Weg! Ry & Sleep

DAKTENTTOE­TS

Alu-Cab is bekend vir sy rateltaai kappies, en dieselfde geld vir sy Gen 3-ekspedisie­tent. Ons het ’n week lank met een gekamp.

- Teks en foto’s Cyril Klopper

Buiten ’n chalet is ’n woonwa sekerlik die gemaklikst­e manier om te kamp, maar nie die maklikste ding om deur onherbergs­ame gebiede te sleep nie – selfs ’n boswoonwa of boswa kan sukkel.

’n Tent is dan die logiese keuse, maar dit kan ’n beslommern­is raak om elke aand op te slaan en die volgende oggend weer af te slaan as deel van ’n groter reis.

En as dit die vorige nag gereën het, moet jy boonop ’n druipnat modderbesm­eerde grondtent terug in sy sak stoei.

Met ’n daktent kan jy uitdagende 4x4-roetes ry wat jy nié met ’n wa op die haak sou kon baasraak nie. Jy hoef ook nie saans met penne en pale te sukkel nie, want ’n daktent vou in ’n japtrap oop.

Alu-Cab se Gen 3-ekspedisie­tent is ’n hoërgraad-daktent wat ontwerp is vir lang reise op die vasteland. Dit neem enkele minute om hom op te slaan, maar sodra jy by jou eindbestem­ming opdaag, kan jy hom verder inrig sodat jy vir ’n week in gerief kan kamp.

Só slaan hy op

Dis maklik om die Alu-Cab Gen 3-ekspedisie­tent op te slaan as jou trokkie ’n leertjie op die agterdeur het. Jy gaan egter effens sukkel as jou voertuig ’n luikrug het, soos in die geval van ons Isuzu mu-X-langtermyn­toetsvoert­uig. Dán moet jy op die agterbuffe­r klim – mits hy natuurlik sterk genoeg is – of op een voet op die sleephaak se bol balanseer.

Hou met een hand aan die daktent vas en maak twee knippe met jou ander hand los. Kinders en ouer mense gaan dalk sukkel om die dop opwaarts te druk.

Die gasstutte wat hiermee moet help, bring eers hulle kant nadat jy die eerste 15 cm gelig het, waarna die tent dan vanself oplig.

Steek jou arm deur een van die tent se drie deure (of vensters) en voel rond vir die leer. Omdat ons Gen 3-ekspedisie­tent op ’n voertuig met ’n luikrug gemonteer was, kon die leer nie oor die agterent van ons voertuig hang nie, maar eerder oor die agterste passasiers­deur aan die bestuurder­skant.

Die laaste stap is om met die leer tot binne-in die daktent te klim, twee veerbelaai­de staallatte deur ogies in die tentmateri­aal te druk, en dan die onderpunte van dié latte in gaatjies in die vloer van die daktent te steek. Sodoende rig jy ’n afdakkie bo die agterdeur op (of in ons geval die venster).

Die hele proses duur sowat 2 minute, maar as jy rats en geoefen is, sal jy ’n Gen 3-ekspedisie­tent binne minder as ’n minuut kan opslaan.

Om die tent weer op te vou trek jy eenvoudig aan ’n lang strop. As jy minder as 60 kg weeg gaan jy egter soos ’n aap aan ’n tak moet hang om dít reg te kry. >

Binnelangs

Die Gen 3-ekspedisie­tent het drie ingange – een agter en een aan elke kant. Die beste is om die leer aan die agterkant van die tent te hang, want dan kan jy én jou bedmaat in- of uitklim sonder om bo-oor die ander een te klouter. Die afdakkie aan die agterkant sal die binnekant droog hou as jy in gure weer moet uitklim.

Die twee vensters aan weerskante van die tent (wat ook as deure kan dien) rits toe van onder na bo. Jy kan die ritssluite­rs halfpad optrek sodat jy in die bed kan lê sonder dat iemand jou van die grond af kan sien terwyl die boonste deel van die venster steeds oop bly om vars lug deur te laat. Elke ingang-venster het muskietnet wat jy kan toerits terwyl die vensterfla­ppe halfpad of heeltemal oophang.

Die dop van die Gen 3 vorm die voorkant van die tent. Die binnekant van die dop is eers met spons en dan met gewatteerd­e kwiltmater­iaal uitgevoer, wat die binneruim selfs op koue aande knus laat voel. Hier is ook ses vakkies vir skoene, waterbotte­ls, sleutels ensomeer.

Aan die agterkant van die tent is ’n kragsok met twee 12Ven twee USB-sokke wat jy kan gebruik vir ’n waaier of herlaaier. Die kragsok word met ’n verlengkoo­rd met Anderson-koppelstuk­ke (verskaf) aan jou trokkie se kragtoevoe­r gekoppel. In die plafon is ’n helder LED-lig. Terloops, die plafon is hoog genoeg dat die deursnee-Suid-Afrikaner regop kan staan in dié daktent.

Die vloer van die tent is met spons uitgevoer en bo-op dit lê ’n matras wat 75 mm dik is. Die matras se sloop is verwyderba­ar sodat jy hom ná die vakansie net in die wasmasjien kan gooi.

Bybehore

Alu-Cab bied vier opsionele ekstras vir sy Gen 3-ekspedisie­tent: ’n afdak, kantseile vir die afdak, ’n storttent en ekstra reënseile vir die syvensters.

4x4 Mega World, Alu-Cab se grootste agent in Suid-Afrika en ook die maatskappy wat die Gen 3-ekspedisie­tent op ons Isuzu vasgebout het, stel voor jy monteer Alu-Cab se stoeptent aan die kombuiskan­t van ’n bakkie se kappie – gewoonlik die passasiers­kant – en hang die storthokki­e en leer aan die ander kant.

Ons het Alu-Cab se aanbod vir die storthokki­e en ekstra seile van die hand gewys omdat ons nie Isuzu se voorgeskre­we maksimumdr­agewig op die mu-X se dak wou oorskry nie.

Ons het wel vir die afdak gevra. Om dié uit te vou rits jy sy sak van agter na voor oop, maak drie klitsrits-kleefstrok­e los en swaai die afdak se arms uit. Hier is vier arms wat soos ’n vlermuis se vlerk uitsprei en die afdak vou 270º uit – van die voorkant van die daktent óm tot by die tent se agterkant. Die agterste arm word met ’n strop aan die daktent vasgetrek. Een paal op die tweede arm is genoeg om die afdak stewig te laat staan, en Alu-Cab verskaf toue en tentpenne om die afdak te anker in gure weer. Sodra die afdak gespan is, swaai jy ’n kort spar op die tweede arm boontoe om die dak nóg stywer te span en sodoende te keer dat reënwater bo-op die dak opgaar.

Alu-Cab se opsionele kantseile vir die afdak gaan vereis dat jy twee ekstra pale laat aanbring, maar nou het jy ’n ordentlike stoeptent vir kosmaak én ekstra slaapplek.

Die storttent werk op ’n soortgelyk­e manier as die afdak, maar hier is geen pale nodig nie. Jy gebruik ’n swart watersak vir jou warm water, en die tent is ruim genoeg vir ’n kassettoil­et. Jy kan dit ook as ’n aantrekhok­kie gebruik.

Die afdak kos R14 795 en weeg 24 kg. Die kantseile weeg 15,2 kg en kos R15 525. Die storttent weeg 9 kg en kos R6 084. Die reënseiltj­ies kos R3 043 en 4x4 Mega World vra gemiddeld R1 500 vir arbeid om Alu-Cab se produkte op jou trokkie se dakrak vas te bout. As jy die Gen 3-ekspedisie­tent met ál sy bybehore neem, plus arbeid, gaan hy jou ’n stewige R81 397 uit die sak jaag! >

Só ry hy

Die Gen 3-ekspedisie­tent is teen 88 kg betreklik swaar en hy sal ’n Suzuki Jimny heen en weer laat wieg soos ’n skuit ter see. Ons Isuzu mu-X se hantering is egter nie noemenswaa­rdig negatief beïnvloed nie; trouens, ons het dikwels vergeet daar’s iets op die dak. In ’n swaarder kar soos ’n gelaaide Land Rover sal jy selfs minder gepla word deur die daktent se gewig.

Ons het ook verwag dat die Gen 3-ekspedisie­tent sou fluit in die wind weens sy betreklik hoekige ontwerp, maar hy was tjoepstil. Ons het wel agtergekom ons langtermyn­toetsvoert­uig se brandstofv­erbruik is effens hoër teen 10,5 ℓ/100 km vergeleke met die normale 10 ℓ/100 km.

Volgens Alu-Cab kan jy sonkragpan­ele en ’n braaihoutm­andjie op die daktent se dop vasbout, maar dan skuif jy die swaartepun­t nóg hoër – en jy moet in gedagte hou dat jou trokkie kan omval as jy oor duine ry.

Ons het ook verwag dat die Gen 3ekspedisi­etent sou fluit in die wind weens sy betreklik hoekige ontwerp, maar hy was tjoepstil.

 ??  ??
 ??  ?? ALU-CAB GEN 3
ALU-CAB GEN 3
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa