Afrika se ruwe diamant
Moenie dat die nuus uit Zimbabwe jou afskrik nie, want dié land is ryk aan geskiedenis, natuurskoon en wild. En dis boonop net hier anderkant.
Zimbabwe is dikwels om die verkeerde redes in die nuus, maar dié land het onlangs ’n groot politieke omwenteling gehad en stadig maar seker verskyn ’n bietjie meer lig aan die einde van die tonnel. Maar ongeag die politiek bly dit ’n besonderse land wat ongelooflik ryk is aan natuurskoon, met inwoners wat besoekers steeds met ope arms verwelkom.
Dink net: Dit is ’n land wat lê tussen twee van Suider-Afrika se grootste riviere: die Limpopo in die suide en die Zambesi in die noorde. Jy weet sekerlik van die Victoriawaterval. En dan is daar ook tien ander nasionale parke sowel as minstens tien ander kleiner nasionale bewareas met onder meer skouspelagtige grotte, ontsagwekkende mere en pragtige botaniese tuine. En as jy ’n diereliefhebber is, pak maar solank jou tasse, want Zimbabwe se reservate is wêreldbekend vir die groot hoeveelheid wild.
Mpafa Travel bied ’n selfrysafaritoer van 13 dae deur Zimbabwe met soveel as moontlik van die land se hoogtepunte ingeprop. Toe ons hoor daar is ’n sitplek oop, het ons nie twee keer gedink nie. Ons is by die voordeur uit… reguit op pad na ons buurland!
By Rhodes se laaste rusplek
Die toergroep bestaan uit 12 voertuie en 2 ondersteuningsvoertuie van Mpafa. Ons kry mekaar by die Big Cave-kamp net buite die Matopos -nasionale park, sowat 35 km buite Bulawayo. Dis ’n lang pad van die huis af, en daarom bring ons twee aande hier deur sodat ons die park die volgende dag behoorlik kan verken.
Matopos, wat “kaalkoppe” beteken, kry sy naam van die kenmerkende granietkoppies in die gebied wat meer as 2 miljard jaar gelede gevorm is. Die park, ’n Unesco-wêrelderfenisterrein, beslaan 424km² en is die grootste in die land. Dis oorspronklik in 1926 as die Rhodes Matopos -nasionale park gestig. >
Dit is tussen dié koppies waar die tweede Matabele-oorlog gewoed het. Dit het uiteindelik tot ’n einde gekom toe Cecil John Rhodes self met die Ndebeles onderhandel het. Die gebied het Rhodes só betower dat hy in sy testament versoek het om hier begrawe te word – iets wat in 1902 wel gebeur het. Vandag kan jy ’n draai gaan maak by sy graf bo-op ’n koppie met die naam “View of the World”. Die uitsig is inderdaad indrukwekkend en veral in die laaste lig voor sononder pragtig.
Dit is geen verrassing nie dat die San eeue voor die Britte en die Ndebeles al in die gebied geleef het. In die park is meer as 3000 aangetekende plekke met rotskuns, en die beste voorbeelde daarvan is in grotte in die park.
Die tekeninge in die Pomongwegrot naby die Malemedam is ongelukkig in 1965 erg beskadig toe probeer is om die kunswerke met lynsaadolie te bewaar. Mik eerder vir die Nswatugigrot in die weste van die park – hier is ’n hele muur vol tekeninge wat in ’n puik toestand is.
Maar wees gewaarsku: Dis ’n kort dog lekker steil opdraande wat jy moet uitklim om by die grot te kom.
Waar dit alles begin het
Van Matopos af ry jy eers weer terug na Bulawayo (35km) voor jy oos draai op die A9 in die rigting van Masvingo (280km). Dié dorpie op sigself is nie spesiaal nie, maar net 28km suid daarvandaan is sekerlik die belangrikste historiese baken in die land: die Groot-Zimbabwe-ruïnestad.
As jy vroeg genoeg van Matopos af wegspring, kan jy teen middagete by Groot-Zimbabwe wees en die namiddag gebruik om die ruïnes te verken. Soos met baie ander antieke bousels uit toeka se dae bly baie details van die ruïnestad nog ’n raaisel. Maar wat argeoloë wel reken, is dat dit tussen die 11de en 15de eeu deur die Shonas gebou is en glo ’n koninklike paleis was. Die land het ná onafhanklikwording in 1980 uiteindelik ook sy naam van dié paleis af gekry, want Zimbabwe beteken letterlik “Huis van klip”. Die goue voël op die landsvlag is ’n afbeelding van een van die agt seepsteen standbeelde, die Zimbabwevoëls, wat op die perseel gevind is. Dié standbeelde, waarskynlik nabootsings van ’n visarend, is vandag nog te sien in die museumpie naby die ingang.
Vat jou tyd hier en moenie ’n kamera vergeet nie. En dis ’n goeie plan om ’n gids te huur wat jou deur die verskillende dele van die stad sal lei. Moenie die “Great Enclosure”, ’n skouspelagtige sirkelvormige fort met klipmure wat tot 11 m hoog is, misloop nie.
En al is jy nie topfiks nie, doen jouself ’n guns en stap op na die “Hill Complex” vir ’n fantastiese uitsig oor die hele ruïnestad. Dis veral pragtig net voor sononder wanneer die laaste sonstrale die klipmure, smal gangetjies en deurkosyne in sagte goue lig tooi.
Ons bly tot die son gesak het, want ons blyplek vir die aand is nie ver nie. Die kampvuur brand reeds toe ons by Norma Jeane se kamp op die oewer van die Mutirikwimeer aankom.
Roofvoëls en grotte
Die volgende oggend val ons vroeg in die pad en ry weer terug Masvingo toe. Van hier af swenk ons roete noordwaarts tot by ’n hoogtepunt van die toer: die Manapoele. Die totale afstand soontoe is 680km en die plan is om dit eerder in twee dae af te lê. Sodoende het ons genoeg tyd om by nog twee interessante plekke langs die pad ’n draai te maak: die Kuimba Shiri-voëlpark en die Chinhoyigrotte.
Die A4-hoofroete is nog ’n rede waarom jy eerder jou tyd wil vat, want dis dié pad wat hordes vervoerlorries uit Harare gebruik om na die Beitbrug-grenspos te ry. Die afstand tussen Masvingo en Kuiba Shiri op die Chiveromeer buite Harare is skaars 320 km, maar dit neem die konvooi 6 uur om dit te ry. Gelukkig is daar ’n restaurant met yskoue bier om daardie warmte onder jou kraag af te koel wat deur al die vragmotorbestuurders veroorsaak is.
Kuimba Shiri is 20 jaar gelede gestig as ’n rehabilitasiesentrum vir roofvoëls. Vandag kan jy hier oorslaap, kamp, perdry, visvang en selfs per boot gaan wild kyk op die meer. Die eienaar, Gary Stopforth, is ’n uitbundige man wie se liefde vir roof- voëls duidelik is wanneer hy jou verwelkom. Hy het al sy hele lewe lank ’n fassinasie met roofvoëls en weet alles wat te weet is van dié geveerde spesies. In die verlede was hy selfs betrokke by die opleiding van arende vir dokumentêre van die BBC. Elke middag om 4 nm. bied Gary ’n vertoning aan waar hy jou wysmaak oor uile, valke en arende. Een van die hoogtepunte is wanneer ’n visarend skaars >
5 m voor jou in die meer ’n eetding uit die water oppik.
Die volgende oggend is ons weer vroeg op pad, eers in die rigting van Harare en dan met ’n kortpad op die rand van die stad na die A1 waar ons konvooi noordwaarts draai. Ons mikpunt vir vanaand is die Manapoele, maar laatoggend maak ons eers ’n draai by die Chinhoyigrotte.
Die grotte is soos ’n miniatuurweergawe van die Kangogrotte, maar het ’n troefkaart wat jy nie aldag sien nie: ’n kobaltblou poel water wat só helder is jou vriende sal dink jou foto’s is gedokter. Dié poel heet die “Sleeping pool” en het dit ’n ietwat onheilspellende reputasie. ’n Legende lui dat ’n moordenaar sy slagoffers in die poel gegooi het voordat ’n Shonahoofman, ene Chinhoyi, hom van kant gemaak het – vandaar die grotte se naam. ’n Tweede storie beweer die tradisionele naam van die grotte is Chirorodiziva (“Pool of the Fallen”) omdat die Angonistam in die 1830’s ook mense hier in die poele verdrink het.
Luilekker langs die Zambesi
Met die A1 is dit sowat 185 km van die grotte af voor jy Marongora aan jou linkerkant bereik. Die parkeraad se kantoor is hier en dis waar jy jou permit vir die Manapoele moet betaal. Wanneer jy klaar is, ry jy 5 km verder met ’n kronkelende bergpas (pasop weer vir daai lorries) af tot by die park se ingangshek. Hier moet jy weer by ’n valhek stilhou om jou besonderhede in ’n boek te skryf – dit gee jou ook sommer kans om jou wiele ’n bietjie af te blaas vir die grondpad wat voorlê.
Dis nie 4x4-wêreld nie, maar die pad is plek-plek sinkplaat gery en sagter bande gaan jou niere spaar. Raak ook sommer hier ontslae van enige vrugte in jou kar en skenk dit aan die hekwagte, want dit word verbied in die park. Die rede? Wel, as olifant se kind snuf in die neus kry in die kampterrein, is daar dalk nie veel van jou kar of tent oor nie.
’n Raps oor 30km verder kry jy nog ’n valhek en nóg ’n verlepte boek om in te vul. Rek maar ’n bietjie jou bene, want
die grondpad is nog nie klaar nie – die Nyamepi-kamp is nog 45km van hier af. Dit is so te sê reguit noord na die magtige Zambesirivier en een van die mooiste kampplekke in die ganse Afrika.
Dis net voor skemer en die Manapoele verwelkom ons met sy kenmerkende laatmiddagligstrale wat deur die takke van massiewe bome skyn en die wêreld om ons in ’n goue gloed dompel. Nes elke vorige aand staan ons tente reeds danksy die Mpafa-span wat vooruit kom kamp opslaan het; dus is die belangrikste ding nou om ’n kampstoel op die oewer van die Zambesi staan te maak en met ’n skemerkelkie te ontspan. Buitendien is daar nog baie tyd vir nesskop later, want ons is vir die volgende drie aande hier.
Drie dae is net genoeg om die Manapoele te verken. Van die Nyamepi-kamp af hoef jy nie ver te ry om baie diere te sien nie. Die poele of watergate waarna die park genoem is, is digby die kamp. Die “Chisasiko Pool”, “Long Pool” en “Chine Pool” is veral lekker plekke om vroegoggend >
Dis net voor skemer en die Manapoele verwelkom ons met sy kenmerkende laatmiddagligstrale wat deur die takke van massiewe bome skyn.
www.weg.co.za
met ’n koppie koffie te gaan sit en wag vir die diere wat kom water drink. Die park het nie renosters nie, maar die res van die groot vyf is teenwoordig en jy gewaar dalk ’n jagluiperd of luiperd.
Die olifante hier is bekend daarvoor dat hulle op hulle agterpote staan om by hoë boomtakke by te kom – kyk of jy ’n foto hiervan kan kry.
En as jy hulle nie in die park van nader te siene kry nie, is die kanse in elk geval goed dat hulle ’n draai in die kampplek kom maak.
Gepraat van die kamp – maak seker jou voertuig en tente is goed toe, al is jy ook binne-in die kamp.
Die blouape en bobbejane is vreeslik lastig en die kampopsigters waarsku die bobbejane het selfs al geleer hoe om ’n tent oop te maak.
Die Manapoele is een van die skouspelagtigste bewareas op die vasteland en daar is min ander plekke waar jy so reg in die die natuur kan ontspan.
As jy teen sononder daar langs die magtige Zambesi sit en kyk hoe olifante en seekoeie halflyf in die water staan en vreet terwyl ’n hengse krokodil eenkant lê en ’n visarend met ’n kreet verby vlieg, bring dit ’n diepe vrede in jou hart.
Waar die Nyami Nyami waghou
Niemand is juis ywerig om die Manapoele te verlaat nie, maar daar is nog ’n klompie mooi bestemmings wat voorlê. Ons volgende een, die Karibadam, is gelukkig nie ver nie en ons het nog tyd vir ontbyt ná ’n laaste vroegoggendwildrit. Dis weer terug na dieselfde parkhek waar ons ingekom het en verby Marongora voor ons wes draai by die dorpie Makuti. Kariba is sowat 70 km hiervandaan.
Die Karibadam is ’n geweldige stuk ingenieurswese. Dié 280 km lange dam se water word deur ’n damwal van minder as 600 m in toom gehou. Dis indrukwekkend en beslis ’n besoek werd. Besoekers mag op die brug gaan stap, maar jy moet by die immigrasiekantoor aanmeld vir jou permit, want die wal vorm immers die grens tussen Zimbabwe en Zambië. Gaan maak ’n draai by die besoekersentrum (GPS S16.522972 E28.766878 ) vir ’n uitsig oor die damwal. Hier sal jy ’n standbeeldjie van die Zambesi-riviergod, die Nyami Nyami, sien waghou oor die water. >
Tot ’n volgende keer
Die laaste bestemming op die toer is die Hwange -nasionale park, sowat 260 km noord van Bulawayo op die A8. Die grondpad tussen Kariba en die A8 is egter in ’n baie swak toestand en jy sukkel om vinniger as 60 km/h te haal. Maak dus seker jy spring vroeg weg om dié 480km af te lê, want dit gaan jou beslis die hele dag vat. Op hierdie toer met ’n konvooi is besluit om dit eerder in twee dae af te lê en ons bring dus ’n aand in Binga deur.
Hwange is die grootste nasionale park in Zimbabwe – as jy na ’n kaart daarvan kyk, besef jy daar is nie ’n manier dat jy die hele park op ’n enkele besoek behoorlik kan sien nie. Nietemin is die park propvol wild, en met oorgenoeg watergate is jy so te sê gewaarborg om ’n goeie hoeveelheid diere te sien.
As jy naby die hoofkamp bly, mik vroegoggend vir die Makwapan en maak ’n sirkelroete verby die Kennedy-piekniekplek, die Manga- en Dopi-watergat, en sluit dan af by Nyamandhlovu. Met ons besoek het ons ’n trop leeus, reusagtige olifante en pragtige kameelperde kort ná mekaar teëgekom en selfs gesien hoe twee krokodille ’n rooibok in die water verorber.
Die toergroep groet mekaar die volgende oggend met swaar harte. Nie net omdat ’n groep vreemdelinge nou as vriende uitmekaar spat nie, maar ook omdat Zimbabwe ondanks sy reputasie almal se harte gesteel het.
Volgende keer as ons die nare hooftrekke uit dié land lees, sal ons ten minste weet dat daar ook ’n ander, beter Zimbabwe bestaan.
En dís ’n plek wat ons gou weer sal kom besoek.