‘Wild’ lê om die draai...
Die ander dag tref die volgende brokkie nuttelose inligting my tussen die oë: Die deursneemens kyk meer as 100 keer per dag na hulle selfoon, en ons kan deesdae nie langer as 8 sekondes aan een ding ons onverdeelde aandag gee nie. Dis minder as waartoe ’n goudvis in staat is!
Ek vel geen oordeel nie. Ek het goeie vriende wat eerder ’n geliefde troeteldier, dalk selfs ’n familielid of twee (veral die aangetroudes), sal prysgee voordat hulle hulle selfoon inboet. Maar dit maak die tye waar ons kan ontsnap van die elektroniese geroesmoes des te meer kosbaar – die tye waar ons net kan stil raak om ’n sonsondergang in te drink of ’n boeiende storie tot laataand (op papier!) te kan lees.
Op bl. 112 vertel Joshua Hadebe, die bibliotekaris op Chrissiesmeer, hoe die dorpsbiblioteek vir hom as kind een van die lekkerste plekke op die dorp was. Joshua is ’n man na aan my hart. Die plaaslike biblioteek het in my jong lewe ook die rol van kinderoppasser gespeel.
Dit was hier waar ek – kruisbeen op die krapperige bruin staatsdienstapyt – die eerste keer Where the Wild Things Are raakgelees het. Dis meer as 50 jaar gelede geskryf en geïllustreer deur die Amerikaner Maurice Sendak, en is tot vandag een die mooiste kinderboeke (en grootmensboeke) ooit.
Dis later in Afrikaans vertaal as Wildekanisland, en vertel met min woorde die verhaal van die stoute Max, wat sonder aandete na sy kamer gestuur word nadat hy in sy ouerhuis amok gemaak het. Sy kamer word in ’n verbeeldingsvlug omskep in ’n oerwoud, en hy vertrek na ’n eiland waar hy die vreeslose koning van die wilde Wildekanisse word. Ná vele avonture seil hy tog terug huis toe, waar ’n warm bord kos op hom wag.
Met die lees van Pieter Hugo se spannende avontuur op die Cuitorivier in Angola (bl. 42) en Tabby Mittins se voetslaan deur die Kruger (bl. 34) besef ek opnuut hoe bevoorreg ons is om die wilde dinge van Afrika eerstehands te kan beleef.
Ons eie Wildekanisland is oral om ons. Geen verbeeldingsvlugte is nodig nie. Ons moet net vir langer as 8 sekondes ’n bietjie aandag skenk.