Springbok, protea... galjoen
Op die oog af is daar min wat ’n geelhoutboom, bloukraanvoël en galjoen in gemeen het, maar nes die springbok en protea is dié drie ook van ons land se nasionale simbole.
Die keuse van die galjoen as nasionale vis voel vreemd – ’n mens sou dink die witdoodshaai of noorkapperwalvis moet dié erestatus kry.
Maar die galjoen is gekies omdat hy inheems is – dié vis word van Namibië tot by Durban aangetref en nêrens elders ter wêreld nie.
In 2005 is 25 000 gemerkte galjoene in vier dele rondom die land vrygelaat om meer te leer van hulle migrasiepatrone. Nie minder nie as 95% van die visse is weer gevang waar hulle vrygelaat is. En die 5% wat afgedwaal het, het nie veel verder as hulle endemiese gebied gedraai nie. Hoewel hy nie as gebiedsgebonde beskryf word nie, sal hy waarskynlik nie verder as 1,38 km van sy blyplek af rondloop nie.
Die voorstel om die galjoen tot nasionale vis te verklaar het gekom van ene Margaret Smith. Volgens The Sea Fishes
of Southern Africa, wat in 1950 gepubliseer is, het Margaret aangevoer die galjoen is waarskynlik die eerste vis wat vroeëre setlaars opgemerk het, en daarom kan dit net sowel gekies word as ’n mariene simbool wat gelyk staan aan die protea en springbok. (Margaret was die vrou van die selakantkenner J.L.B. Smith.)
Genadiglik is ons nasionale sportspanne na die springbok en protea genoem, want stel jou net voor hoe bitter die pil sou wees as die Galjoene die krieketreeks teen Engeland moes verloor!