Weg! Ry & Sleep

RY-INDRUK: FIAT PANDA

Jy sien hom in die stad en in die platteland, maar het jy al ooit ’n Fiat Panda op ’n 4x4-roete teëgekom? Cyril Klopper haal uit en wys.

-

Dit is lekker as ’n piepklein sportnuts jou diep beïndruk deur amper so goed as ’n hardebaard veldryvoer­tuig te presteer. Dis immers waarom ons vir die buiteperd skree in ’n toernooi.

Nes met die Suzuki Jimny het Fiat Panda-eienaars ook staaltjies te vertel oor hoe dié outjie ’n Jeep op sy neus laat kyk het, maar is sulke Dawidteen-Goliat-stories geloofwaar­dig of bloot spog- en veral bogpraatji­es?

Ons het die Fiat Panda Cross na die Honingklip-4x4-roete (’n graad 3 tot 5-meneer) buite Hermanus in die Kaap geneem om te sien wat hy in die berge kan vermag.

Binne en buite

Soos sommige steekhaarb­rakkies is die Panda buitelangs skoon mooi van lelikgeit, maar van binne mooi. Die instrument­epaneel vertoon vrolik met oranjerooi liggies wat wink en gladde knoppies wat bedel vir drukkies. Selfs die suurste grompot sal glimlag as hy agter ’n Panda se stuur inskuif. Goed, alles is van harde plastiek, maar dit pla glad nie, want die geronde vorms en oulike details is innemend en gevoelvol.

Die Panda is klein en rats genoeg dat jy óm die meeste hinderniss­e eerder as óór hulle hoef te ry.

Só ry hy

Met twee volwassene­s voor en twee kinders met ’n sak NikNaks op die agterbank vertrek ons na die Overberg met sy gladde grondpaaie. Maar eers moet ons ’n besige N1-snelweg verduur vóór ons die stad kan agterlaat. Die Panda Cross se eerste rat is té kort vir druk verkeer en die tweede rat voel dikwels te vinnig. Jy moet die heeltyd ratte verwissel – iets wat soms frustreren­d kan raak.

As die verkeer yler raak, kan die Panda sy bene strek. Die nuwe 875 cc-tweesilind­erturboaan­gejaagde petrolenji­n is indrukwekk­ender as die uitgaande 1,2 ℓ- en 1,4 ℓ-enjin, maar die maksimumkr­ag- lewering van 66 kW gaan nie jou voete onder jou uitslaan nie en jy moet geduldig wees terwyl die naald perdgerus tot by die 120 km/h-merk klim.

Die Panda presteer wel uitstekend op die Franschhoe­kpas. Sy 145 Nm-wringkrag klink dalk skraps, maar dis oorgenoeg vir die pas se swiepende draaie. Bakwieg is opvallend, maar dit voel nooit gevaarlik nie.

Die Van Der Stel-grondpadpa­s tussen die Theewaters­kloofdam en Botrivier is modderig ná ’n onlangse reënbui, maar die Panda is kennelik bedoel vir sulke toestande. Die vering lewer ’n gawe rit en die allewielaa­ndrywing klou getrou aan die nat grond. Ook die standaard-Goodyear Vector 4Season-bande vaar besonder goed hier.

Hoewel die Panda Cross effens hoër in sy sokkies staan as ’n gewone Panda 4x4 (161 mm teenoor 150 mm), hang sy pens steeds laag – ’n Suzuki Jimny het byvoorbeel­d ’n grondvryho­ogte van 225 mm. By Honingklip-4x4 moes ons versigtig werk met middelmann­etjies en hobbels. Gelukkig is die Panda klein en rats genoeg dat jy óm die meeste hinderniss­e eerder as óór hulle hoef te ry. >

Wielartiku­lasie is glad nie sleg nie – gegewe die tipe voertuig – en die allewielaa­ndrywing se outomaties­e wringkragv­erspreidin­g lewer billike resultate. Maar waarmee die Panda die meeste sukkel, is los klippe teen steil opdraandes. Dan staan jy stil terwyl die wiele in die rondte tol. As die bult té steil is, ruk daai 0,9 ℓ-enjin ook maklik dood. Fiat beweer die Panda kan ’n 70°-skuinste baasraak, maar ons kon dit nie naastenby ewenaar nie.

Honingklip se graad 3-hinderniss­e is nie kinderspel­etjies nie en ons moes dikwels die aftog blaas. Ons kon nie eens by die graad 4’s uitkom nie, wat nog te sê graad 5. Gedurende die gespartel het die Panda Cross klippe opgeskop, maar die metaal- en plastiekpa­nele op die bakwerk het hom mooi daarteen beskerm. Dit is dus nie om dowe neute daar nie – goed gedink, Fiat!

Volgens sy spesifikas­ielys het die Panda Cross ’n indrukwekk­ende waaddiepte van 711 mm, maar moet dit eerder nie op die proef stel nie, want teen 1 090 kg weeg dié sportnuts min genoeg om rivier-af koers te kies.

Slotsom

Soos jy tereg dink, is die Fiat Panda Cross allesbehal­we ’n hardebaard veldryer. Die doel van hierdie toets was nie om die teendeel te bewys nie; ons wou bloot weet hoe ver ons die Panda kon druk en die antwoord is: Nie baie ver nie – ten minste nie op ’n ware 4x4-roete nie.

Oorweeg wel ’n Panda Cross as jy in die platteland woon en jy op grondpad van jou tuisdorp na die buurdorp wil ry.

Maar ’n ander vraag is: Hoeveel Fiat-dienssentr­ums is daar in die platteland? Tussen Vereenigin­g en Bloemfonte­in is daar presies nul. Jammer dus vir jou as jy op Hennenman woon...

 ??  ?? HARDEKWAS. Die Panda vaar goed op grondpad en in moddergate. Wielartiku­lasie (regs) is ook glad nie sleg nie, maar hy stoei met los grond teen steil hellings.
HARDEKWAS. Die Panda vaar goed op grondpad en in moddergate. Wielartiku­lasie (regs) is ook glad nie sleg nie, maar hy stoei met los grond teen steil hellings.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa