LESERSTORIE
Namakwaland is meer as net ’n blomparadys
Uit die aard van my werk moet ek soms terreininspeksies by skole in die Noord-Kaap doen waar infrastuktuurontwikkeling aan die gang is. Toe dit weer tyd word om in Port Nolloth ’n draai te gaan maak, het ek en my vrou, Marina, besluit om ’n paar dae by te las en Namakwaland ordentlik te verken. Met ons vorige besoek was ons net soos ’n foun- call daardeur.
My getroue Land Cruiser 80 was siek in die hospitaal en ons besluit toe om vir Skilpadtepel, ons boswa, agter Marina se Pajero 3.2 DI-D-kortbak (wat pas ’n sleepstang gekry het) te haak.
So vertrek ek, Jan “Draaitjies”, Marina (Meraai), Pumba (die Pajero) en Skilpadtepel op ’n taamlik onbeplande reis die Namakwaland in. Ek het wel twee van Gert Sarrisam se boeke oor sy grootwordjare in Namakwaland gelees en wou graag na dié plekke toe gaan – Spoegrivier, Groenrivier, Bulletrap, ens.
Frikkadelle, hoenderboudjies en gekookte eiers is vooraf in pakkies gesit vir elke dag se etery, want ons wou ry, nie tydmors met dinge soos soek vir kos nie.
Laat wiel
Ons het net ná vyf uit Kimberley vertrek en beplan om op Springbok te slaap, met ’n besoek aan skole op Upington en Lutzburg (Kakamas) tussen-in. Aanvanklik was ek eers ’n bietjie vreemd met die kortbak-Pajero met die sleepwa aan (dis die eerste keer wat ek hom met die Mitsubishi sleep), maar na so 100 kilometer was die snelheidsbeheer op 120 km/h en alles loop goed.
Ons handel die werkstories af, doen soos gewoonlik aan by Die Pienk Padstal op Kakamas en toe is dit na die Pofadder-hotel toe vir die volgende gebruiklike stop saam met ’n “foutjie”. Teen drie-uur die middag hou ons stil in Springbok, maak ’n draai by die die Springbok-hotel ( Spies & Plessis se
kuierplek) vir ’n laaste “foutjie” en saal af by die Kokerboom-motel se kampplek net buite die dorp. Dis nog nie blommeseisoen nie, maar die madeliefies staan sommer so op die dorre aarde in die kampeerplek. Lekker dik gery ontspan ons na 800 km vir die dag.
Die volgende dag ry ons Matjieskloof toe, net buite Springbok, en vandaar na die Goegab-natuurreservaat. Wat ’n gesig! Dis net blomme waar jy kyk en ek sien die eerste keer op die reis gemsbokke en springbokke. Dis ’n pragtige roete.
Die middag ry ons na die kokerboomkwekery, so 3 km van die motel af, en koop vir ons ’n mooi boompie om terug te vat Kimberley toe. Die aand is koel, maar ons slaap warm in die daktent onder ’n donskombers, nog by my pa geërf.
Ons plan vir môre, wat so tussen die braaiery uitgewerk is, is om eers Kamieskroon en dan Goegab toe te ry.
Agterpadlangs
Ons kies koers op ’n grondpad net oos van die N7, ’n mooi pad wat ons tot in Kamieskroon neem. Hier ry ons ’n bietjie deur die dorpie en alweer is die blomme baie mooi. Ná ’n laatontbyt langs die N7 mik ons terug Springbok toe op ’n grondpad net wes van die hoofweg. Ons ry Skilpad, ’n deel van die Namakwapark wat ons wou sien, per ongeluk mis (ons aanwysings was nie so lekker nie) maar ry deur mooi plase. Meraai is intussen heeltyd besig om hekke oop en toe te maak.
Dis mooi paadjies langs droë rivierloop, maar hier en daar moet ’n mens jou storie ken. Pumba skrik egter vir niks nie en laatmiddag is ons terug in Springbok. Ons pak op, haak vir Skilpadtepel en ry Goegab toe.
Dis ’n heerlike kampplek met goeie ablusieblokke waar ons van die dag se stof ontslae raak voordat daar lekker gebraai word. Dit was nou ’n goeie dag op kantoor gewees!
Die volgende dag is dit Port Nolloth toe via Bulletrap, maar wie sou weet wat sou voorlê?
Ons vertrek vroegoggend en ry gou ’n draai by Matjieskloof verby om ’n uitsig van bo-op die berg oor die vallei in die rigting van Kommaggas te kry. Op pad
Nababeep toe vat ons ’n grondpad na regs en daar vat ons weer die agterpaaie.
Die ou myndorpie Nababeep is ’n belewenis. ’n Mens sal seker nie dink jy kan dit van ’n myn sê nie, maar ek het in my lewe nog nie so ’n mooi myn gesien nie. Ons verken eers die dorpie, en toe is dit tyd vir Bulletrap. Ons ry aan die agterent van Nababeep uit op ’n grondpad en kom so 20 tot 30 kilometer later weer by die N7. Nie ver daarvandaan nie, kry ons die afdraai na Nigramoep/Bulletrap en draai links af.
Hierdie roete is nie vir sensitiewe bestuurders nie. Die sagte roete is via Steinkopf en van daar af Port Nolloth toe – alles teerpad. Ons doen aan by Bulletrap, maar die dorpie bestaan deesdae omtrent net uit die munisipaliteit en ’n groot pers huis.
En toe begin die sports! Die mooi grondpad wat nog op party kaarte gewys word, bestaan eintlik nie meer nie. Ons ry later by Nigramoep se vliegveld verby en onder in die vallei kry ons die myn, wat nie meer in werking is nie. Die pad is later net twee spore en ek sê vir Meraai ons gaan ons êrens vasloop, maar ek gaan nié die tyd van die dag omdraai nie! Seker so 3 kilometer verder word my woorde waar en staan ons teen ’n toe hek en ’n motorhek regs daarvan met ’n valhek. Dié is met boute vasgemaak.
“Meraatjie, ons het sleutels nodig. Moersleutels,” sê ek vir my vrou.
Uit kom die toolbox en binne ’n oogwink is ons deur en die hek weer toe. Dit lyk nie vir my of dit deesdae meer ’n toeristepad is nie, want ons is onwettig op ’n boer se plaas! Gelukkig sien ons ’n huis en besluit om daar te gaan aanmeld en om verskoning te vra. Daar is egter nie ’n mens nie.
Rigting Noord, gaan voort!
Namakwa toe
Ná die R355 is die pad erg verspoel en met Skilpadtepel agterna neem dit ons omtrent 30 minute vir die laaste 5 km om by die hoof-grondpad uit te kom. Lekker!
Ons land laatmiddag in Port Nolloth aan en skiet deur McDougallsbaai toe. Vanaand is dit huisietyd, g’n kampery nie, want ons is moeg. Die volgende dag gaan wys ek vir Meraai Port Nolloth se hawe en die dorp, en by die hawe hou ons stil by ’n geroeste geel stoomlokomotief. Toe ek egter vir Pumba wil aanskakel, hakkel die mannetjie lekker.
Solenoid, dink ek dadelik terwyl hy klik, klik, klik, maar toe is daar lewe. Ons ry af na die ou hawe om vis en kreef te koop en toe ek dáár vir Pumba wil aanskakel, wil hy niks weet nie.
Gelukkig is Pieter Dam, die plaaslike werktuigkundige, daar. Hy klop-klop aan die solenoïed en kry Pumba aan die gang, maar ek kan nie verder op dié manier nie, sê hy.
By Speedy Exhaust verkoop hulle enige ding van ’n pantie tot ’n ploegskaar, maar nie ’n Pajero solenoïed nie. Dit gaan vier dae neem om een uit die Kaap te kry, hoor ek. Maar Pieter het ’n plan en vier uur later is ons weer aan die gang, hard op pad Hondeklipbaai en Namakwapark toe!
Grootmis en Kleinzee loop verby en ons maak ’n draai by Veronica van Dyk by Die Houthoop-gasteplaas, net so ’n entjie links van die pad na Kommaggas af. As jy wel in blommeseisoen hier ry, is dit ’n móét-oorslaapplek.
Koingnaas en Hondeklipbaai loop ook verby en ons draai weer links, binneland toe, na die Namakwa Nasionale Park. Ons bespreek ’n kampplek met twee staanplekke en betaal vir al twee sodat ons alleen kan wees.
Hierdie is vygiewêreld en ons sien die pragtigste verskeidenheid – van pers tot pienk, geel en wit. Jy hoef ook nie in blommeseisoen te kom om dié skouspel te sien nie.
Die volgende dag gaan kry ons diesel op Kamies, haak weer vir Skilpadtepel op die pad terug en mik na Groenriviermond. Vandag was “Varkiedag”. Daar was geen sonskyn om stortsakke warm te maak nie en die kampplekke het net VIP-toilette. Die weer was egter te koud om in die see te bad, so ons laat staan dit maar oor vir môre!
Mislik maar mooi
Dit is reënerig en die weer is mislik en koud, maar ons ry deur die mooiste wêreld op pad Groenriviermond toe. Die vygies langs die pad is pragtig en ek sukkel om vir Meraai in die kar te hou soos sy foto’s wil neem.
By die hek kry ons weer vir Piet en Mariaan Schreuder, twee amptenare van die park. Hulle het in 2012 ’n klein jakkals aangeneem en met ’n bottel grootgemaak. “Jakkels” is nou weer veld toe, maar kom kuier nog vir hulle.
Piet beduie my die pad na die mond al langs die kus af. Daar is blykbaar êrens ’n gladde soutpannetjie op die pad en daar moet ons links gaan binneland toe deur die hek.
Pumba loop mooi op die nat sand, maar dis koud en onplesierig toe ons ’n laatontbyt eet. Die wind waai ’n barshou van die see af en dit reën!
Kort daarna tref ons die soutpan en die perd is lekker glyerig. Pumba is nog in tweewielaandrywing en ek skakel net betyds na vierwiel oor. Toe looi ek hom en ons maak dit net-net deur. Maar dis toe juis waar ons binneland toe moes draai en ons is verby.
Ons kom uiteindelik by die Namakwa Sands-myn uit en bereik die teerpad. Dit reën nog steeds, maar nou moet daar eers bande gepomp word voor ons die pad Nuwerus toe kan volg om brandstof op Bitterfontein in te gooi. Pumba is dors en die son trek erg water.
Op Bitterfontein moet hulle eers die kragopwekker aan die gang kry om diesel in te gooi. Meraai het Loeriesfontein geroep vir slaapplek. Ek waarsku haar ons gaan nat grondpad in die donker moet ry, maar “Go big or go home” is haar antwoord en daar gaat ons.
Ons kom so agtuur op Loeriesfontein aan en verseker gaan dit ook ’n huisieaand wees. Die hotel is egter toe en hulle telefoonnommer verwys ons na die gastehuis. Dit is erg koud en ons kry darem ’n kamer. By die restaurant “werk” die spoorwegkontrakteurs naure in die kroeg (dink hulle is agter die
bargirl aan) en by die binnebraai maak ’n klient rustig sy eie vleis gaar! Dit is hoe dinge op Loeriesfontein werk.
Ná ’n paar draaie in die dorpie vat ons die volgende dag die teerpad Calvinia toe. Daar is die Hantamvleisfees toevallig aan die gang (sien, Draaitjies en Meraai het eintlik goed beplan). Ons kamp die volgende twee dae in die munisipale kampeerterrein en eet ons dik aan sosaties, skaapkop en klipribbetjie – ribbes wat tussen twee plat klippe op ’n halwe drom met vuur daaronder gebraai word. Saans dans ons op die maat van die Klipwerf Boereorkes dat die biesies bewe.
Maar toe moet ons begin huis toe gaan. Die Sondagoggend vroeg trek ons weg. Daar lê nog sowat 550 km oor huis toe en ons wil nog ’n middagslapie vang voordat die nuwe week begin.