Die groot bang by Grootkolk
Ek en my vrou, Annatjie, het onlangs in die Grootkolk-wilderniskamp in die noorde van die Kgalagadi-oorgrenspark gebly.
Met ons aankoms gewaar ons ’n manjifieke leeumannetjie en wyfie, skaars 50 m van ons huisie af. Ná ’n wyle verkas hulle dieper die veld in. Later die middag suip ’n troppie koedoes by die watergat, en ons sien twee leeus wat doodluiters deur die kamp stap. Hulle bekruip die koedoes, maar laasgenoemde is wakker en hardloop in ’n stofwolk weg.
Intussen kom suip ’n groot trop blouwildebeeste. Die twee leeus is weer terug en bekruip die wildebeeste – hulle skrik en dis net hoewe wat klap. Die leeus drink by die watergat en verdwyn veld-in.
Die aand gaan slaap ons vroeg. Elfuur skrik ons wakker van ’n lawaai op die stoep. Ek gryp my flits en maak die deur oop... minder as ’n meter weg staan ’n jong leeumannetjie op sy agterpote met sy bolyf wat oor die muurtjie bo-op ons opwasbak hang! Die geraas was toe hy ons ketel afgestamp het. Ek skyn met die flits in sy oë en skree: “Weg is jy!” Maar Ta steur hom skaars aan my. Teen die ander hoek van die sowat 1 m hoë heining lê nog ’n jong leeu en kou ’n vlekvryestaalbak.
Ek sluit haastig die bodeur toe. Annatjie is nog deur die slaap en maak sowaar die deur weer oop en skrik groot vir die jong leeumannetjie wat steeds inspeksie doen van ons kombuis.
Ons was vrekbang! Dit is net ’n tenthuisie met gaas voor die vensters. Die leeus het vir sowat ’n uur rondom ons huisie gespeel. Ons het uiteindelik so teen tweeuur die oggend weer aan die slaap geraak.
CORNELIS VORSTER, Garsfontein-Oos >