Die begin van ons kamplewe
Amper 50 jaar gelede het hulle ’n opvouwoonwa gehuur om vir hulle e seun die see te gaan wys. Sedertdien kamp Josef en Johanna Tolmay van Drie Rivieren sonder ophou.
In 1969 was ek en Johanna skaars drie jaar getroud en ons eersteling, Danie, het pas sy opwagting gemaak. Ek en Johanna is albei lief vir die see en ons het gedroom van die dag dat ons vir ons seuntjie die groot waters kon gaan wys. Daar was egter ’n probleem: In daardie stadium kon ons nie ’n huurwoonstel by die see bekostig nie.
Ons moes dus ’n tweede opsie oorweeg, en dít was om ’n woonwa te huur. Maar in daardie stadium het ek met ’n 1966-model Fiat 1100D gery. Met sy beperkte werkverrigting was die opsies van wat ek kon sleep, taamlik beperk; ek moes beslis ’n ligte wa met ’n lae windweerstand kry.
Ek het gou besef ’n opvouwoonwa is die antwoord vir ons.
Ek het begin soek, en ons is uiteindelik verwys na iemand in die Magagonggebied van Noordwes. Hulle het ’n opvouwoonwa gehad en was bereid om hom vir R2 per dag aan ons te verhuur. Ons het ingestem en die wa Hartenbos toe gesleep vir die vakansie.
Die woonwa was baie soortgelyk aan ’n gewone sleepwa, maar hy het ’n swaar metaaldak gehad. Jy het die dak gelig en hom dan met twee lang metaalstutte aan die voor- en agterkant in plek gehou. Dit was egter nie net vir opslaan nie; dit het twee groot mans gekos om die dak op te druk. Met die dak op sy plek het twee enkelbeddens met hulle seile na buite uitgevou. Die seile van die raamwerk was permanent aan die dak geheg en albei enkelbeddens is aan die onderkant deur twee metaalstutte gestut. Dié stutte en die twee wat die wa aan die agterkant gestabiliseer het, het almal met teleskooppale gewerk.
Die seile van die hele raamwerk was met hakies onder aan die enkelbeddens en bakwerk geheg. Ek onthou daar was twee enkelbanke met ’n gangetjie tussenin. Dit was ’n gawe plek om te sit én ekstra beddens vir nog twee mense. Die banke het opgelig – híér was die enigste pakplek in die wa.
Die tent het ook nie enige ritssluiters gehad nie, wat beteken jy het nie veel beheer gehad oor reën, wind of koue nie.
Jy het aan die agterkant van die wa ingeklim deur ’n deurtjie wat na onder oopgemaak het. Aan die binnekant van die deur was ’n ingeboude trappie; ek onthou dit was ’n slim plan wat die inen uitklimmery aansienlik makliker vir ons gemaak het.
Daardie seevakansie was ons kampvuurdoop, en die ervaring sal ons altyd bybly. Sedertdien het ons geesdriftige kampeerders geword wat die wêreld vol reis met ons Jurgens Expo.
Ek wens egter ek het geweet wat die oorsprong was van ons gehuurde opvouwa. Dalk kan iemand help met meer inligting.
In daardie stadium het ek met ’n 1966-model Fiat 1100D gery. Met sy beperkte werkverrigting was die opsies van wat ek kon sleep, taamlik beperk.