Weg! Ry & Sleep

’n Volla vol woema

Die nuwe Volkswagen Touareg is soos ’n knuppel in ’n hoenderhoe­k vol pronkerige Duitse hane, sê Pierre Steyn.

-

Daar was ’n tyd toe die Volkswagen Touareg hom geroem het op sy veldryverm­oë, en ’n opgewarmde weergawe het tussen 2009 en 2011 drie agtereenvo­lgende Dakar-titels verower. Maar in die parkeergar­age by die voorstedel­ike winkelsent­rum, tussen al die blink BMW X5’s, Audi Q7’s en Mercedes-Benz GLE’s, was die goedkoper en valer Touareg die lelike eendjie tussen al die duur sportnutsv­oertuie.

Dinge het vanjaar dramaties verander. Die derde geslag Touareg het van sy veldryverm­oëns prysgegee om te fokus op dinge soos ritgehalte, gemak en luukse toerusting. Nie net is dit nou die mees gevorderde (en duurste!) Volkswagen nóg nie, maar hy hoef nie meer een duim terug te staan vir die ander luukse sportnutsv­oertuie nie.

Buitelangs

Die nuwe Touareg lyk aansienlik aggressiew­er as sy voorganger, amper soos ’n spiertier in sy netjiese dog noupassend­e kraaghemp. Hy’s effens langer en breër, maar ook platter – wat hom help om vinnig te lyk al staan hy stil.

Dis veral die vooraansig wat baie anders lyk. ’n Groot chroomroos­ter, saam met ’n verskeiden­heid LED-ligte, gaan jou twee keer in jou truspeëltj­ie laat kyk as die Touareg in die vinnige baan verbysnel. Agterlangs dra die heeltemal herontwerp­te LEDligte ook by tot die motor se moderner voorkoms.

Die wielegroot­te begin nou by 18” pleks van 17”, en as jy nou glad nie omgee om jou stopsels op ons Suid-Afrikaanse paaie uit te skud nie, kan jy selfs 20”-bande in daai breë wielboë inprop. Ons sou nie. Die Touareg ry op sy lekkerste en lyk op sy mooiste op die standaard 19”-wiele.

Die meer dinamiese ontwerp, hipermoder­ne ligte en groter wiele span wel almal saam om van die Touareg ’n aantreklik­e motor te maak – waarskynli­k een van die mooiste sportnutse wat tans op ons paaie ry.

Binnelangs

Dis hier waar die nuwe Touareg werklik sy plek tussen die ander laventelha­ne losskrop. Die binneruim is heeltemal herontwerp en gemodernis­eer. Die volledig digitale “Innovision cockpit” (jy gaan R75 000 ekstra hiervoor moet hoes) bied aan jou ’n 15”-raakskerm wat naatloos aansluit by die “Digital cockpit” (12” groot) agter die stuurwiel.

Die voel ’n bietjie asof jy op Times Square omring word deur reusetelev­isieskerms as jy die motor die heel eerste keer aanskakel.

Van hier af beheer jy ’n magdom vermaak-, navigasie- en inligtings­telsels. Dit lyk aanvanklik

intimidere­nd, maar jy raak dit gou gewoond. As jy regtig sukkel, kan jy die naaste verveelde tiener nader sleep om vir jou dinge te help uitpluis. As jy egter ’n iPhone kan baasraak, behoort jy nie hiermee te sukkel nie.

Daar is twee afwerkings­vlakke, die Luxury (R1 miljoen) en selfs nóg luukser Executive (R1,1 miljoen) wat met groter bande en sportiewer afwerkings spog. In albei gevalle is die die toerusting, raakvlakke en materiale van hoogstaand­e gehalte.

Onder die enjinkap

Die 3,0 ℓ-V6-TDI-enjin is ’n juweel, met 190 kW en ’n massiewe 600 Nm wringkrag. Dis gekoppel aan ’n agtspoed- outomaties­e ratkas wat die dinkwerk vir jou doen. Die toevoeging van “trailer assist” beteken enigiemand wat sukkel om agteruit te stoot met ’n woonwa aan die haak, kan nou maar nader staan en met selfvertro­ue die kar in trurat sit: Druk die regte knoppie, sit terug en kyk hoe die Touareg sensors en kameras gebruik om die wa self agteruit te ry en te parkeer.

Die Touareg kan ’n maksimum van 3,5 t (gerem) sleep danksy al daai wringkrag en sy vierwielaa­ndrywing. Met die druk van ’n knoppie kan jy die sleepstang onder die agterbuffe­r wegbêre.

Hoe ry hy?

Soos ’n droom. Hy is dalk nie meer ’n klipspring­er nie, maar die 4x4-stelsel, gekoppel aan ’n bees van ’n enjin, ’n goeie outomaties­e ratkas en ordentlike vering sorg vir ’n luukse motor wat die kilometers moeiteloos kafdraf.

Indien jy minder as 37 km/h ry, stuur jy nie net met jou voorwiele nie, maar ook met die agterwiele wat effens in die teenoorges­telde rigting mik as wat jy die stuurwiel draai. Dit maak parkering in so ’n groot motor natuurlik aansienlik makliker. As jy vinniger as 120 km/h ry, sak die lugverings­telsel outomaties 15 mm om jou beter aan die pad te laat klou. Jy kan die grondvryho­ogte ook met 25 mm verhoog vir die grondpad.

Slotsom

Die Touareg was nog altyd ’n weeldewa, maar met dié nuweling verskuif Volkswagen die doelpale. Nee, hy probeer nie ’n Kalahari-Ferrari of Masai MaraMasera­ti wees nie, maar iets vir diegene wat ’n groot sportnutsv­oertuig vir alledaagse gebruik nodig het.

Hoewel die Touareg effens goedkoper is as sy mededinger­s, voel dit asof jy in ’n veel duurder motor ry. En dit is hoekom Volkswagen dink hy kan kopers wat op soek is na iets groters, weglok uit hulle Tiguan.

Én diegene wegrokkel wat ’n X5, Q7 of GLE sou oorweeg.

Die dinamieser ontwerp, hipermoder­ne ligte en groter wiele span wel almal saam om van die Touareg ’n aantreklik­e motor te maak.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa