkoningin
In die hart van Limpopo, net buite die bedrywige dorp Tzaneen, is daar ’n vallei genaamd Magoebaskloof. As jy na ’n satellietkaart van die gebied kyk, is dit asof Moeder Natuur ’n emmer groen verf hier omgestamp het en nie veel oorgehad het om die res van die provinsie kleur te gee nie. Wetenskaplik gesproke is dit die geografie wat hierdie streek so ’n groen uitsondering maak in ’n provinsie wat andersins in bruin skakerings van tipiese bosveld bedek is. Die berge hier, die hoogste in die provinsie, vat die wolke vas en druk hulle kosbare vrag uit op die hange en dale benede. Die resultaat hiervan is die naasgrootste inheemse woud in die land en ’n welvarende bosboubedryf. ’n Versameling riviere, watervalle en damme lê weggesteek tussen die berghange. En natuurlik is daar ook ’n netwerk van grondpaaie, wat nooit rêrig kans kry om ordentlik uit te droog nie, wat dit alles aan mekaar verbind. Daarom besef ek dat ek nie net kan deurry nie. Ek sal my vier dae gun om rustig deur te ry.
’n Dag vol avonture
Daardie vier dae kom nadat ek ’n naweek in Magoebaskloof deurgebring het met ’n groep mediamense op die bekendstelling van die nuwe Chevrolet Trailblazer. Ons spandeer ’n oggend saam met die ouens van The Hub, die plaaslike 4x4-klub. Eers ry ons een van hulle roetes deur die woude en plantasies en later glip en gly ons deur ’n modderige hindernisbaan. Die klubhuis is in George’s Valley, ’n pragtige vallei wat deur die Groot Letabarivier in die berge uitgekerf is sowat 7 km oos van Magoebaskloof. In die namiddag verken ek dié einste vallei in ’n gecko tube (’n rugbybalvormige opblaasband) waarmee ek by kranse moet afspring en oor watervalle tuimel terwyl die gidse van Magoebaskloof Adventures probeer keer dat ek verdrink. As jy avontuurlustig voel, is dit ’n unieke manier om hierdie asemrowende vallei te verken. Of as watersports nie jou ding is nie, probeer die glykabel-toer ( zipline) of ’n rustige staproete in die vallei af.
Oeroue bome en reënkoninginne
Dit vat ’n hele dag om net daardie twee aktiwiteite te doen en ons het nie eers uitgekom by al die ander dinge wat ek graag in Magoebaskloof wou sien nie. Terwyl die res van die groep die volgende oggend na Johannesburg terugry, bly ek agter om aan my Magoebaskloof doenlysie te begin werk.
Dit reën op die berg, daarom besluit ek dat dit ’n goeie dag is om pas-af te ry na Modjadjiskloof, noord van Tzaneen. In hierdie gebied is daar drie besonderse dinge: die wêreld se grootste kremetartboom, die wêreld se grootste inheemse broodboomwoud en ’n stam met ’n reënkoningin. Ek hou eerste stil by die reusekremetartboom op die Sunland-mangoplaas. Ek is die enigste besoeker en daar is niemand om vir my ’n bier te bedien in die kroeg binne-in die 1100 jaar oue boom nie. Wel, om eerlik te wees, is dit in elk geval seker nog te vroeg in die dag daarvoor, daarom kies ek koers na die broodboomwoud.
In die Modjadji-broodboomreservaat is ek ook die enigste besoeker. Ek gaan stap ’n draai tussen die reusagtige bome – sommiges staan meer as 10 meter hoog. En daar is letterlik duisende van hulle oor die berg versprei. Daar is ook ’n piekniekplek hier, maar dit is vervalle en ek sal nie aanbeveel dat ’n mens die toilette probeer gebruik nie.
Naby die reservaat is die koninklike tuiste van Modjadji, die Reënkoningin en regeerder van die Balobedu-nasie. Ses generasies van reënkoninginne, wat glo spesiale kragte het om reën te roep, regeer sedert die begin van die 19de eeu in hierdie vallei. Dit is die enigste matrilineêre dinastie in Suid-Afrika – met ander woorde, net die oudste dogter van die koningin mag die kroon oorneem. ’n Mens kan die koninklike tuiste besoek, maar jy moet ’n afspraak met ’n toergids, ’n man genaamd Ballpen Molokwane, maak. Ná vele onsuksesvolle pogings om mnr. Ballpen in die hande te kry, besluit ek maar om na Magoebaskloof terug te keer. As jy die koninklike woning wil besoek, kan jy vir Molokwane bel by 084 768 5003. (Sterkte daarmee! – Jaco)
Watervalle, damme en skugter voëls
Ek sit die volgende dag opsy om die Woodbrush Forest Reserve te verken. Aan die onderkant van die Magoebaskloof-pas, naby die dam, is daar ’n afdraai wat jou in die woud in vat. ’n Padteken waarsku dat dié paadjie net vir 4x4’s is en ek kan sien dat dit veral op
’n nat dag van toepassing sal wees. Ek gooi ’n vinnige draai by die prentjiemooi Debengeni-waterval en ry dan verder na die Dap Naudé-dam. Die rit onderdeur die blaredak van die woud is skouspelagtig en met tye kan ek nie glo ek is in Limpopo nie. En dan, wanneer ek die grasvelde en eikebome rondom die dam bereik, voltooi dit die byna Europese landskapgevoel van die plek.
Van die dam kan ’n mens aanhou tot in Houtbosdorp en dan na Kurisa Moya Nature Lodge, ’n top-voëlkykbestemming. Hoofsaaklik omdat jy twee van die land se beste gidse, David Letsoalo en Paul Nkhumane, hier sal ontmoet, maar ook omdat dit een van die min plekke is om die skaars Swartoogboslaksman te sien. “Hulle noem hom ’n bogey- voël,
daardie een wat jy sukkel om in jou leeftyd te sien, vertel Paul my terwyl hy my op Kurisa Moya rondwys. Jy sien dadelik dat hy ’n groot passie vir die geveerde inwoners van die woud het. Sy skerp oë en ore let voëls op waarvan ek nie eens bewus is nie en hy kan hulle nogal knap naboots ook. Ek vra hom wat sy bogey-voël is. Pel se visuil, antwoord hy en ek voel half skuldig dat ek al hierdie voël op die Choberivier in Botswana gesien het, maar nie eers kan verstaan hoe merkwaardig dit is om in Swartoog- boslaksman hier te sien nie. Ten minste kon ek vir Paul vertel presies waar in Botswana hy moet soek.
Die bymekaarkomplek
Aan die bokant van die Magoebaskloofpas lê die klein dorpie van Haenertsburg. Dis ’n oulike plekke met net ’n handjievol strate, maar dit lyk my dié is die kloof se bymekaarkomplek. Die dorp het sy oorsprong uit die goudmynbedryf van toeka en is vernoem na die man wat die waardevolle gesteente hier ontdek het, Carl Ferdinand Haenert. Die volgende oggend leer ek oor die dorp en die streek se geskiedenis by die museum in die Pennefather-kompleks waar ses huisies en drie handelsposte ’n straattoneel uit die laat 1880’s naboots. Ek spandeer die oggend grotendeels in die geselskap van professor Louis Changiuion, afgetrede geskiedenisfakulteitshoof aan die Universiteit van Limpopo, skrywer van 25 boeke, ywerige stapper (die dorp se staproete is ook na hom vernoem), wêreldreisiger en die eienaar van ’n indrukwekkende,
persoonlike biblioteek in sy huis. As jy ’n belangstelling in die geskiedenis het, moet jy die kans soek om met dié ou te gesels.
Kom nader
Dit voel of my laaste dag verbasend gou aanbreek en al het ek daarin geslaag om nog ’n paar uitstappies in te druk – soos om na die Iron Crown (die hoogste punt in Limpopo) te ry, die hoogste geplante bome in Afrika (S23.84645 E29.98583) te besoek en ’n draai by die Ebenezer-dam te maak – voel dit steeds asof ek heelwat dinge misgeloop het. Die persoon wat dit vir my die beste opgesom het, was Luca Tooley, wat ek ontmoet het terwyl hy ’n vat van Zwakala-bier in die Iron Crown Pub omruil. Later slaap ek oor by Luca se plek, Zwakala River Retreat, want wie wil dan nou nie by ’n plek bly waar jy op die rivieroewer kan kampeer en boonop ’n brouery ook op die perseel het nie?
“Hierdie is ’n ongelooflike plek en daar is so baie om te doen,” vertel hy my. “Hier maak jy jou eie avontuur!” Selfs die naam Zwakala beteken “kom nader”, ’n gepaste beskrywing van die houding wat jy moet hê om agter die kap van die byl te kom met alles wat Magoebaskloof jou kan bied. Wanneer ek die berg vaarwel roep, belowe ek myself om terug te keer. Miskien sal ek volgende keer vlieghengel probeer, ’n oornag-staproete doen of die klowe op ’n bergfiets verken. Noudat ek daaraan dink, sal ek dalk meer as een keer moet terugkom om by alles uit te kom.