WONDERLAND 45
’n Mens hoor nie dikwels van ’n kampplek waar al die staanplekke rondom ’n hengeldam uitgelê word nie. Dit beteken ’n ieder en elk van die kampeerders het sy stukkie oewer waar jy kan lyn natmaak. Maar hier by Wonderland 45, ’n hanetree buite Pretoria, word jy nie net só bederf nie; hier kan jy rondstap en tussen vyf damme kies – almal naby mekaar.
Wat die kampplek vir hengelaars nóg unieker maak, is die verskeidenheid varswatervis wat jy kan vang. Jy kyk na swartbaars, baber, kurper en karp en, glo dit of nie, ook forel. Wanneer laas het jy soveel uiteenlopende vis by een oord teëgekom? Dis behoorlik die varswaterviswêreld se eie Groot Vyf op een erf. (Terloops, die “45” in die naam verwys na die kleinhoewenommer.)
Wanneer jy die kampplek binnery, is die badkamers direk voor jou, met die eerste ry van nege staanplekke links langs die eerste dam – 110 m lank, 15 m breed en 3 m diep – waar jy kurper en forel kan uittrek. (Al die staanplekke in die oord het ’n eie braaiplek met ’n rooster, kragpunt, kraan en lig.)
Voor die badkamers is ’n vierkantige dam, die sesde een in die oord, maar hier word visvang nie toegelaat nie. Dit is ook net 1 m diep en speelplek vir die jong klomp as hulle begin tone tel op die staanplek. Die ander speelplek – ’n parkie – is langs die eerste dam en het onder meer ’n ronde opslaanswembad en ’n paar swaaie. Hier is selfs ’n paar plaasdiere wat jy oor naweke en op vakansiedae kan help kosgee. Dit sluit in bokke, skape, emoes, hoenders, hase en donkies.