Die lang pad na ons wintertuiste TINUS GROBLER Somerset-Wes
Verlede jaar se winter breek aan en ek en my vrou, Tersia, vertrek uit Somerset-Wes na ons wintertuiste, Marlothpark in Mpumalanga. Om seker te maak ons kom vroeg die oggend weg het ek ons Skipperwoonwa en Toyota Fortuner die vorige aand al gepak. Daar’s egter ’n haakplek: Toe ek die oggend die ys-vrieskas van 220 V na die Fortuner se 12 V oorskakel, is daar ’n doodsheid oor die yskas wat my herinner aan beurtkrag. Die vrieskas is boonop vol vleis en ek moet vinnig plan sien. Ek kry geen fout nie en kry ’n outo-elektrisiën om te help. Hy stel vas dit is ’n kortsluiting by die vrieskas en sien dit gou reg. Ons kom weg en trek in by die Dassiesfontein-padstal naby Caledon waar ’n mens alles en nog wat kan koop. Met ’n vars brood, pas uit die oond, en ’n blok plaasbotter is ons vort en ons hou stil by die eerste rusplek langs die pad. Hier geniet ons die heerlike brood en botter. By Swellendam draai ons in by die Bonteboknasionale park. ’n Vriendelike man help ons in die kantoor en ons ry tot by die kampplek waar ons nesskop. Soos by die meeste van Sanparke se kampplekke is die badkamergeriewe baie skoon en netjies. Terwyl ons braai, kom maak ’n muskeljaatkat ’n draai, maar uiteraard deel ons nie ons tjoppies met die besoeker nie. Nadat ons die park verken het, vertrek ons Hartenbos toe. Hier slaap ons by ons vriende Freddie en Gerda Strauss, want die volgende dag is dit tot by Tsitsikamma, wat deel is van die Tuinroetenasionale park. Aanvanklik het ons net vir twee nagte bespreek, maar met ’n staanplek so teen die see waar jy die branders behoorlik kan voel, ruik, hoor en sien, besluit ons om langer te bly. Net soos by Bontebok is die badkamergeriewe ’n plesier. Patensie is volgende in ons visier, waarna ons die Baviaanskloof wil aandurf. By die hek sê die vriendelike beampte die pad is nie regtig bedoel vir woonwasleep nie. Tog besluit ek om deur te druk met die Skipper. Ons slaan kamp op by Doodsklip en die kamptarief is
omtrent dieselfde as wat ons by Sanparke betaal het die afgelope kamp of twee. Maar hierdie staanplek is skoon vaal en ’n mens moet teen ’n bult uitklim om by die puttoilet uit te kom. Die volgende dag is dit verder die berge in, oor klippe en deur dale, tot waar een padwerker ons afraai om verder te ry met die Skipper. Maar hier is nie omdraaiplek nie en ons druk deur. Ná al die gestamp en skud het die Skipper se deurknip losgespring, wat beteken water het by die deur ingeloop waar ons deur die rivier gery het – dit was die ergste skade. Ná twee dae se kruip teen 5 km/h kan ek net sê die Fortuner en Skipper het hulle kant gebring – julle is tops! Om die Baviaans te ry was nog altyd een van my lewensdrome. Dit is ’n ongelooflike mooi en ongerepte stuk aarde. Graaff-Reinet is volgende, waar ons weer by ’n Sanparke-kampplek, Kamdeboo, aandoen. Ons daag om 19:00 op en die kantoor is al toe, maar die sekerheidswag laat ons deur. Natuurlik is die staanplek goed versorg, en dieselfde geld vir die badkamers. Nog net een oorslaap op Maselspoort naby Bloemfontein lê voor, want môre is ons tuis in ons winterhuis.