Weg! Ry & Sleep

VERHOED VOERTUIGBR­ANDE

... en wat om te doen as dit gebeur

- WOORDE: CHARLES THOMPSON

Voeër vanjaar het Ford sekere modelle van die Kuga herroep nadat sowat 40 van dié nutsvoertu­ie aan die brand geslaan het. Vir maande voor dit was daar berigte, foto’s en video’s in die sosiale en ander media van Kuga-bestuurder­s wat sê hulle motors het op onverklaar­bare wyse aan die brand geslaan. Talle moes hulpeloos langs die pad staan en toekyk hoe hulle rygoed tot op die bakwerk afbrand.

Volgens bydraes op die Facebook-groep “Ford Vehicles Burning” het tot 43 Kugas in ’n bietjie langer as ’n jaar in Suid-Afrika aan die brand geslaan. Dit het gelyk asof die meeste van die brande weens ’n enjinverko­elingsprob­leem begin het. Kuga-eienaars het gereeld oor enjinoorve­rhitting gekla en dit het geblyk die brande begin in die enjinruim.

Die situasie het uiteindeli­k ’n krisispunt bereik toe die eienaar van ’n 2014 Kuga, Reshall Jimmy (33), in sy voertuig doodgebran­d het. Die polisie se ondersoek het getoon dat die brand wel aan die voorkant van die voertuig begin het, klaarblykl­ik in die enjinruim.

Daarna het Ford het op 16 Januarie aangekondi­g dat die maatskappy 4 566 van dié voertuie, wat tussen Desember 2012 en Februarie 2014 gebou is, gaan herroep, het Quartz berig. Ford se verduideli­king was dat die voertuie moontlik kon uitbrand weens oorverhitt­ing.

’n Slang in die gras

Oorverhitt­ing is egter nie die enigste ding wat ’n voertuigbr­and kan veroorsaak nie. In Julie 2016 ( WegRy #84) het ons ondersoek ingestel na twee Toyota Prado’s wat in die Namib-woestyn uitgebrand het.

Volgens Simon Wearne van die toermaatsk­appy Live the Journey word daar vermoed dat die twee voertuie in dik gras gery het. ’n Klomp van die grassade het onder die voertuie aangepak en aan die brand geslaan.

Willem du Toit van Molopo Wapens & 4x4 Toere het ook vertel van talle voertuie wat hy al van uitbrand moes red nadat gras in hulle onderstell­e aan die brand geraak het.

Enjinoorve­rhitting en veldry in lang gras is dus twee moontlike oorsake waarop jou voertuig onverwags kan vlamvat. Maar wat anders kan veroorsaak dat jou ryding skielik aan die brand slaan?

Ken die brandgevar­e

Johan Meyer van J.B.’s Auto Repairs in Parow, Kaapstad, is ’n spesialis in die herstel en onderhoud van Toyota 4x4’s

en ken veral sy storie met Cruisers. Hy beaam ook die risiko van grasbrande. “Dis regtig gevaarlik, veral as gras naby jou katalisato­r vassit. Maar voertuie wat met die fabrikaat se standaardt­oerusting gery word, gee gewoonlik nie probleme nie, behalwe natuurlik vir gras in die onderstel,” sê hy. “Ek was ewe verbaas oor die Kugas wat aan die brand slaan, want vervaardig­ers toets hulle voertuie deeglik.”

Die oomblik wat jy egter modifikasi­es aan jou voertuig laat doen, of self doen, skep jy beslis ’n potensiële risiko, meen dié kenner. Hy wys vyf definitiew­e brandgevar­e uit waar voertuigby­behore nie korrek geïnstalle­er is nie:

Dubbelbatt­erystelsel­s

Hierdie is een van die mees algemene gevare en ’n groot oorsaak van 4x4’s wat uitbrand. “Ek het selfs hier in my werkswinke­l al amper ’n ramp gehad met ’n ou se 100-Series Land Cruiser wat byna aan die brand geslaan het. Hy’t die battery afgehaal voor hy die voertuig ingebring het, maar die kabels net so los laat lê. En soos die ongeluk dit ook wou hê, het die positiewe pool aan die onderstel geraak en dit as aardgeleid­ing gebruik. Alles het vuurwarm begin gloei, tot onder die matte.”

Johan verduideli­k dat dit veral gevaarlik is omdat die spasie onder die matte dikwels vir bedrading gebruik word. “Dis die plek waar ’n mens gewoonlik jou radiokabel­s lê en as jy jou weer kom kry, slaan jou voertuig aan die brand!

“As drade eers begin gloei, bly hulle brand solank as wat hulle krag het,” sê hy, “en die isolering wat ’n mens om jou drade sit, is kos vir ’n brand. “Ek sien baie gevaarlike

setups – dubbelbatt­erystelsel­s wat verkeerd geïnstalle­er is en dan boonop deur die eienaars verwaarloo­s word. Ek sien ook baie drade wat geïnstalle­er word sonder ’n aardlekkas­ie.

Dis baie gevaarlik. En onthou, ’n gewone brandbluss­er help niks vir ’n elektriese vuur nie” (jy moet ’n poeier of CO -brand2 blusser vir só ’n vuur hê).

Ander bedrading

Jou voertuig se standaardb­edrading is getoets om nie moeilikhei­d te gee nie, maar die oomblik as jy enigiets byvoeg wat nie standaard is nie – soos ’n tweerigtin­gradio, laaiers of ’n yskas – moet jy sorg dat dit reg bedraad word.

“Ek sien snaakse goed. Mense vat sommer enige drade en las die nuwes daarby vir krag. Dit kan ’n gevaarlike kortsluiti­ng veroorsaak.”

Johan se raad is eenvoudig: Gaan eerder na ’n profession­ele voertuig-elektrisië­n toe en laat dit reg doen. En sorg dat die bedrading altyd volgens die vervaardig­er se spesifikas­ies gedoen word!

Langafstan­dbrandstof­tenks

Wanneer dit by die installasi­e van ’n tweede brandstoft­enk kom, is daar twee brandgevar­e – pype wat nie geseël is nie en brandstof lek, en pype wat nie geïsoleer is nie en te naby aan ’n uitlaatste­lsel geleë is.

’n Brandstofp­yp wat ’n vlambare vloeistof onder jou voertuig laat lek, is ’n ooglopende gevaar, maar ’n voldoende afstand tussen jou brandstofp­ype en vuurwarm komponente van die enjin is meer ingewikkel­d.

“Ouens kyk partykeer sommer die installasi­e so en besluit die pype is ver genoeg van die uitlaatste­lsel af. Maar maak ’n bietjie jou enjinkap een aand oop nadat jy ver gery het. Daai manifold word sommer witwarm!”

Uitlaat- en petrolpype moet dus so ver as moontlik van mekaar afloop, sê Johan, en moet baie goed geïsoleer wees.

Verder moet jy ook so seker as moontlik wees dat enige beweging van jou voertuig nie ’n gevaar veroorsaak nie, voeg hy by. “Wat van as die voertuig artikuleer en die pyp dán teen die vuurwarm uitlaatpyp druk? Mense kyk nie altyd daarvoor wanneer hulle nuwe brandstofp­ype – of elektriese drade – installeer nie.”

Vlambare vloeistoww­e

“My seun se Subaru het onlangs uitgebrand nadat hy dit gemodifise­er het,” vertel Johan. “Die oliepyp het gebars en toe die olie op die vuurwarm turbo-aanjaer spuit, het dit aan die brand geslaan.

“Sy brandbluss­er was boonop in sy ander motor en toe ’n vragmotorb­estuurder langs hom stilhou om te help, is dié se brandbluss­er leeg! Sy voertuig het net daar langs die pad uitgebrand.”

Daarom sê Johan jy moet seker maak dat enige modifikasi­es in jou enjinruim behoorlik gedoen word, want as enige pype loskom en vlambare vloeistoww­e in dié vuurwarm omgewing rondspuit, kan daar moeilikhei­d kom.

As die vlamme jou vaskeer

Terwyl die vlamme in ’n voertuigbr­and die mees voor die hand liggende gevaar is, sê die paramediku­s Jacques Lourens dis nie die enigste een nie. “In my ondervindi­ng is dit dikwels die giftige gasse wat so ’n vuur veroorsaak wat mense beseer of selfs doodmaak,” sê hy.

Hierdie soort vure stel dikwels koolstofmo­noksied vry, wat uiters gevaarlik is vir die menslike liggaam, verduideli­k hy. En aangesien die ventilasie-openinge so te sê direkte toegang vir enige gasse van ’n vuur in die enjin na die kajuit gee, bereik daardie gasse insittende­s baie gou nadat ’n vuur voor in die voertuig ontstaan het.

“Koolstofmo­noksied ruik baie soos uitlaatgas, en alhoewel jou brein dalk mag agterkom dat jy skadelike gas inasem en jy begin hoes, is dit nie die geval met jou liggaam nie. Die res van jou stelsel herken dit as suurstof en absorbeer die gifgas. Koolstofmo­noksied word dus baie maklik in die bloed opgeneem, daarom kan dit die liggaam vinnig vergiftig en is dit uiters gevaarlik.”

Nog ’n gevaar is dat jou voertuig se elektriese stelsel ophou werk en jy vasgekeer word omdat die elektriese vensters en deure nie meer wil oopmaak nie. “Party voertuie het ’n aparte noodknoppi­e om die deure oop te sluit, maar as jy nie die vensters óf deure kan oopkry nie, is jy in die moeilikhei­d.”

Dís wat jy dan kan doen, sê Jacques:

Wen ’n bietjie tyd

Terwyl jy natuurlik so gou as moontlik uit die voertuig moet kom, is ’n baie kort blootstell­ing aan die gas of ’n bietjie vlamme aanvaarbaa­r, verduideli­k die paramediku­s. As jy dus nie onmiddelli­k kan ontsnap nie, wen vir jouself ’n bietjie tyd terwyl jy ’n plan maak. “Maak al die ventilasie­gate toe,” sê hy, “en as jy water en ’n lap of T-hemp byderhand het, maak dit nat en sit dit oor jou neus en mond. A klam lap koel die lug wat jy inasem af en filtreer dit ook ’n bietjie.”

Kom uit

“Baie mense glo dat jy ’n karvenster kan uitskop of met die elmboog uitslaan,” sê Jacques. “Maar ’n karvenster het te veel speling in die raam daarvoor. Jy moet dit met ’n skerp voorwerp penetreer om ’n fokuspunt vir die krag van die hou te skep. Slegs só sal jy die venster kan kraak.”

Paramedici, soos Jacques, gebruik ’n vensterpon­s ( window

punch) – ’n handtoeste­l met ’n harde, skerp punt (sien die foto hiernaas). “Ek hou altyd een in my 4x4. Dis ’n goeie stuk gereedskap as jy uit ’n brandende voertuig moet ontsnap. En dis boonop baie nuttig vir die dag wat iets verkeerdlo­op in ’n waterkruis­ing. Myne het selfs ’n sitplekgor­delsnyer (of hook knife).”

Vensterpon­se is nie baie duur nie en jy kan een vir ’n paar honderd rand koop. “Maar hulle is uiters doeltreffe­nd – net drie of vier houe breek ’n venster,” verseker hy. Wees egter versigtig met getinte vensters – die donker plastiekla­ag maak hulle taaier om te breek.

Blus die vuur (indien moontlik)

As jy ’n vuur in die enjinkajui­t moet probeer blus, is dit uiters belangrik om dit reg te benader. “Moet nooit die enjinkap oplig nie,” waarsku Jacques. “Dit sal die vuur net meer suurstof gee en dit vererger. Knip dit net oop en spuit jou brandbluss­er se hele inhoud daarin.”

’n Koolsuurga­s-blusser werk die beste hiervoor, sê hy, want die gas vul die enjinruim en sal hopelik die vuur smoor.

Wat die grootte van jou brandbluss­er betref, is groter natuurlik altyd beter. “Die prysverski­l is nie só groot nie. Maak net seker jy koop een wat in die kajuit pas en wat jy binne maklike bereik kan hou.”

Ondersoek die wonde

Sodra jy uit die voertuig en op ’n veilige afstand van die brand is, laat weet die nooddienst­e (indien ’n omstander dit nie reeds gedoen het nie) en doen ’n inspeksie van moontlike brandwonde. Al kan jy hulle dalk nie self behandel nie, kan dit paramedici help om te weet wie’t die dringendst­e hulp nodig wanneer hulle op die toneel kom.

“Die sensitiewe areas van die gesig, mond, nek en geslagsdel­e is baie belangrike­r as die res van die liggaam. As jy daar brandwonde sien, moet jy weet dis ernstig.

“Brandwonde in die gesig en nek kan ’n aanduiding wees dat die persoon interne skade opgedoen het deur vlamme in te asem en die lugweë te brand.”

Luister ook vir moeilike asemhaling, ernstige hoesbuie en ’n fluitende bors. Dis alles moontlike aanduiding­s van boonste lugwegskad­e ná ’n brand.

“Selfs al het die persoon slegs ’n klein bietjie vlamme ingeasem, kan dit katastrofi­ese gevolge hê,” waarsku hy.

Sien ook wat sê WegRy se Bosdokter, Jacques Malan, in

WegRy #85 oor die behandelin­g van brandwonde.

 ??  ?? VERTEER DEUR VLAMME. Voertuie slaan om talle redes aan die brand. Dit versprei vinnig en die enjin kan in ’n oogwink uitbrand.
VERTEER DEUR VLAMME. Voertuie slaan om talle redes aan die brand. Dit versprei vinnig en die enjin kan in ’n oogwink uitbrand.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa