Weg! Ry & Sleep

6 VAN DIE BESTE

Ons wys jou ses moet-sien sonsonderg­ange

-

Tankwa Tented Camp, Noord-Kaap

1As jy laatmiddag wes stap uit die Tankwa Tented Camp en ’n skip op die horison sien, is dit nie omdat daar vroeër iets onwettigs in jou dop beland het by die kamp se Onverklaar Bar nie.

Hierdie is nou ’n sonsonderg­angfoto wat jou pêlle by die huis gaan geniet en een wat jy nooit sal vergeet nie. Die Tankwa-Karoo is een van Suid-Afrika se dorste streke, maar soos die son oor die klipperige aarde sak en die donkerte daal, lyk daai skip kompleet soos een wat ver op die oop see dobber.

Die storie agter dié skip loop so: Die Tankwa Tented Camp lê in die Stonehenge­natuurrese­rvaat, dieselfde eiendom waar die jaarlikse Afrikaburn-fees gehou word. ’n Hoop vreemde voertuie, vlotte, standbeeld­e en strukture maak jaarliks hulle opwagting by hierdie buitelug musiek-en-kunsfees. Van Stonehenge se eienaars is ook by die fees betrokke en so is die skip se ankers toe een jaar ná Afrikaburn hier by die tentkamp gegooi.

Terloops, die terrein waar die fees gehou word, is net ’n kilometer of wat van die Tented Camp af. Die meeste van die strukture wat gebou word, word as deel van die fees verbrand, maar daar bly dikwels ’n paar oor. As jy dus nóg interessan­te foto’s wil neem, ry rondom sonsonderg­ang na die terrein toe en gaan kyk watter snaakse strukture nog daar staan.

Kontak: Maryke 082 899 1333; bookings@tankwa.net

Sesriem-kampeerter­rein, Namibië

2Die Sesriem-kampeerter­rein is bekend om ’n paar redes. Ja, verblyf in die kampeerple­k is nie meer goedkoop nie. En as jou tydsbereke­ning reg (of verkeerd) is, kan daar dalk net ’n Overlandin­g-vragmotor met ’n spul Europese meisies stilhou om ook daar oor te staan.

Volgens die meeste toeristegi­dse en artikels is die kampeerple­k net ’n halfwegsto­p op pad na die Sesriem Canyon, net ’n bietjie meer as 3 km suid, of Sossusvlei, ongeveer 61 km suidoos per 4x4. En ja, hoewel die vlei en omliggende gebied baie mooi is, is daar een ding waaroor min mense praat, en dis die ongeloofli­ke (jis, maar daai cliché is gepas in dié geval!) sonsonderg­ang in die kampeerter­rein. Want vir omtrent 20 minute is die sandgrond en Naukluftbe­rge in die ooste in ’n oranjegeel gloed gehul, net voordat die son anderkant die westelike horison inglip vir sy nagrus.

As jy die beste van die son wil sien, sorg dat jy aan die kamp se noordelike grens gaan staan. Dis meer oop daar en gee jou ’n beter uitsig oor die vlakte langs die kamp, sowel as die Naukluftbe­rge na die ooste. Kontak: nwr@nwrnamibia.com of 013 751 2220 (Namibia Wildlife Resorts se SA nommer)

Kamchab-kampeerple­k, Namakwa-4x4-ekoroete

3Een van die Namakwa-4x4-ekoroete se vele hoogtepunt­e is ’n aand of twee op die Kamchab-kampplek op die oewer van die Oranjerivi­er. Om daar uit te kom, moet jy by S28.97204, E17.99513 afdraai en vir omtrent ’n uur lank die 20 km-lange droë loop van die Kamchab-rivier ry. Daar aangekom, kan jy basies op enige plek naby die river kampeer, want dis wild kamp op sy beste. Die kampplek is egter min of meer by S28.85302, E18.02908. Hou in gedagte dat vloede die rivieroewe­r jaarliks verander, so gebruik jou goeie oordeel.

Nadat jy tent opgeslaan het, jou stoel staangemaa­k het en jou eerste koue bier geniet het, moet jy na jou horlosie kyk en die son begin dophou. Want wanneer hy aan die westekant, skuins agter jou linkerskou­er, begin sak, gaan die klipkranse aan die Namibiese kant van die rivier skielik die son se strale begin wys in ’n kaleidosko­op van geel, oranje en ligrooi. Sorg dat jy reg is daarvoor, want die beste kleure kan skaars 20 minute lank gesien word. En as die skadu’s begin klim en die laaste kleure teen die kranse uitdruk, kan jy maar solank begin vuur maak. Want hier gaan dit nog lekker raak. Kontak: Namakwa Toerisme, 027 712 8035/6

Namakwa Nasionale Park, Noord-Kaap

4Die Weskus het dikwels ’n klop mooi sonsonderg­ange op ’n streep, veral in die herfs- en wintermaan­de wanneer daar wye stratuswol­ke in die lug hang. Of jy nou op die kaai in Saldanha staan of in Alexanderb­aai hengel, jy is byna gewaarborg om ’n skouspelag­tige sonsonderg­ang te sien.

Die kampeerple­kke van die Namakwa Nasionale Park se kusgedeelt­e, tussen die Groen- en Spoegrivie­rmonde, is die beste plek om totaal en al van die mensdom af weg te kom. En dis een van die min plekke in die land waar jy só naby aan die see mag kampeer en kilometers se sandpaaie met jou 4x4 mag ry.

Nodeloos om te sê, jy gaan die son oor die see sien sak, iets wat nie oral in Suid-Afrika gebeur nie. Dis ’n uitstekend­e plek vir silhoeëtfo­to’s teen die sakkende son en as jy laag genoeg mik, kan jy die kleure van die lug wat op die nat sand naby die water weerkaats ook vasvang.

As jy nie wil bodder met ’n kamera nie, kan jy bloot in jou kampstoel agteroor sit (hopelik met ’n vissie op die braai) met die wete dat jy die allerlaast­e persoon in die hele land is wat sien hoe die son oor die horison verdwyn. Kontak: 027 672 1948 of elanza.vanlente@sanparks.org

Kubu-eiland, Botswana

5Kubu-eiland op die Makgadikga­di-panne in die noordooste van Botswana is een van daardie plekke wat jy eenvoudig moet besoek as jy jouself as ’n ernstige verkenner van Afrika beskou. Dié panne is meer as 12 000 km2 wyd en is die grootste deel van die jaar ’n droë vlakte. Maar wanneer dit in die wintermaan­de reën, is dit toe onder die water en jou kans om vas te val of te verdwaal is groot.

As jy dus die reënseisoe­n in ag neem, is dit duidelik waarom Kubu ’n eiland genoem word. Dié klipperige koppie met sy versamelin­g kolossale kremetartb­ome staan stoksielal­leen in die wye panne en wanneer jy hier kampeer, is die gevoel van isolasie tasbaar. Hier is jy op jou eie en jy moet álles bring wat jy nodig het om te oorleef, maar dis juis wat hierdie plek so spesiaal maak.

Die beste manier om die sonsonderg­ang te beleef is om jou kampstoel te vat en ’n ent op die pan uit te stap (moet nie op die pan ry nie) met ’n skemerkelk­ie. Sit met Kubu agter jou sodat die skynbaar oneindigen­de panne voor uitgestrek lê. Kontak: (+267) 297 9612, (+267) 7549 4669 of kubu.island@ btcmail.co.bw

Choberivie­r, Botswana

6Botswana se Chobe Nasionale Park is bekend as Afrika se superpark vanweë sy hoë konsentras­ie wild, en die reservaat se troefkaart is die rivier waarna dit vernoem is. Die park bied wildkyk-bootvaarte op die rivier aan teen sonsonderg­ang en dit is ongetwyfel­d een van die beste maniere om wild te kyk. Jy kan binne etlike meters van krokodille, seekoeie en selfs olifante op die wal kom. Soos die temperatuu­r daal, kom die diere rivier toe om water te drink en as jy gelukkig is, kry jy dalk ’n paar olifante wat deur die rivier na een van die eilande daarin swem. Jy het dus nie ’n teleskopie­se lens nodig vir goeie dierfoto’s nie, inteendeel, jy sal waarskynli­k die ooghare op ’n seekoei met jou selfoon kan afneem.

Benewens die diereprag bied die son ook elke aand ’n skouspelag­tige vaarwel. Hoe laer dit sak, hoe dieper rooi word dit, tot dit uiteindeli­k die hele lug rondom jou in skakerings van pienk en oranje verander. Jy het ’n keuse tussen ’n groot boot wat tot 40 mense kan vervoer en met kroeë toegerus is, of kleiner private bote wat jou ’n bietjie duurder sal kos. Daar is ook operateurs wat spesifiek op fotografie fokus. Meer inligting: www.chobenatio­nalpark.co.za/tour/chobe-boat-cruises

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa