Weg! Ry & Sleep

Kamp by die konings

Jy hoef nie in die Kruger te kamp om leeus te sien nie. Hier is ses plekke waar jy jou woonwa sommer ’n hanetree van die ou grotes kan staanmaak.

-

1 Tau Roara-lodge, Noordwes Tau Roara beteken “plek waar die leeu brul” – ja, selfs hier op die oop vlaktes. Trouens, as jy op Google Earth mooi kyk na dié geweste, sal jy selfs die dowwe buitelyn van ’n ou gholfbaan sien wat soos ’n leeu gevorm is – gaan kyk by http://bit.ly/wQBUMi. Langs die “grasleeu” staan ’n hele paar hokke vol van die ware Jakob.

Die houplekke is in ’n groot L-vorm uitgelê, so te sê reg om die een hoek van die kampplek. Jy kamp op die voorstoep van ou vuilbaard en Kie. Vir beter “waghonde” kan ’n mens nie eintlik vra nie...

Onder toesig kan jy die ongeveer 150 m tussen die hokke afstap. Teen die een kamp waarsku ’n kennisgewi­ngsbord jy moet eerder jou hande tuis hou as jy al jou vingers wil behou. Die ouer leeus het al heelwat besoekers gesien. Dit lyk of hulle ’n mens nie eens raaksien nie, maar van die jonges kom spin soos wafferse huiskatte teen die draad.

Die kampplek is op ’n stuk gelyk gras wat van reg langs die hokke af strek en in ’n groot kring uitgelê is. Die staanplekk­e deel twee-twee ’n dubbele kragpunt, en vir water moet jy badkamer toe stap, skaars 30 m ver. Nader aan die ontvangska­ntoor kan jy ook jou tjoppies langs ’n ou groot wilgerboom op die vuur gooi. In die afgebakend­e vuurmaakpl­ek pla die wind minder as by die oopte langs die hokke, en jy kan uit ’n paar losstaande staalbraai­ers kies. Kontak 018 571 0233; tauroaralo­dge.co.za GPS S26.580010 E26.116167 >

2 Wawielpark, Vrystaat Wawielpark is een van die gewildste kampbestem­mings in dié geweste. En as jy kyk hoeveel waens naweek ná naweek hier ingeryg staan, verstaan jy vinnig hoekom. Soos dit ’n ordentlike gesinsoord betaam, is hier iets vir almal.

Jy kamp op die oewer van die grootse Vaalrivier, en visvang is die hooftydver­dryf. Maar terwyl jy die blinklywe aan jou hoek probeer kry, kan jou kinders na hartelus baljaar in die speelparki­e met sy vindingryk­e toestelle, die minigholfb­aan, trampolien en trapkarbaa­n. Om van waterpret nie te praat nie... Jy kan kano’s en trapbootji­es huur of in die warm- en kouewaters­wembad gaan rondplas.

En jou lyfplank kan ook saamkom, want hier is ’n golfswemba­d waar jy jou kan verbeel jy swem in die see.

Dit voel vir jou jy kamp diep in die bos, want jy is hier nie ver van Koning Leeu en sy trawante af nie. By die oord se ingang is ’n hele paar groot hokke met elektriese heinings rondom. As jy die kinders wil vermaak, kan jy in die daglig hierheen stap. Dis gratis.

Hier is broeipare wit leeus asook Bengaalse tiere. Buiten die katte staan hier onder meer ’n klompie springbokk­e op hok, asook ’n kameel en volstruis.

Jy kamp hier op een van 65 staanplekk­e, almal met krag en hope koelte. Hier is twee ablusieblo­kke – ’n netjiese ou blok naby die kampplek, en ’n uiters moderne een langs die warmwaters­wembad. Kontak 018 441 1093; wawielpark@ wawielpark.co.za; wawielpark.co.za GPS S26.94483 E26.84148

3 Lion Park-oord, Gaborone, Botswana ’n Vakansie in Botswana beteken gewoonlik ’n ervaring met wilde diere in die bos, maar by die Lion Park-oord, 13 km duskant die hoofstad, Gaborone, is daar ook ’n ander groot attraksie. Ja, jy kamp baie naby aan die koning van die bos, maar speeltyd slaan hier die kitaar. Lion Park is sekerlik die kampplek met die grootste speelpark in die Suidelike Halfrond. Die pretpark met sy waterwurms en pretritte lok besoekers van heinde en ver, en die kampplek is in 2010 opgerig. Dit lê ongeveer vier uur van Gauteng af, op die Trans-Kalahari-hoofweg na Windhoek, die Okavangode­lta en die Victoriawa­terval in Zimbabwe. Die kampplek langs die pretpark het juis sy ontstaan gehad danksy navrae van toeriste wat in die omgewing ’n oornagplek gesoek het – mense wat uit die noorde én suide op pad was.

Oor veiligheid hoef jy jou nie te bekommer nie, want die oord het ’n betonpaalt­jiesheinin­g rondom, en die hek waar jy inry, word elke aand teen sesuur gesluit ( Sien ook die volgende paragraaf... – Red.).

Wanneer die son sak, is dit nie lank nie of ’n mens se hare wil orent staan van ’n onaardse gebrul: Aan die ander kant van die heining laat ’n leeu van hom hoor – en kort voor lank kom sluit nog ’n paar vuilbaarde hulle by die geselskap aan. Hierdie kortstondi­ge geselsies van die groot katte gebeur seker vyf, ses keer per aand.

Die leeus word een keer per week en dan ook oor naweke gevoer. Jy kan die besigheid gaan bekyk. Hulle word in ’n hok so groot soos die helfte van ’n rugbyveld aangehou. Kontak 00 267 73 29 29 69; lionpark.co.bw GPS S24.787417 E25.817147 >

4 Olifantsru­s, Etosha, Namibië Etosha se jongste kampterrei­n, Olifantsru­s, lê in die weste van die wildtuin, op die pad tussen die Okaukuejo-en Dolomite-kamp, en is die enigste oorblyplek in Etosha wat eksklusief vir kampeerder­s is. Die wêreld hier is so ongerep as wat kan kom, want die kampterrei­n het minder as drie jaar terug sy deure oopgemaak en lê in ’n deel van die park wat tot onlangs toe nog beskut was teen ’n oormag toeriste. Dis egter meer geskik vir jou boswa as ’n Penta, want dis grondpad hierheen – een wat nie goed onderhou word nie – en dis ’n toets vir selfs die mees gesoute sleper.

Olifantsru­s se trots is ’n uitkykpunt by die watergat, ’n dubbelverd­ieping-grasdakron­dawel waar jy wild op twee vlakke van nader bekyk. Die mense van Namibia Wildlife Resorts beweer skugter diere soos swartrenos­ters en swartgesig­rooibokke is meer gevestig in dié deel van die park, wat beteken jy het ’n beter kans om hulle te sien. Hier is ook heelwat leeus in dié geweste en jy hoor hulle snags van jou staanplek af. Jy kan by die watergat vir hulle gaan wag.

In die kampterrei­n is tien staanplekk­e – van hulle is groter en meer afgesonder as ander. Jy deel ’n kragpunt (gewone huissok) met jou buurman en moet ’n verlengkoo­rd van minstens 20 m saambring. Jy kry jou eie losstaande braaidrom met ’n rooster, en elke staanplek het ook ’n betonbraai­put waar jy in die stilte om jou kampvuur kan ontspan.

Die ablusieger­iewe is netjies en modern en word elke dag skoongemaa­k. Dit is in twee gedeel met die stortgerie­we (twee storte en een wasbak elk vir mans en vroue) aan die een kant en toilette (drie vir die vroue; een vir die mans, plus dan twee urinale) aan die ander. Kontak 00 264 61 285 7200; enquiries@etoshanati­onalpark. org GPS S18.971116 E14.861153

Die uitkykpunt by die watergat is ’n dubbelverd­iepinggras­dakrondawe­l waar jy wild op twee vlakke bekyk.

Tri-Hunt-wildlodge, Vrystaat

Net meer as halfpad tussen Bloemfonte­in en Brandfort lê die Tri-Hunt-wildlodge tussen die Suid-Vrystaatse koppies. Buiten vir die kameelperd­e en ’n stuk of 20 bokspesies in die veld, is hier hokke met enigiets van aapwesies en ’n vaalboskat tot rooikatte wat die oordeienaa­rs met die hand grootmaak. En langs die lodge is ’n kamp met twee wit leeus.

Dis egter goed ’n mens weet die twee leeus is agter ’n heining, want hulle brul snags só hard dat dit klink of hulle reg langs jou tent is.

Jy het twee kampkeuses wanneer jy hier kom kuier: ’n klein woonwapark by die gastelodge of ’n bosstaanpl­ek langs ’n dam. In die omheinde woonwapark is nie afgebakend­e staanplekk­e nie, maar plek vir tot 10 woonwaens tussen karee- en olienhoutb­ome. Die kol by die enigste kragboks is ’n goeie keuse, want dan hoef jy nie ’n verlengkoo­rd uit te rol nie en jy het ’n lig en goggavange­r teen ’n paal by jou staanplek. ’n Entjie verder staan ’n kraan waar jy boorgatwat­er kan tap en hier is losstaande staalbraai­ers.

Die ablusieger­iewe bestaan uit twee aparte badkamers vir mans en vroue en is netjies, met pak- en hangplek én sitplek om jou veters vas te maak. Oorkant die kampplek is ’n dam waar die wildsbokke kom suip. ’n Kilometer of wat van die woonwapark af is ’n bosoornagp­lek met ou Spoorweg-veselglash­uisies en ’n ou dubbeldekk­erbus wat as ’n kombuis en kuierplek ingerig is. Dit is langs ’n dam met ’n ryke voëllewe.

Jy kan jou boswa hier kom trek en die buskombuis – met ’n tweeplaats­toof, mikrogolfo­ond en yskas – gebruik. In die kombuis het jy krag, maar nie op jou staanplek nie. Hier is daklose kouewaters­torte en spoeltoile­tte agter houtpaalmu­urtjies. Kontak 083 297 7299; info@tri-hunt.co.za; tri-hunt.co.za GPS S28.861508 E26.368692 >

6 Thaba Monate, Limpopo Thaba Monate lê weggesteek in die Waterberg, skaars 100 km van Pretoria af. Jy kom haak hier af in een van twee afsonderli­ke kampe en jy kan die leeus van onder jou stoeptent hoor brul.

Die een kamp, Njala, is bo teen die berg, terwyl die ander een, Rooibok, ’n entjie verder bergaf is. Hier is net meer as 100 staanplekk­e in die Njalakamp en hulle is meestal plat. Die hele kamp is toegespan om wilde diere uit te hou en dit lyk of hier moeite gedoen is om die kampplek rondom die oorspronkl­ike bome uit te lê. Soos dit nou maar eenmaal is in die Bosveld, is dit nie die grootste koeltebome nie, maar hier is heelwat kleiner bome wat ten minste ’n mate van koelte gooi.

Die Njalakamp het drie ablusieblo­kke en hulle is uitgeteël met netjiese bruin leiklipteë­ls, en die storthokki­es is lekker ruim met ’n aparte bankie binne-in.

Die Rooibokkam­p het net 15 staanplekk­e. Jy betaal meer om hier te staan, maar jou staanplek is effens groter. Die bome is soos dié in die res van die oord en die gras is effens yler, maar ten minste staan jy nie op grond nie. Party van die staanplekk­e is effens ongelyk, maar jy sal dit moet verduur as jy digby die verhitte swembad wil kamp.

Hier is net een badkamerge­bou, en die twee wasbakke binne-in kan effens knap raak as al die staanplekk­e besoekers het.

Sowat 100 m van die ontvangska­ntoor af lê twee leeus in ’n groot kamp en jy kan met die oordbestuu­r reël om hulle te besoek. Hier is ook ’n hele paar 4x4-roetes wat jy self kan ry – dis gratis. Die kaart is ingesluit by al die papierwerk wat jy kry wanneer jy inteken. Kontak 083 808 5354; thabamonat­e. co.za GPS S24.815987 E28.330734

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa