KRUGERWILDTUIN
Ons kom vroegmiddag by Beitbrug aan en gly ondanks die lang toue deur die Zimbabwekant van die grens. Die probleme begin aan die SA kant. Dit neem meer as vier uur van verwarring en burokratiese gesukkel om deur te kom. Vermy Beitbrug maar sover jy kan.
Ons kry takeaways vir aandete en kom eers ná sononder by die Harnham Guesthouse in die Soutpansberg aan.
Ons roete na die noordelike deel van die Krugerwildtuin loop verby die Sunland-kremetart – een van Suid-Afrika se grootste bome wat glo ouer as 1 000 jaar is. Ons slaap ’n nag by die wildtuin se Punda Maria-ruskamp en ry toe suid na Letaba. Die wildtuin is kurkdroog, al is dit in die middel van die somer. En die droogte eis sy tol: Ons sien baie dooie diere en baie ander wat swaarkry. Selfs die breë Letabarivier het skaars water.
Ons het tot dusver nog net een keer reën gekry – in Malawi. Naby Letaba sak die reën uit. Die dor grond suig elke druppel op.
Ná drie dae verlaat ons die park deur die Orpenhek en ry ’n mooi roete al op die lip van die Laeveld tot by die Paul Krugerhek en nog verder tot by die Onder-Sabie-ruskamp. Ons hou stil by Drie Rondawels- en God’s Windowuitkykpunt en die Bourke’s Luck-maalgate, en eet pannekoek op Graskop.