Ek laaik jou Khwai!
Met dié 28 wenke vir ’n onvergeetlike reis na die bekoorlike Khwai-konsessie in Botswana het ons al die harde werk vir jou gedoen. Jy moet net bel en bespreek.
Die 80-reeks Land Cruiser van ons toerleier, J.I. de Wet, het ’n nuwe bynaam gekry. Dis nou nadat een van sy kolligte die vorige dag met ’n diep waterkruising die gees gegee het: “Kamp, kamp...” roep hy oor die tweerigtingradio. “Kom in vir die drieoogmonster.
J.I. sit saam met ons by die Matswerepan waar ons ’n groep honger pelikane dophou. Soos die kraai vlieg, is dit omtrent 5 km tussen ons en die Khwai-konsessie van die Magotho- openbare kampterrein in Botswana.
“Staan by”, antwoord sy ma, Almarie, wat onder ’n kolossale kameeldoringboom sit. Dié knewel by staanplek nr. 7 het genoeg skaduwee vir vier boswaens. “Hier het pas ágt wildehonde deur die kampterrein gehol!” roep sy. “Hulle het een vir een verby gedraf, asof ons nie hier is nie.”
In normale omstandighede sou ons soos die Dakar-tydrenlegende Stéphane Peterhansel teruggejaag het om dié seldsame diere af te neem. Maar die laaste vier dae het ons hulle op elke liewe wildrit gesien. Daarom antwoord J.I. ongeërg: “Fantasties! Geniet dit.”
Hierdie trop, wat uit dertien honde bestaan, het tans ’n lêplek met jong welpies in hierdie geweste en dus terroriseer hulle al wat ’n rooibok, koedoe en sebra is. Ons volg hulle daagliks op een van die vele sanderige tweespoorsandpaadjies wat deur Magotho se kameeldoringboomwoud kronkel, terwyl ons kopkrap oor waarom amper die helfte van die bome dood is.
Dit lyk nogal soos daardie stukkie aarde waarheen Simba in The Lion
King deur Mufasa verbied is om heen te gaan. Ek het lanklaas só ’n onheilspellende plek teëgekom. >
Soos ’n klomp skoolseuns op veldskool wat mekaar natspuit en onder die water dip, vermaak groepe van tot tien olifantbulle ons smiddae met hulle watermanewales in die vlak Khwairiver, en saans hoor ons Moremi se brullende leeus aan die oorkant. Blykbaar swem hulle van tyd tot tyd deur om die Khwaikant te partolleer.
Ons durf self ’n paar waterkruisings aan, en danksy die Cruiser se snorkel is dié ervaring vir ’n slag meer opwindend as angswekkend. Hier was egter ’n gesin in ’n Ford Ranger wat snorkelloos die verkeerde lyn deur die water gekies het... iets wat ongelukkig die einde van hulle toer beteken het.
Hier slaap beginners en hardebaarde gereeld in die veld, 3½ uur se harde ry van die naaste beskawing in Maun af.
Ons bring die laaste vier nagte by Sable Alley se private kampterrein deur en is verstom oor die habitatsverandering. Hier bestaan die veld hoofsaaklik uit mopanie-, koorsbessie-en appelblaarbome, en dis ook baie meer moerasagtig as by Magotho, sowat 5 km suidoos. Ons kyk hoe ’n luiperdwyfie en haar 3½ maande oue welpie ’n rooibokooi verorber en ’n jong mannetjie uit haar vorige werpsel ’n swerm wildemakoue onsuksesvol deur die vlak water jaag.
Ons het baie geleer in die nege dae in Khwai – watter paadjies om te ry en te vermy, hoe die plaaslike wildehonde mekaar opspoor ná ’n mislukte jagtog, hoekom dit ’n slegte plan is om van die pad af te ry, en selfs waar ’n mens kan vra vir ’n koue quart Black Label.
Hier is ’n klompie wenke om jou eerste – of volgende – reis Khwai toe een te maak wat jy nooit sal vergeet nie.
Onthou, daar is seekoeie en krokodille in hierdie waters, en daarom is dit gevaarlik om deur die kanale te loop.