SLEEPTOETS
Die verskeidenheid stasiewaens wat ’n mens in Suid-Afrika kan koop om mee te sleep, kan jy omtrent op jou een hand tel. Dis net hier waar Subaru se Outback ’n stewige voortou neem.
Subaru het in die jare negentig ’n huishoudelike naam geword, veral ná sy sukses in tydrenne. Die vervaardiger is ewe bekend vir sy ikoniese boksersenjins, die sogenaamde “plat enjin” waarvan die suiers in ’n horisontale lyn én in teenoorgestelde rigtings beweeg. Ander voertuie wat met ’n bokserenjin uitgekom het en omtrent ewe ikonies was, is die Volkswagen Kewer, die Ferrari Testarossa en die Porsche 911. Een van die groot voordele van dié soort enjin is die lae gravitasiepunt teenoor dié van konvensionele enjins, iets wat sorg vir beter padhouvermoë.
Dis natuurlik goed en wel, maar niemand wil teen 140 km/h op ’n smal grond paadjie in’ n denneboom plantasie jaag terwyl die gesin en die wa omtrent ewe hard moet klou om by te hou nie. Gelukkig het die Outback ’n sagter kant om jou woonwa moeiteloos by jou kampbestemming te kry.
Armdruk tussen twee broers
Jy kan kies tussen twee Outback-modelle, en behalwe die enjins is hulle identies. Subaru hou nie terug met die nuutste tegnologie nie en met die standaardopsies is die Outback ’n kar met alles wat kan oop- en toemaak. Van ’n bagasieruim se deur wat elektries werk tot baanbeheer, blindekolsensors en drie lense wat sake voor, agter, en links van die Outback dophou.
Die 2,5 ℓ-enjin het vier silinders en die 3,6 ℓ ses. Vir die toets het ons laasgenoemde voor die wa ingespan.
Die sleep vrag beperking wat Subaru op die twee modelle plaas, strook met die onderskeie enjingroottes. Die 2,5 ℓ mag ’n vrag van tot 1,5 t sleep en die groter een 1,8 t. Die toegelate neusgewig is 10% van die sleepvraglimiet en dus onderskeidelik 150 kg en 180 kg.
As ’n mens bloot na die syfers kyk, verskil die enjingroottes >
net meer as ’n derde, maar vir net 10% meer geld is dit deur en deur die moeite werd om die groter model te oorweeg. Dit beteken ’n verdere R67 000 by die R550 000 wat die kleiner model kos. Gelukkig kry jy dit met rente terug as jy kyk na die groot verskil in die twee enjins se kraglewering. Met die 2,5 ℓ se 235 Nm gaan jy hier en daar stoei met ’n groter woonwa, terwyl die groter enjin se 350 Nm opgewasse is vir die meeste woonwaens.
’n Mens sou dink die 3,6 ℓ-enjin het ’n groot keelgat, maar oor sy 16,7 ℓ/100 km – dit is 6 km/ℓ – terwyl hy ’n wa van ’n ton op die haak sleep, kan ’n mens nie kla nie, veral as jy in ag neem dis ’n petrolenjin.
Luister vir die haak
Ons toetsvoertuig het ’n verwyderbare Kilber-Startrek-stang op. Al kan ’n mens met die groter model ’n swaarder woonwa sleep, beperk dié haak jou tot 1,5 t. Dis steeds ’n heel aanvaarbare gewig omdat heelwat padwaens minder as 1,5 t weeg (al kan die BVM hoër wees). ’n Ewe groot verskeidenheid boswaens en boswoonwaens val ook in dié gewigsklas. Die neusgewig is beperk tot 75 kg (hoewel Subaru meer as dubbel dié syfer toelaat). Ons wetgewing beperk jou weliswaar tot 100 kg.
Die haak het ’n flensplaat met twee stelle gate waarmee jy die bol 6 cm vertikaal kan stel, en as dit nie genoeg is nie, sal ’n sakplaat ook pas. Die bol se verste kant staan 15,5 cm van die bakwerk af en die ligteprop sit links agter die buffer. Die onderste deel van die buffer is weggesny om plek te maak vir die ligteprop. Hierdie sok kan ook boontoe wegvou wanneer dit nie gebruik word nie. >