Op ’n drafstap
‘Vir spys en drank gee ons U dank, ons prys U naam, o Heer. Amen.”
Vir die eerste 18 jaar van my lewe was dít – met soms ’n uitsondering – die gebed wat my pa boontoe gestuur het elke keer as ons vir ’n gesinsete aangesit het. En vandag laat ’n goeie bord kos en ’n lekker glas wyn steeds my siel sing. In so ’n mate dat ek neig na “stoel” (soos my ouma sou sê) as ek nie oefen nie.
Ek het vriende, geseën met ’n vinnige metabolisme en die genetika van restio-riete, wat beweer hulle word elke dan en wan oorval deur die lus om te hardloop, maar dan gaan lê hulle op die rusbank tot die gevoel verdwyn.
Ek is ongelukkig nie so geseënd nie. Dus moet ek oefen; en aangesien fietsry nes gholf ’n rykmanssport is en die joernalistiek ’n roeping en nie ’n beroep is nie, hardloop ek. ’n Stel tekkies is nog (relatief) bekostigbaar en dis gratis om in die buitelug te hardloop.
Deesdae reis ek nêrens sonder my hardloopskoene nie. Die opwinding om ’n nuwe plek te besoek word vermenigvuldig omdat ek dit soggens te voet kan ontdek terwyl die meeste mense nog slaap. So word blitsige werksbesoeke aan Tokio, New York, Londen en Berlyn van my kosbaarste reiservarings danksy daardie uur of wat wat ek deur die geskiedkundige strate kan draf.
Tog is dit op eie bodem waar ek keer op keer in verwondering is. Ek kuier onlangs by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn. Daar’s donderweer in die lug toe ek voor sonsopkoms die R328 uit die dorp in die rigting van die Kangogrotte vat.
Ek skrik my yskoud toe ’n leeu in die donker langs my brul (ek het vergeet die pad loop verby die Cango Wildlife Ranch!) en vir ’n oomblik dink ek aan al die waarskuwings om nie weg te hardloop as jy ’n leeu in die veld raakloop nie. My hartklop bedaar en ek draf verder, in die rigting van die Swartberg wat nou elke klompie sekondes deur blitse verlig word.
Die son sit nog onder die horison, maar dit begin reeds om die donderwolke in die verte oranje te verf. Bo-op ’n heuwel gaan staan ek om die skouspel gade te slaan. Ek tel die sekondes af tussen die weerligflits en die gerammel... 1 001, 1 002, 1 003, die storm is nou ’n bietjie meer as 1 km weg. Ek ruik die reën, en dan tref die eerste vet druppels my. En ek is diep dankbaar. Dankbaar vir die reën wat in ’n tyd van droogte lafenis bied, en vir hierdie land van ons wat ’n mens dwing om asem te skep.