Vat ’n pen grens toe
Liesl de Beer het ons rubriek oor grensposmoleste op bl. 28 geskryf. Sy en haar man, Arra, het 12 jaar in Windhoek gewoon en moes gereeld die grens tussen Suid-Afrika en Namibië oorsteek.
Ons is in Namibië getroud en ons kinders, André en Elsje, is daar gebore. My man was voltyds by die land se tennisontwikkeling betrokke en dit het ons in staat gestel om baie en ver te reis. Ons woon deesdae in Pretoria, maar ons harte het in Namibië agtergebly.
My liefde vir die land het begin toe ek een jaar oud was en ons die eerste keer as gesin deur Suidwes gaan toer het. Ons vriende was mense wat daardie wêreld mak gemaak het en ons het grootgeword met wonderlike stories om kampvure en ou kombuistafels. Ons het jaarliks ons groen Kombi en sleepwa gepak en die pad gevat.
Ek onthou sterbesaaide nagte op stil paaie in die suide – met Gé Korsten, Nana Mouskouri en Heino in die kassetspeler. Al my beste kinderherinneringe speel iewers in Namibië af. Vandag woon my ouers op Uis, my broer in Swakop en ’n suster langs Etosha.
Ons reis nog steeds noord vir vakansies. My gunstelingplek in Namibië is enige plek waar ek buite onder die sterre kan slaap. Sossusvlei bekoor my heeltemal. Damaraland is my hart, om te kamp in die Ugab is vryheid. Namibië se niks wat so vol is, sit in jou.
My raad aan mense wat ’n grenspos moet trotseer: Sorg dat alles op datum en in duplikaat is. Hou alles in plastiekkoeverte. Maak lank voor jou reis seker watter dokumentasie nodig is. Vat jou eie pen saam (daar is altyd te min, veral as dit besig is).
Ontspan, wees vriendelik en onthou daardie mense sit die hele dag daar vir jou. Vat ekstra geduld saam. Laat jou kinders hulle eie vorms begin invul sodra hulle kan. So leer hulle en maak jy die reissaadjie goed nat.