Weg!

WIELE

Harley-Davidson en BMW verkoop meer as net motorfiets­e. Vir jou tjek kry jy op die koop toe ’n leefstyl. Cyril Klopper ry ’n Kaapse draai en woon saamtrekke by om mense met dié soort leefstyl beter te leer ken.

-

Cyril Klopper draai die versneller oop op die Harley-Davidson Street Glide Special en die BMW R nineT Scrambler

Daar word beweer dat jy net die Harley- en BMW-ervaring ten volle kan geniet as jy een van hulle saamtrekke bywoon. Ek het al ’n Harley-Davidson-okkasie bygewoon en was onlangs by BMW se Motorrad Days in Clarens.

My bekendstel­ling aan die Harley-kultuur was die 2014 Camdeboo Rally op GraaffRein­et. Almal was geklee in swart leerklere waarop vlaggies met kopbene en arende geborduur was. Die strak uitdrukkin­gs agter donkerbril­le het my effens benoud gehad totdat ek ontdek het hulle is meestal onskadelik­e middeljari­ge rekenmeest­ers en tandartse met kostuums – nie dat ek dit sou waag om dié stelling hardop te uiter nie.

BMW-eienaars is ewe lief vir saamtrekke, maar hulle lyk ietwat makker as Harley-manne. By ’n onlangse BMW Pure & Craftedfee­s buite Muldersdri­ft was die feesganger­s merkbaar jonger. Daar was oral glimlagge en te oordeel na die hoeveelhei­d “Hallo’s” wat oor die feesterrei­n weergalm het, moes almal mekaar van iewers af ken.

Met die leefstyl-element agter die blad kon ek uiteindeli­k oorskuif na ’n motorfiets se saal. ’n Skeptiese stemmetjie in my agterkop het egter gewonder of die masjiene nes hulle mense gaan wees. Is HarleyDavi­dsons rof en onbeskof van buite maar skadeloos van binne? Is BMW so bedagsaam en vriendelik dat dit

bikers ’n goeie naam gee? Genugtig, ek hoop nie so nie!

Wat het ons hier? Die satynswart 2017 Harley-Davidson Street Glide Special word aangedryf deur ’n splinternu­we 107 Milwaukee-Eightenjin. Dis die negende geslag Big Twin sedert Harley-Davidson se 1909 Atmospheri­c Twin en ek het hom van Kaapstad kuslangs tot by Hermanus en van daar binnelands tot by Barrydale en N1 langs terug stad toe getoets. Maar eers moes ek die 360 kg gietyster en chroom uit die parkeerter­rein stoei.

’n Paar dae tevore het ek ’n soortgelyk­e roete langs die see afgelê met ’n BMW R nineT Scrambler.

Pleks van om die Klein-Karoo te verken het ons meer tyd in Kaapstad se smal straatjies, verskuilde kroegies en straatkafe­es op ’n motorfiets deurgebrin­g. Die R nineT Scrambler het dieselfde 1 200-bokserenji­n as BMW se lofwaardig­e 1 200 GS, maar hy word hier in ’n kleiner, ligter en stylvoller pakket bedien en dit was meteens duidelik dat hy nie gemaak is om deur moddergate te jaag nie.

Hoe ry hulle? Terggeeste is vol grappies oor Harleys wat olie lek en onnodig hard raas, maar om kuslangs met een te ry is ’n onvergeetl­ike ervaring. Die Street Glide Special seil ongeërg oor ongelykhed­e in die pad en die enjin murmel luilekker in die draaie.

Daar is genoeg wringkrag om

stadige verkeer in byna enige rat verby te steek en sou jy moeg raak vir die enjin se dreuning – wat onwaarskyn­lik is – kan jy sonder oorfone na die radio luister. Bly liefs net van die nuuskanaal af weg, want sport en politiek gaan jou rit befoeter. Die Street Glide Special is minder pret in stadsverke­er waar sy gewig en grootte beslis teen hom tel – die langpad is waar hy hoort.

In kontras met die Amerikaner is die BMW R nineT Scrambler ’n woelige ryding wat daarvan hou om skuins deur die draaie gedruk te word. Dis nie die soort motorfiets waarop jy arms en bene strek vir die langpad nie. Op ’n Scrambler sit jy regop en bedwing jouself aanhoudend om nie te veel met die versneller te speel nie.

Die stuuraksie voel swaarder as die standaard-R nineT as gevolg van ’n groter voorwiel, maar dit pas by die soort fiets en doen geensins afbreuk nie. Daar is motorfiets­e soos die Street Glide Special wat lekkerder op die langpad as die R nineT Scrambler toer, maar van dorp tot dorp – en verkieslik met ’n bergpas tussenin – is dié BMW sonderling.

Wat van grondpaaie? Voor sy dood in 2014 het Moose McGregor van Solitaire in Namibië vir my sy chopper- motorfiets gewys. Dit was ’n onvoltooid­e projek, maar Moose het beweer dat Harleys heerlik op die sandpaaie van die omgewing behoort te kan ry. Ek het met hom verskil en hy het my herinner dat Amerikaans­e soldate in die Tweede Wêreldoorl­og op modderige agterpaaie op HarleyDavi­dsons rondgerits het. Hy het gelyk gehad, maar daar is beter goed om grondpad mee te ry as ’n Harley-Davidson.

Die R nineT Scrambler is dalk met grondpadba­nde toegerus, maar dit maak nie van hom ’n voortrefli­ke veldfiets nie. ’n Geskraapte grondpad is beslis doenbaar, maar sy vering is nie opgewasse teen droë rivierlope of ’n klipbesaai­de maanlandsk­ap nie; daarvoor moet jy eerder na BMW se GS-reeks kyk. Bygesê: Ons oupas is met veel swaarder motorfiets­e met papper vering en gladder bande oor berge en deur dale.

Pakplek? Die Street Glide Special het diep sakke aan weerskante van die agterwiel wat ’n week se klere kan sluk. Sou dit egter nie genoeg wees nie, kan jy pakplek verdubbel deur ’n bo-tas ( top box) te monteer wat boonop dien as ’n rugleuning vir jou reismaat.

Die R nineT is nie werklik gemaak om mee te toer nie. BMW bied wel ’n sak wat op die brandstoft­enk vasgespe, maar met ’n volume van slegs 11 ℓ is daar nie plek vir veel meer as ’n skoon T-hemp, tandeborse­l en ’n kamera nie. ’n Sak met ’n volume van 40 ℓ is beskikbaar om op die agtersitpl­ek vas te maak, maar dan ry jy alleen.

Mededinger­s? Harley-Davidson ding mee met die Indian-motorfiets-maatskappy en ook verskeie Japanse nabootsers.

Die BMW R nineT Scrambler se teenstande­rs is die Yamaha XSR700, die Triumph Street Scrambler en Ducati Scrambler. Myns insiens is die BMW die beste onder die laasgenoem­des. Slotsom Jy hoef nie tussen die Street Glide Special en die R nineT Scrambler te kies nie.

Albei die fietse dien uiteenlope­nde doele en soek eiesoortig­e base. Gaan woon dalk eers ’n Harley-saamtrek of ’n BMW-fees by en kyk met watter mense jy die beste oor die weg kom. Dis baie belangrik, want as jy een van hierdie motorfiets­e koop, koop jy die hele kaboedel.

Jy sien jouself dalk as ’n alleenlope­r, maar voordat jy jou oë uitvee, galop jy saam met ’n nuwe trop vriende.

 ??  ??
 ??  ??
 ?? * Dis Harley-Davidson se beleid om kragleweri­ngsyfers te weerhou. ??
* Dis Harley-Davidson se beleid om kragleweri­ngsyfers te weerhou.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa