Weg! Ry & Sleep

Tem die grootprate­rs

-

Ons almal ken daardie een ou wat so lief is om te spog. Dis dalk jou buurman, jou kollega of jou swaer, maar alles wat hy besit, beleef en bereik het, is nou maar eenmaal net beter as joune.

As jy oor jou ryding se brandstofv­erbruik gesels, maak hy jou vinnig wys sýne is ligter op diesel as joune. As jy noem hoeveel perde jou bakkie nou het nadat jy hom ge-chip het, praat hy jou stil omdat jy die verkeerde

chip by die verkeerde ou laat insit het. As jy ’n bietjie wil spog met jou kleinkind se mooi rapport, onderbreek hy jou met ’n storie oor sý kleinkind wat nou vir dokter swot.

Hy gedra hom natuurlik dieselfde as julle oor vakansiepl­anne gesels. As jy uiteindeli­k jou staanplek op Hartenbos bespreek het, het hy al maande terug die deposito vir sy staanplek teen Harties se strand betaal. As jy gereed is om Sanipas op jou emmerskopl­ys dood te trek, is sy goedjies gepak vir Van Zylspas... nogal met ’n boswa op die haak.

Só iemand het die vermoë om die witwarm waks uit jou uit te irriteer. Maar ek het raad... en ons het al die werk vir jou gedoen. Ek kan jou amper waarborg Meneer Grootpraat kon nog nie die moed bymekaarsk­raap om op sy eie die pad na die noorde van Botswana aan te durf om die Khwai-konsessie te gaan verken nie. Dalk as deel van ’n toergroep, maar beslis nie op sy eie nie.

Hier kan jy hom voorspring: Ons was daar en het met 28 wenke teruggekom vir jou droomreis na dié bekoorlike bestemming. Die genot van buurman se dosis onverdunde jaloesie is op ons.

Gaan loer dus op bl. 50, spring aan die werk, en vertel my ( schalk.jonker@ media24.com) hoe die reis verloop het. Én hoe groen jou swaer was.

Veilige reis.

 ??  ?? REDAKTEUR
REDAKTEUR

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa