Weg!

Die ark land in die Kruger

-

Van nou af sal 14 Maart vir ons bekend staan as “Arkdag”. Ons was onlangs in die Krugerwild­tuin en op dié dag het dit kompleet gevoel asof Noag pas die ark se deure oopgemaak het – ons het só baie diere gesien!

Behalwe vir al die vlaktewild het ons die Groot Vyf, wildehonde, ’n jagluiperd en ’n hiëna gesien. Dit alles vóór eenuur op die S1-pad na Skukuza. Die hoogtepunt was toe twee leeumannet­jies ’n sebra bekruip. Die drama het ontvou toe een van links en die ander van regs naderkom. Die gras staan heuphoogte ná die goeie reëns, net reg vir bekruip... Die sebra tussen hulle spekvet en niksvermoe­dend aan ’t wei.

Die volgende oomblik hoor ons net “doef” en daar spring die sebra oor ’n bos – en al wat agterbly, is ’n bekaf maanhaar met sy een tand wat aan ’n velletjie hang.

Die verhoog was nie baie mooi oop nie, maar kyk links op die boonste foto – daar’s die leeu. Op die onderste foto kom wys die maanhaar sy seer bek vir ons.

PIETER EN MARIETA MARTINS, Pretoria

Die wildleweke­nner L.D. VAN ESSEN antwoord: Dis heeltemal moontlik dat die sebra die leeu se slagtand afgeskop het. Die vorm en grootte lyk reg vir ’n slagtand. Die leeu sal sonder die slagtand oorleef. Hy was gelukkig die sebra het nie sy kakebeen afgeskop nie.

Ek het al ’n leeumannet­jie gesien waar die regterkant van sy onderkaak gebreek is. Hy was baie maer, maar het steeds met ’n wyfie gepaar. Ons het nie gedink hy gaan dit nie maak nie. Ek het hom ’n paar maande later gesien, gesond en uitgevreet, met ’n skeef aangegroei­de kakebeen.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa